Lied 380

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Jesus, Lam gelei ter slagting,
U oorwin vir ons die dood.
Jesus, prooi van ons veragting,
U dra self ons angs en nood;
drink die beker van verraad,
word deur mens en God verlaat.
Duisend, duisend maal, o Heer,
bring ons daarvoor dank en eer!

2. Koning tot 'n spot geteken
met 'n riet en doringkroon;
by die moordenaars gereken
met veragting, smaad en hoon,
sodat Ûns mag vryspraak vra
en die kroon van eer kan dra.
Duisend, duisend maal, o Heer,
bring ons daarvoor dank en eer!

Geskiedenis

Teks 
Ernst Homburg het in 1658 die oorspronklike Duitse teks “Jesu, meines Lebens Leben” geskryf en in die eerste deel van sy Geistliche Lieder (Jena, 1659) uitgegee. Homburg, wat die meeste van sy geestelike liedere vir eie gebruik geskryf het, het hierdie lied beskryf as ’n “lied van danksegging aan sy Verlosser en Redder na sy bittere lyding”. 

WJB Serfontein (#155) het die Afrikaanse weergawe wat in die 1978-bundel gepubliseer is, geskryf. Dit is so oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Ernst Christoph Homburg (*1 Maart 1607, Mihla, Eisenach; †27 Junie 1681, Naumburg) studeer vanaf 1632 in die regte in Wittenberg. Na enkele reise deur die Nederlande en ’n kort verblyf in Hamburg, Dresden en Jena vestig hy hom in 1642 as regsgeleerde in Naumburg in Sakse. Huislike probleme as gevolg van die siekte van hom en sy vrou laat hom tot bekering kom. Hy was ’n hoogaangeskrewe sekulêre digter in sy jong dae en in 1648 word hy ’n lid van die “Fruchtbringenden Gesellschaft”. Hy word later ook ’n lid van die “Schwanenorde”, wat in 1660 deur Johann Rist gestig is. In sy digkuns is hy sterk beïnvloed deur Johann Franck (#296). Na sy bekering skryf hy ook geestelike liedere wat in Ernst Christoph Homburgs geistliche Lieder verskyn het. Hy het byna 150 liedere geskryf wat hoofsaaklik bedoel was vir sy privaat gebruik ten einde sy geloof en vertroue te versterk. Dit is gepubliseer in twee dele in Jena in 1659 as Geistliche Lieder. “Jesu, meines Lebens Leben” het in die eerste deel verskyn en bevat die gegraveerde opskrif: Naumburg, 1658. 

Melodie 
Die melodie JESU, MEINES LEBENS LEBEN is geskryf deur Wolfgang Wessnitzer in 1661. Dit is oorspronklik gebruik met die teks “Alle Menschen müssen sterben” van JG Albinus en het so verskyn in Das grosse Cantional: oder KirchenGesangbuch (Darmstadt, 1687). Dit is later verbind met die teks van Homburg in ’n Anhang, an das Gothaische Cantional (1726). 

Oor Wolfgang Wessnitzer (*gedoop 27 Augustus 1629, Nürnberg; †30 April 1697, Celle) se vroeë lewe is daar min bekend. Daar verskyn wel ’n melodie van hom in die New Ordentlich Gesangbuch (Wolfenbüttel, 1646). Ook in die Hanover-gesangboeke van 1648 en 1652 kom daar melodieë van hom voor. In 1654 word hy aangestel as orrelis van die Weeshuiskerk in Hamburg en in 1658 as orrelis aan die hof van Celle deur hertog Christian Ludwig. Tegelykertyd word hy ook benoem as musiekredakteur van die CelleLüneburgisches Gesangbuch wat toe in wording was. Hy versorg daarvan die uitgawes van 1661 en 1696 en lewer 67 melodieë daarvoor. Net sy melodie JESU, MEINES LEBENS LEBEN, in verbinding met die teks van Homburg, het bekend gebly.

Bronne 
CGLB: 455-459; Cillié: 224-225; CWH: 141; HCLBW: 196-197; PHH: 527-528; www.liederdatenbank.de; Zahn: #6779a.