Lied 414

Sections

Lirieke

Teks 
“Christ the Lord is risen today” is geskryf deur Charles Wesley (#294) kort na sy bekering in 1739 en het verskyn in sy Hymns and Sacred Poems (Londen, 1740). Dit is geskryf vir die eerste erediens in die Foundry Meeting House, ’n verlate ysterfabriek wat later die eerste Wesleyaanse kapel in Londen geword het. Dit is een van die mees populêre van Wesley se kerkliedere en word wyd gebruik. Dit het aanvanklik 11 verse gehad en was getiteld “Hymn for Easter Day”.

Daar word vermoed dat die teks op ’n Paaslied uit die 14de eeu gebaseer is wat met die teks “Surrexit Christus hodie” begin. Hierdie anonieme Latynse himne kom voor in drie manuskripte in Praag, Engelberg en München onderskeidelik. Die eerste anonieme Engelse vertaling (en die melodie) verskyn in Lyra Davidica (1708): “Christ the Lord is risen today”. Die eerste strofe is oorgedra na ’n tweede uitgawe van John Arnold (1720-1792) se The Complete Psalmodist (Londen, 1749) en plaasvervangende strofes is vir strofes twee en drie gebruik. Dit is later hersien en het wyd bekend geword deur die insluiting daarvan in die Supplement van Tate en Brady se New Version of the Psalms (1816). 

Die eerste Afrikaanse verwerking is gepubliseer in Die Nuwe Halleluja (1931) as “Jesus Christus opgestaan”. Louwrens Strydom (#174) se weergawe “Juig, verlostes, juig en sing” het in Sing onder mekaar (1989) verskyn en is so oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Melodie 
EASTER HYMN (ook bekend as SALISBURY TUNE, WORGAN, ANGLIA, THE RESURRECTION en EASTER MORN) het oorspronklik verskyn in Lyra Davidica – a Collection of Divine Songs and Hymns wat deur J Walsh (Londen, 1708) gepubliseer is. Op die titelblad word daar verwys na die melodieë as “easy and tuneful”. Die boekie bevat Engelse vertalings van Duitse en Latynse liedere sowel as sommige oorspronklike werke. Dit bestaan uit 31 hymns en 25 melodieë, waarvan nege nuwe Engelse melodieë was. Dit sluit in die anonieme EASTER HYMN wat daarin bekend staan as THE RESURRECTION. Die boek is skaars en die kopie in die Bristol Museum is die enigste bekende bestaande kopie. Die melodie is aangepas deur John Arnold in sy Compleat [sic] Psalmodist (1749) tot die huidige vorm. Die melodie word soms toegeskryf aan die orrelis en komponis dr John Worgan (1724-1790) of ook aan Henry Carey (16871743). Dit is moontlik die verklaring vir die titel WORGAN soos hier bo genoem. Dit is aangepas in die Liedboek (2001). 

Bronne 
CDH; CGLB: 531-533; Colquhoun: 89-90; CWH: 185-186; HC: 171-173; HLH: 151; Knight: 100-101; PHH: 545-546; www.songsandhymns.org

Geskiedenis