Lied 419

Sections

Lirieke

1. Die kruis is kaal, die graf is leeg,
ons Heer het opgestaan,
en deur sy kerk klink bly die woord:
Hy't waarlik opgestaan!

2. Ons lewe in die Seun se lig,
lag vir die dag wat kom,
want dood en sonde heers nie meer:
Ons het verrys in Hom!

Geskiedenis

Teks 
Dit is ’n nuwe teks wat geskryf is deur Cecile Cilliers en in die Liedboek (2001) gepubliseer is. 

Anneke Cecile Cilliers (née Pretorius) (*24 Mei 1933, Franschhoek; †16 Junie 2018, Vishoek) begin haar skoolopleiding in die Paarl, waarna sy in Johannesburg na die Laerskool Jan Celliers gaan. Haar hoërskoolopleiding was op Montagu, waar sy matrikuleer. Nadat sy aanvanklik vir ’n sekretariële kursus inskryf, besef sy dat hierdie rigting nie vir haar bedoel is nie. Sy skryf gevolglik in by die UP waar sy ’n BAgraad verwerf met Afrikaans-Nederlands, Engels, Duits, Frans en Kunsgeskiedenis as vakke. Na etlike jare se verblyf op verskeie dorpe in die Noord-Kaap en die Kalahari vestig sy haar in 1961 in Linden, Johannesburg. Sy studeer verder en behaal die BA Hons-graad aan Wits en ’n MA-graad met lof aan RAU. Onder die leiding van prof FIJ van Rensburg doen sy ’n studie oor ’n gedig van NP van Wyk Louw en behaal haar doktorsgraad (DLitt et Phil) aan dieselfde universiteit met dieselfde promotor vir ’n verhandeling oor Die verhouding bron: kunswerk. In hierdie tyd gee sy vir meer as twee jaar klas in Afrikaans by die Wits-sentrum vir voortgesette studie en by die Parktown Convent, asook Afrikaanse klasse by die Argus-groep se joernalistieke skool vir kadetverslaggewers. In 1976 word sy, saam met Bridget Oppenheimer, een van die stigterslede van die organisasie Vroue vir Vrede met die doel om deur beter kontak tussen vroue van alle bevolkingsgroepe begrip vir mekaar te kweek, kommunikasie te bevorder en vir vroue ontwikkelingsgeleenthede te skep. In 1981 versoek die dagblad Beeld haar om ’n weeklikse rubriek te skryf, wat sy daarna vir ’n geruime tyd doen onder die titel BeeldDeurloop. 

Op kerkgebied is sy aktief by die Vrouediens van Suid-Transvaal en word later tot die Uitvoerende Komitee van die Vrouediens verkies met Leer en Aktuele Sake as haar opdrag. Sy is die eerste nie-predikantsvrou wat tot vise-voorsitter van die Sinodale Komitee verkies word. In 1997 word sy verkies tot leier-ouderling van die Andrew Murray-gemeente en in 1998 is sy die eerste vrou wat tot die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk verkies word. Sy lewer ook ’n stewige bydrae tot die vrouekursusse wat deur die Sentrum vir Voortgesette Teologiese Opleiding (SEVTO) aan die UP aangebied word. Sy is ook betrokke by enkele televisieprogramme. Na haar man se dood in 1995 verhuis sy in 2003 na Vishoek in die Kaap. Haar eerste publikasie is die kinderversebundel Ek wonder. Sy publiseer ook verskeie boeke met ’n Christelike inslag vir vroue waarvan Jy is veelkantig, vrou ’n voorbeeld is. Sover bekend is, is die teks van Lied 419 haar enigste kerklied. 

Melodie 
Die melodie ST FULBERT kom uit die Church hymns and tune book (1852) waar dit geset was by die teks “Now Christ our Passover is slain”. Die oorspronklike naam vir die melodie was ST LEOFRED. ST FULBERT is een van ’n aantal kerkliedmelodieë (sommige beweer meer as 1 000) wat sir Henry Gauntlett (#350) gekomponeer het. Die melodie is ingesluit in Hymns Ancient and Modern (1861) met die titel ST FULBERT. Dit is vernoem na St Fulbert van Chartres (960-1028). 

Bronne 
CDH; Knight: 8; www.litnet.co.za