Lied 401

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Wie sal ons glo as ons vertel
wat God se Kneg moes ly.
Verag en deur sy volk verstoot
moes Hy die doodstryd stry.

2. Die Man van lyding ken die pyn,
deur God en mens verstoot.
Vir ons oortredings hang Hy daar -
ons straf kos Hóm die dood.

3. Deurboor, verbrysel en geslaan -
dra Hy ons sondeskuld.
Hy neem ons lyding op Homself
in stilte, met geduld.

4. Ja, Jesus Christus, Lam van God,
U is vir ons geslag.
U diepe lyding maak ons vry
van skuld- en sondemag.

Geskiedenis

Teks 
Jacques Louw (#284) se teks “Wie sal ons glo as ons vertel” wat vir die eerste keer in die Liedboek (2001) gepubliseer is, is gebaseer op Jesaja 53. 

Melodie 
Die melodie HORSLEY deur William Horsley kom uit sy Twentyfour Psalm Tunes and Eight Chants (1844). Die melodie is later vernoem na die komponis, maar in die Twentyfour Psalm Tunes het dit nog nie ’n naam gehad nie. Die titel HORSLEY is daaraan toegeken met die publikasie daarvan in die Appendix tot die eerste uitgawe van Hymns Ancient and Modern (1868). 

William Horsley (*15 November 1774, Londen; †12 Junie 1858, Kensington, Lon-den) ontvang klavieronderrig van T Smith en onderrig in orrel en komposisie by JW Calcott (1766-1821). In 1794 word hy aangestel as die orrelis van Ely Chapel, Holborn. Hy word assistent van Calcott as orrelis van die Asylum for Female Orphans in 1798. Hy verwerf ’n BMus-graad aan Oxford in 1800. In 1802 volg hy Calcott op as orrelis van die Asylum. In 1812 word hy orrelis van die Belgrave Chapel, Grosvenor Place en in 1830 van Charterhouse in Londen. Horsley was ’n intieme vriend van Mendelssohn en een van die stigters van die Philharmonic Society in 1813. In 1820 publiseer hy A Collection of Hymns & Psalm Tunes, sung in the Chapel of the Asylum for Female Orphans. In 1834 is hy ook betrokke by die stigting van die Society of British Musicians. Hy was ’n produktiewe komponis, maar konsentreer hoofsaaklik op vokale musiek. Hy was meer bekend vir sy “glees” en as sanger van vrolike liedjies as vir sy kerkliedere. 

Horsley skryf enkele boeke oor musiekteorie, redigeer Vocal harmony in sewe volumes (1830) en gee ook die Collection of Psalm tunes (twee volumes: 1828, 1840) uit. Hierdie bundels bevat uitgebreide begeleidings en tussenspele vir orrel. Hierna publiseer hy ook Twenty Four Psalm Tunes and Chants (1844), wat die melodie, HORSLEY, bevat het. Sy bydrae tot die himnologie sluit onder meer in ses melodieë wat hy in opdrag van Benjamin Jacobs (1778-1829) geskryf het vir National Psalmody (1817). Een hiervan, BELGRAVE, vernoem na die kapel waar hy orrelis was, word vandag nog in moderne liedboeke aangetref. 

Bronne 
CDH; HCHAM: 677; HLH: 123-124, 157; Hymnary.org; Knight: 99-100.