Lied 398

Vers 1

Kyk daar,
kyk die Lam van God,
wat die wêreldsonde dra.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Afrikaanse weergawe Elsabé Kloppers 2001 ©
Siehe, das ist Gottes Lamm – Rolf Schweizer 1976 (Kanon 2-6 stemme) © Strube Verlag, München, Duitsland. Met toestemming gebruik (teks en melodie). JOHANNES 1 : 29
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks 
Die Afrikaanse weergawe van die teks in die Liedboek (2001) is geskryf deur Elsabé Kloppers (#154) en op Johannes 1:29 gegrond. 

Melodie 
Die sesstemmige kanon SIEHE, DAS IST GOTTES LAMM is geskryf deur Rolf Schweizer in 1972. 

Rolf Schweizer (*14 Maart 1936, Emmendingen; †6 Junie 2016, Selb) is reeds tydens sy opleiding as kuiper (die beroep van sy vader) deur die kantor van die plaaslike kerk, Isolde Kölsch, voorberei op studies in kerkmusiek. Vanaf 1953 studeer hy aan die Evangelisch Kirchenmusikalische Institut in Heidelberg. Hier word hy onderrig deur HM Poppen, H Haag, W Fortner, W Dallmann en HW Zimmerman – almal belangrike figure in die 20ste-eeuse evangeliese kerkmusiek in Duitsland. Hy sluit sy studies af met ’n B-diploma in kerkmusiek in 1956 en dien vir die volgende tien jaar as kantor van die Johanneskerk en kantor vir die jeug in Mannheim. Naas sy verpligtinge as kantor sit hy sy kerkmusiekstudies in Heidelberg voort en lê in 1963 die A-diploma in kerkmusiek af. In 1966 aanvaar hy ’n pos as kantor in die gemeente van Pforzheim en word ook tot streekskantor benoem. In 1975 word hy as Landeskantor van Mittelbaden aangestel, maar hy bly woon in Pforzheim. Deur die aanbieding van lesings en kursusse vir kinder-en jeugkoorleiding in Heidelberg en elders werk Schweizer ook buite streeksverband as kampvegter vir veelsydige kerkmusiek wat na aan die gemeente is. Hy beywer hom veral vir kinder- en jeugmusiek en lewer op verskeie forums bydraes tot meningsvorming oor die grondliggende vrae en aspekte van die kerkmusiek. Met sy charismatiese persoonlikheid en goeie kommunikasievaardighede word hy deur baie gereken as een van die leiersfigure van die Duitse kerkmusiek in die tweede helfte van die 20ste eeu. Schweizer verstaan musiek as die spraakvorm van geloof en glo daaraan dat die musiek die liggaam, gees en siel van die gelowige moet binnedring. Hy laat sien talle publikasies die lig ten einde hierdie gedagtes te help bevorder. Schweizer was ook deel van die Neues Geistliches Lied-beweging in Duitsland en skryf sedert die sestigerjare nuwe geestelike liedere wat wyd inslag vind in gemeentes. Die liedere is veral gerig op die ontwikkeling van kindermusiek. Vir die jeug skryf hy verskeie liedere met ’n sterk ritmiese inslag wat aansluit by die populêre musieksmaak van die sestigerjare, veral jazz. Hierin staan die ritmiese elemente steeds in diens van die teksdeklamasie. Hy bevorder ook meerstemmige sang deur die daarstelling van kanons soos “Siehe, das ist Gottes Lamm” wat twee tot sesstemmig is. Sy komposisies sluit ook in stukke vir blaser- (Posaunen-) en kinderkore, groter koor-, orkes- en orrelwerke. Beduidend is veral sy Laudes creaturum (1993) en die Requiem für Tote und Lebende (1995). 

Bronne 
KLEG: 293-295; www.ekiba.de

© Missio 2024 | All rights reserved.