Lied 399

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Aan die tafel met die Paasmaal,
breek die Here self die brood:
Dis my liggaam, dis vir julle;
dink aan My en aan my dood.
Drink nou almal uit die beker,
dis my bloed wat vryspraak bring.
So verkondig jul my sterwe,
so sal redding wyer kring.

2. In die tuin aan die Olyfberg
het die Heer beangs gaan bid
en geworstel met sy Vader
tot sy sweet soos bloed bly drup:
Vader, neem die lydensbeker,
neem dit tog by My verby!
Tog geskied u wil, o Vader!
My verraaier is naby.

3. Met 'n soen word Jesus Christus
deur 'n volgeling verraai;
nog 'n volgeling verloën Hom
voor die haan se derde kraai.
Sonder volgeling of vriende
is die Heer alleen diÈ nag.
In die steek gelaat moes Jesus
op sy kruis, sy sterwe wag.

4. Na 'n nag van ondervraging,
na 'n nag van gÈseling
word die Heer ter dood veroordeel,
word Hy na die kruis gebring.
Met die spykers, met die slae,
deur die marteling, die spot,
wys die diepte van die liefde
van ons Here, van ons God.

5. In die pyn, daar aan die kruishout,
klink sy woorde, sewe keer -
woorde van vergifnis, liefde,
en aanvaarding deur die Heer;
ook die woorde van alleenheid
en die uitroep: "Ek het dors!"
"Dis volbring", "Ek gee my gees oor"
en sy hoof sak op sy bors.

Geskiedenis

Teks 
Die “Lied oor die laaste nag van Jesus” is ’n nuwe gedig van Hannes van der Merwe (#219) wat gepubliseer is in die Liedboek (2001). 

Melodie 
Die melodie BLAENWERN is geskryf deur William Rowlands tydens die Walliese herlewing van 1904-1905. Dit is vir die eerste keer gepubliseer in Henry H Jones se Cân a Moliant: Ilyfr tonau ac emynau (1915). Die melodie het in populariteit toegeneem toe dr Billy Graham dit in baie lande bekend gestel het gedurende sy evangelisasieveldtogte. Die melodietitel kom van die naam van ’n plaas, Blaenwern, aan die hange van die Precally Mountain naby Tufton waar die komponis se seun van ’n ernstige siekte herstel het. 

William Penfro Rowlands (*19 April 1860, Maenclochog, Pembrokeshire, Wallis; †22 Oktober 1937, Swansea, Glamorganshire, Wallis) was ’n onderwyser en kerkmusikus en dirigent van die welbekende Morriston United Choral Society. In 1892-1919 was hy die musiekdirekteur van die Tabernacl (Walliese spelling) van die Congregational Church in Treforys. Hy was ook die direkteur van die Morriston Orpheuskoor, een van die bekendste mannekore in die wêreld. Onder sy leiding presteer die koor suksesvol by kompetisies (“eisteddfodau”). Rowlands was ook in aanvraag as beoordelaar by kompetisies en dirigent by verskeie Hymn Festivals. Die meeste van sy komposisies was “hymns” en “anthems”, maar die bekendste van die melodieë is BLAENWERN. 

Bronne 
CDH; HC: 494-495; Knight: 215; PHH: 576.