Lied 411

Sections

Lirieke

1. Kom, almal, laat jul stem verrys!
Kom, laat ons die Verlosser prys.
Halleluja! Halleluja!
Die Heer laat duisternis verdwyn:
Hy is die lig wat helder skyn;
Loof die Here, gee Hom ere.
Halleluja! Halleluja! Halleluja!

2. Loof Hom wat die oorwinnaar is
oor magte van die duisternis.
Halleluja! Halleluja!
Hy gee die gawe van sy Gees,
stuur Hom om ons tot troos te wees.
Loof die Here, gee Hom ere.
Halleluja! Halleluja! Halleluja!

3. Prys almal die verrese Heer;
Hy kom op wolke eenmaal weer
Halleluja! Halleluja!
Sou son en maan en sterre swig,
God bly in ewigheid die lig.
Loof die Here, gee Hom ere.
Halleluja! Halleluja! Halleluja!

Geskiedenis

Teks 
Die teks het moontlik sy ontstaan in die vierde of vyfde eeu toe dit bekend was as die Latynse himne vir Paasoggend “Aurora lucit rutilat”. Daar word vermoed dat dit deur die kerkvader Ambrosius (#322) self geskryf is. In latere vertalings in Duits (“Lasst uns erfreuen”) en ander tale word die oorspronklike Halleluja-uitroepe behou. Daar word gemeen dat prof CGS (Con) de Villiers (#167) se weergawe, wat in Die Halleluja (1951) opgeneem is, uit Duits vertaal is. Daarenteen is die Engelse vertaling van John Neale (#320), “Light’s glittering morn bedecks the sky” (Hymnal Noted Deel 1, 1852), deur Attie van der Colf (#164) gebruik as uitgangspunt vir sy Afrikaanse teks wat in die 1978-bundel gepubliseer is. Die teks is net so oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Melodie 
Die melodie LASST UNS ERFREUEN (ook bekend as COLOGNE, EASTER SONG en EASTER HALLELUJA) het verskyn in die Ausserlesene Catholische Geistliche Gesänge (Keulen, 1623) wat uitgegee is deur Peter von Brachel. Daarin was dit die setting vir die Paashimne “Lasst uns erfrewen hertzlich sehr” – vandaar die titel van die melodie. Die melodie is na alle waarskynlikheid gebaseer op ’n vroeëre melodie, miskien ’n volkslied. Sommige geleerdes meen dat dit dalk in Straatsburg in die 16de eeu ’n oorsprong het. Dit begin met dieselfde opening as die grootse Geneefse Psalm 68, wat dalk die inspirasie vir die melodie was. Alhoewel die melodie in ’n aantal Duitse Katolieke liedboeke verskyn het gedurende die 17de eeu, het dit nooit werklik inslag gevind by die Duitse Protestante nie. Dit kom gereeld voor in Katolieke gesangboeke en is wyd verspreid in 20ste-eeuse ekumeniese gesangboeke. Die melodie tree toe tot die Engelse himnologie in The English Hymnal van 1906. Hierin is dit aangepas deur Ralph Vaughan Williams (#269). 

Bronne 
CDH; Cillié: 259; CWH: 199; HC: 174-175; HCLBW: 238-239, 538-539; Knight: 3; Malan, I:322-323; PHH: 592.