Lied 416

Sections

Lirieke

1. Jesus het die dood deurbreek
waardeur alles ingeperk was,
en die grens so oorgesteek
waardeur eindigheid bewerk was.
Uit sy dood kom lewe voort,
só ontstaan 'n deurgangspoort.

2. Jesus het die dood verslaan!
So leef Hy nou by die Vader.
Hy het almal voorgegaan
wat Hy tot Hom wil vergader.
In sy woning maak Hy plek
dat sy mense in kan trek.

3. Jesus het die dood oorwin!
Hy is daarom Lewenskoning,
en sy ryk het reeds begin -
maar daar wag nog 'n bekroning.
Waar die aarde sterk na smag,
sal dán aanbreek deur sy mag.

Geskiedenis

Teks 
Dit is ’n oorspronklike teks deur JA (Jimmy) Loader (#310) wat vir die eerste maal in die Liedboek (2001) verskyn het. Dit is in 1999 in Wene geskryf. 

Melodie 
Vir meer inligting oor die melodie, JESUS, MEINE ZUVERZICHT, sien Lied 415. 

Bron 
E-poskorrespondensie met Jimmy Loader, Augustus 2015.