Lied 392

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

O Lam van God, onskuldig,
wat vir ons skuld geslag is;
lankmoedig en geduldig,
hoe diep U ook verag is
U wou ons sondelas kom dra,
dit was Gods welbehae!
Ontferm U oor ons, Jesus.
Gee U ons vrede, Jesus.

Geskiedenis

Teks 
Die Agnus Dei is deel van die misordinarium en kom waarskynlik al voor in die vyfde eeu. Nikolaus Decius het in 1522 ’n Duitse vertaling van drie dele uit die mis gemaak, naamlik die Gloria, Sanctus en Agnus Dei. Laasgenoemde het die lied “O Lamm Gottes, unschuldig” geword. Eerwaarde J Baumbach (#153) het in 1934 ’n Afrikaanse weergawe gemaak vir sy boek, Cantate, wat bedoel was vir gebruik deur die Berlynse Sendinggenootskap. Izak de Villiers (#153) en André Hugo (#282) het die teks vertaal vir die 1978-bundel en dit ingekort tot een strofe. Hierdie weergawe is onveranderd in die Liedboek (2001) opgeneem. 

Melodie 
Die melodie O LAMM GOTTES, UNSCHULDIG is ’n aanpassing wat Nikolaus Decius in 1522 gemaak het van ’n gelyksangmelodie uit ’n Agnus Dei-toonsetting uit die 13de eeu. Die melodie kom voor in die responsorium “Regnum mundi”. Decius omvorm dit tot ’n melodie wat vir volkssang geskik is en dit is vir die eerste keer gepubliseer in Anton Cornivus se Christeliche KirchenOrdnung (1542). Johann Spangenberg teken in 1545 ’n vorm van die melodie op wat aansluiting vind by die melodie in die Liedboek (2001). Die oorspronklike gelyksang kan gevind word in die negende Mis “Cum jubilo” vir die fees van die heilige Maagd in die Liber Usualis (Tournai, 1963). 

Nikolaus Decius (Nicolaus à Curia, von Hofe of Hovesch) (*c 1485, Hof an der Saale, Bavarië; †21 Maart 1541/1546, Mühlhausen) studeer aan die Universiteit van Leipzig vanaf 1501 waar hy in 1506 ’n BA- en later ook ’n MA-graad in die regte ontvang. Hierna word hy ’n monnik, maar dit is nie bekend waar nie – moontlik die Franciskaanse Klooster in Hof an der Saale, waar sy broer kloosterhoof was. In 1515 gaan hy na Braunschweig waar hy Platduits leer en in 1519 word hy die ab van die Benediktynse nonneklooster in Steterburg naby Wolfenbüttel. Hy raak vertroud met die geskrifte van Luther en publiseer sy Summula doctrinarium Jhesu Christi ex Codice Matthei (Braunschweig, 1521) wat seleksies bevat uit die Evangelie van Matteus, werke van Latynse skrywers en Duitse volksdigkuns. Hy dien vir ’n kort rukkie as hoof van die Lyceum in Hanover in 1522. Hierna keer hy terug na Braunschweig waar hy ’n onderwyser word aan die St Katherine en Egidien-skool. Teen hierdie tyd was dié stad reeds deel van die Reformasie. Decius publiseer in dieselfde jaar ook plaasvervangende tekste in Platduits vir die Gloria in excelsis (“Aleyne God yn der Höge sy eere”), Sanctus (“Hyllich ys Godt de vader”) en die Agnus Dei (“O Lam Godes unschüldich”). Hierdie liedere het Luther se Duitse vertaling van die misordinarium met een jaar voorafgegaan. In 1523 doen Decius aansoek om aan die Universiteit in Wittenberg in die Reformatoriese teologie te studeer. Luther beveel hom aan as assistent vir pastor Paulus von Rhode van die St Nicholaskerk in Stettin waar hy bly van 1524 tot 1527. In 1532 was hy assistentpastor in Liebstadt, maar word twee jaar later gedwing om weg te gaan weens sy gereformeerde oortuigings. Hy gaan na Mühlhausen naby Elbing waar Nederlandse godsdienstige vlugtelinge was met wie hy gesimpatiseer het. As ’n vaardige harpspeler word hy aangestel as kantor in Bartenstein, suid van Königsberg, en as onderwyser van die Latynse skool in die dorpie. In 1540 word hy deur die Markgraaf Albrecht genooi om assistentkantor te word in Königsberg waar Johann Kugelmann (1495-1542) kantor was. In 1543 keer Decius terug na Mühlhausen en hierna bestaan daar geen rekords meer van hom nie. Sy vertalings van die drie himnes van die misliturgie, soos hier bo genoem, is gepubliseer in Platduits in Geystlyke Leder (Rostock, 1531) en in Hoogduits in Valentin Schumann se Geistliche Lieder, auffs new gebessert und gemehrt (Leipzig, 1539). 

Johann Spangenberg (*29 Maart 1484, Hardegsen; †13 Junie 1550, Eisleben) was predikant in Stolberg, sy geboorteplek Hardegsen en Nordhauzen in Harz. Hy was ’n agtergrondfiguur tydens die Reformasie en het veral ’n belangrike bydrae gelewer rakende die onderwys. Met die oog op die jeug publiseer hy in 1543 die Alte und Neue geistliche Lieder und Lobgeseng. Op aanbeveling van onder andere Luther word hy in 1546 die hoof-superintendent van kerk- en skoolsake in Eisleben. Hy lewer verdere bydraes tot die Duitse kerkliedskat deur die publikasie van gesangboeke wat insluit 12 Christliche Lobgesängen und Leisen van 1545. In dieselfde jaar word Cantiones ecclesiaticae latinae … Kirchengesenge Deudtsch in Magdeburg gepubliseer. 

Bronne 
CGLB: 476-481; Cillié: 227-228; HC: 161; HCLBW: 210-211; KLEG: 73-74; NDB; WIWIG: 73-74.