Lied 408

Sections

Lirieke

1. Dit is die dag, die Heer se dag!
Die Heiland leef, oorwin die graf
verbreek sy mag verdryf die nag.

2. Die Heer verrys in môrelig.
Getroues sien sy aangesig
en bring met blydskap dié berig.

3. Halleluja. Halleluja.
Halleluja. Halleluja.
Die Heiland leef, is uit die graf!

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike Latynse teks “Resurrexit Dominus” se eerste strofe kom voor in ’n manuskrip uit Medingen (c 1380). Die teks verskyn weer in ’n manuskrip wat uit die jaar 1410 dateer. Dit is deur die Boheemse Broeders in Duits vertaal en gedruk in Ein Gesangbuch der Brüder inn Behemen und Merherrn (1544). Die lied verskyn ook in Cyriakus Spangenberg se Christlichs Gesangbüchlein (Eisleben, 1568). Laasgenoemde was ’n versameling van liedere vir die kerkjaar. Izak de Villiers (#153) het ’n nuwe teks met vyf strofes geskryf vir die 1978-bundel. Hy hersien en kort dit in tot drie strofes vir die weergawe in die Liedboek (2001). 

Cyriakus Spangenberg (*7 Junie 1528, Nordhausen, Thüringen; †7/12 Februarie 1604, Straatsburg) was die oudste seun van die hervormer Johann Spangenberg (#392). Hy word vroeg deur sy vader voorberei op verdere studie aan die Universiteit van Wittenberg. Vanaf 1542 studeer hy by Luther en woon ook by hom aan huis. Die voorbeeld van Luther het sy hele lewe beïnvloed. In 1546 gaan C Spangenberg as jong “Magister” na die Gymnasium in Eisleben waar sy vader as predikant en superintendent van die graafskap Mansfeld werksaam was. Na sy vader se afsterwe in 1550 neem Cyriakus by hom oor as predikant in Eisleben, hofprediker in Mansfeld en dekaan van die graafskap. Vanweë sy sterk Lutherse oortuigings moet hy Mansfeld egter verlaat in 1574. Hy bring drie jaar deur in Thüringen met geldelike ondersteuning van graaf Volrad von Mansfeld. In 1577 word hy uit Duitsland verban en vind toevlug in Straatsburg. Hy betreur die feit dat Luther se leer verwaarloos word en vind troos in laasgenoemde se berymde psalms. Self gee hy die Ganzen Psalter Davids (1582) uit. In sy skooldramas, gebaseer op Nuwe Testamentiese verhale, kom sy strewe na verstaanbare prediking en volksagtige sang duidelik na vore. Hy word later aangestel as predikant in Schlitz (Ober-Hesse), maar ook hier veroorsaak dogmatiese verskille dat hy weer moet verhuis – hierdie keer na Vacha an der Werra. Hy keer later terug na Straatsburg waar hy oorlede is. 

Melodie 
Die anonieme melodie WIR WOLLEN ALLE FRÖHLICH SEIN kom voor in ’n manuskrip wat bewaar word in die Zisterzienser-klooster in die omgewing van Lüneburg (Hohenfurt, 1410) en word gepubliseer met die Duitse vertaling van die teks in Ein Gesangbuch der Brüder inn Behemen und Merherrn, (Nürnberg, 1544), ’n gesangboek van die Boheemse Broeders. Dit is ook opgeneem in Johannes Keuchental (15221583) se Cantional (Wittenberg, 1573). 

Bronne 
Cillié: 256-257; Hymnary.org; KLEG: 122, 303-304; www.liederdatenbank.de