Lied 410

Sections

Lirieke

1. Ja, Jesus het verrys!
Hy breek die dood se greep,
Hy bring die lewe.
Die graf kon Hom nie hou.
Versoening is verwerf,
ons word vergewe.
Die wagte voor die graf,
die klip wat goed verseël was -
vergeefs dat mense poog
om Hom daarin te kerker.
Hy lewe, Hy lewe,
Oorwinnaar en Heilbewerker.

2. Die kruisweg moes Hy gaan
om sondaars te verseker:
God vergewe.
Die prys het Hy betaal,
sy dood en graf is waarborg van die lewe
Met lyding, dood en graf
voltooi Hy nie sy taak nie.
Hy moes die graf ontsluit -
tóé volg die vrug in oorvloed:
Ons lewe, ons lewe,
want Jesus bring lewe, oorvloed.

Geskiedenis

Teks 
“Hoe groot de vruechten zijn” is ’n Anabaptistiese Paasgesang deur Joachim Oudaen wat in 1685 gepubliseer is. George R Woodward (#364) skryf die Engelse teks “This joyful Eastertide” om te pas by die melodie VRUECHTEN (hy verwys daarna as “an old Dutch Easter Carol”) vir insluiting in sy boek Carols for Easter and Ascension (Londen, 1894). Dit is een van sy mees bekende werke. 

In 1964 skryf GG Cillié (#342) ’n Afrikaanse vertaling van die lied. Louwrens Strydom (#174) se weergawe van die Paasteks is gepubliseer in Sing onder mekaar (1989) en hierdie teks is met wysigings opgeneem in die Liedboek (2001). 

Joachim Oudaen (*7 Oktober 1628, Rijnsburg; †26 April 1692, Rotterdam), ’n Nederlandse digter wat spirituele raakpunte het met DR Camphuysen, studeer aan die Universiteit van Leiden. Hy vestig hom in Rotterdam waar hy noue bande het met die Kollegiante-groep wat gestig is deur die Remonstrante en die Mennoniete. Hy was streng anti-Katoliek en hoewel dit nie bewys kan word dat hy ’n lid van die Remonstrante-kerk was nie, het hy tog dikwels daar dienste bygewoon. Sommige van sy afstammelinge is in die Mennoniete-kerk gedoop. As skrywer van religieuse gedigte was sy belangrikste werk die beryming van die psalms. Die eerste deel hiervan het in 1680 verskyn en die tweede deel, Uitbreiding der Psalmen, volg in 1681. Die Waterlandse gemeente in Amsterdam het ’n groot deel van die psalms opgeneem in ’n nuwe gesangboek (1684) en die Waterlandse gemeente in Rotterdam het baie van sy ander religieuse liedere gesing. 

Melodie 
VRUECHTEN is ’n populêre Nederlandse melodie uit die 17de eeu wat oorspronklik geset was op die sekulêre teks “De liefde voortgebracht”. Dit word toegeskryf aan Dirk Camphuysen en is gedruk in sy Stichtelyke Rymen om te lezen of te zingen (1624). Die melodie is geset op ’n gewyde teks van Joachim Oudaen “Hoe groot de Vruechten zijn/door Christus’ dood verworven”, wat gevind kan word in Oudaen se Mennonietegesangboek, Davids Psalmen niewlyx op Rymmaat gestelt (Amsterdam, 1685) – vandaar dan ook die titel VRUECHTEN. Die melodie is ritmies aangepas in die Liedboek (2001). 

Dirk Rafaelsz Camphuysen (*c 1586, Gorinchem; †19 Julie 1626) het ’n beduidende invloed gehad op die Mennoniete se religieuse poësie. Na studies aan die Universiteit van Leiden was hy eers onderwyser in Gorinchem en later in Utrecht. Hy preek verskeie kere vir die Mennoniete in Waterland, maar word in 1617 ’n gereformeerde predikant in Vleuten (Utrecht). 

Hy is egter uit sy amp onthef in 1619 vanweë sy remonstrantse idees. Hy skuil ondermeer in Amsterdam en Norden totdat hy in 1623 toegelaat is om in Dokkum te woon. Camphuysen skryf ’n vertaling van die psalms in versvorm en ’n groot deel hiervan is opgeneem in ’n versameling van Psalms van die Mennoniete-kerk. Dit is herdruk in 1713 en 1756. Sy vierdelige Stichtelyke Rymen om te lezen of te zingen (1624) en die daaropvolgende Uytbreyding over de Psalmen des Propheten Davids beleef verskillende uitgawes. Sy toewydingspoësie was gewild in Mennoniete-kringe en die Stichtelijke Rymen was nog in gebruik in ’n paar gemeentes in Nederland aan die begin van die 19de eeu. 

Bronne 
CGLB: 1161-1163; CWH: 188; GAMEO.