Lied 403

Vers 1

1. Christus het opgestaan,
Hy het uit die graf gegaan.
Ja waarlik, Hy het opgestaan,
loof die Vader, prys sy Naam.
Halleluja!
(Kyrieleis)

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Beiere / Oostenryk E12 – E15; Louwrens Strydom 2001 (postuum)
Christ ist erstanden – Salzburg 1160 / 1433; Tegernsee E15; Wittenberg 1529
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks 
Hierdie Paaslied word beskryf as een van die beste verwerkings van ’n Katolieke kerklied in Duits. Die oorspronklike Latynse sekwens “Victimae paschali laudes” dateer uit 1100 en die oorspronklike slotfrase “Kyrie eleison” (“Kyrieleis”) word vervang met Halleluja-uitroepe. Dit was reeds teen die 13de eeu wyd verspreid in Duitsland en Oostenryk en sedert 1418 kom dit as standaarditem voor in die Katolieke Paasliturgie in Duitssprekende provinsies soos Beiere. Ongeveer 17 verskillende weergawes uit die 15de eeu word gevind. Dit is ook uitgevoer gedurende die Mis, gewyde dramas en passiespele. Die oudste gedrukte weergawe van die Duitse teks kom voor in Peter Schöffer (c 1475/1480-1547) se Lieder Buch (Mainz, 1513): “Christ ist erstanden”. Luther het die lied hoog aangeslaan en self ’n omdigting gemaak wat in 1524 in Eyn Enchiridion (Erfurt) verskyn het. In Klug se Geistliche Lieder auffs new gebessert (Wittenberg, 1529) verskyn Luther se weergawe met drie strofes. 

Die Nederlandse teks van hierdie Paaslied is later gepubliseer in Dit is een schoon suyverlijck boecxken wat sonder jaartal (maar na 1570) verskyn het by Cornelis Claesz te Amsterdam. 

Die eerste Afrikaanse teks is geskryf deur Izak de Villiers (#153) vir die 1978-bundel. Die twee strofes in die Liedboek (2001) is geskep deur Louwrens Strydom (#174) en postuum gepubliseer. 

Melodie 
CHRIST IST ERSTANDEN is een van die oudste liturgiese liedere in Duits. Die melodietitel is afgelei van die eerste frase van die Duitse teks soos vroeër bespreek. Die melodie is afgelei van ’n Middeleeuse Paassekwens, “Victimae paschali laudes”, wat toegeskryf word aan die monnik Wipo van Boergondië (c 990 tot c 1048). Die eerste strofe is reeds gesing in ongeveer 1100 in Wenen. Die oudste bron vir die melodie is die Liber Ordinarius des Mengotus (c 1150) – liturgiese voorskrifte vir alle dae van die kerkjaar wat tans in die Oostenrykse Nasionale Biblioteek in Wene (1482) bewaar word. Hiervolgens word dit gesing by die liturgiese moment van die verheerliking van die kruis op Goeie Vrydag. Die lied word ook vermeld in die Liber Ordinarius (c 1150) 

– in ’n liturgiese orde van die biskopdom van Salzburg. Hierdie manuskrip is tans in die Universiteitsbiblioteek in Salzburg (Codex M II 6). Gedurende die 14de eeu is die lied afwisselend in Latyns of Duits gesing. In die Glogauer Liederbuch (1480) kom drie weergawes van die lied voor, wat kan dui op die gewildheid daarvan. Van die talryke 15de-eeuse notasies van die melodie word twee gevind in manuskripte in München (Codex Germ 716) en Trier. Albei hierdie kopieë bevat slegs een strofe met die toegevoegde “Halleluja”. Daar is ook ’n afskrif in die Apel Codex (c 1500). Die driestrofige weergawe van Luther is gepubliseer in 1529 en ’n driestemmige weergawe in Johann Klug se Geistliche lieder auffs new gebessert (Wittenberg, 1529 en 1533). 

Bronne 
CGLB: 524-527; CWH: 171-172; HC: 182-183; HCLBW: 234; LEG: 55-57; PHH: 566-567; www.liederlexikon.de