Lied 378

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Jesus Christus, Heiland, Heer,
Man van smart en lyding,
U daal van die hemel neer,
sterf vir ons bevryding.
In die gees sien ons u kruis
buitekant die mure
Eensaam ly U, wreed verguis
in die droewe ure.

2. In geloof wil ons oordink
al die spot en laster!
Hamerhoue wat weerklink,
Spyker u al vaster!
Om ons te bevry, verlos,
sterf U pynlik, stadig.
Ons skuld het u dood gekos.
U was ons genadig.

3. Jesus, ek moet ook my kruis
opneem al my dae;
U volg na die Vaderhuis
met my vrees en vrae.
Help my, Heer, versterk my wil,
rig my swakke treë
Help my hier my taak vervul,
rig my op u weë.

Geskiedenis

Teks 
“Christus, der uns selig macht” is ’n Duitse vertaling van die 14de-eeuse Latynse himne “Patris sapienta, veritas divina” wat gebruik is vir die Canonical Hours van Goeie Vrydag. Die vertaling van die oorspronklike teks van Egidio van Colonna is gedoen deur Michael Weisse en het in 1531 verskyn in Ein New Gesengbuchlein van die Boheemse Broeders. 

Izak de Villiers (#153) het die teks in Afrikaans vertaal as “Jesus Christus, Heiland, Heer” vir die 1978-bundel. Dit is met geringe wysigings in die derde strofe opgeneem in die Liedboek (2001). 

Egidio van Colonna (Giles van Rome; Aegidius Romanus) (*c 1247, Rome; †22 Desember 1316, Avignon) sluit aan by die Orde van die Kluisenaars van die heilige Augustinus in Rome en word toe na Parys gestuur om in filosofie en teologie te studeer. Hier word hy ’n volgeling van Thomas Aquinas (c 1225-1274). Hy was die eerste Augustyn wat aangestel is om onderrig te gee aan die Universiteit van Parys. Hy verkry mettertyd die titel Doctor fundatissimus. Nadat hy verskeie belangrike poste in sy Orde beklee het, word hy in 1292 verkies tot “superior-general”. Drie jaar later word hy aangestel as aartsbiskop van Bourges in Frankryk deur pous Boniface VIII. Hy was ook teenwoordig tydens die Raad van Wene (1311-1312) waar die Orde van die Knights Templars onderdruk is. Die geskrifte van Egidio dek ’n wye veld van filosofie en teologie met Bybelse kommentare en kommentare op die werk van Aristoteles. 

Michael Weisse (Weiss) (*c 1488, Neisse, Silesië; †Maart 1534, Landskron) se vroeë lewe is onbekend. In 1504 duik sy naam op in die rekords van die Universiteit van Krakow. Later is hy ’n monnik in Breslau en word hy ook as priester ingeseën. In 1518 verlaat hy die klooster om aan te sluit by die Boheemse Broederskap in Litomysl. Hy word in 1522 die leier van die Duitssprekende Broederskapgemeentes in Landskron (Boheme) en Fulnek (Morawië). In 1531 word hy bevestig as priester van dié gemeenskap. Saam met Johann Horn (of Roh) onderneem Weisse in 1524 ’n reis na Wittenberg in opdrag van die biskop Lukas, met die doel om hulle te vergewis van die leer en lewenspraktyk in Luther se omgewing. So maak hulle ook die eerste bloeitydperk van die Reformatoriese kerklied mee. Dit het ’n besondere inspirerende invloed op Weisse en Horn gehad. Saam versorg hulle die uitgawe van Ein New Gesengbüchlein (Jungbunzlau, 1531) wat die eerste gesangeboek van die Duitse Broeders was. Die bron van hierdie boek kan moontlik die Kantional (1519) wees wat die gemeente in Landskron gebruik het. In die 1531-gesangboek was daar 157 liedere waarvan Weiss vermoedelik 137 self verwerk, vertaal of nuut geskryf het. Opvallend is die groot aantal Middeleeuse liedere wat in hierdie bundel opgeneem is. Dit sluit in Hymni, leisen, antifone en trope. Die vertaling van die himne “Patris Sapienta, veritas divina” as “Christus, der uns selig macht” is een voorbeeld hiervan. Dit is nie seker hoe groot die aandeel van Weisse aan die liedere was nie. 

Melodie 
Die melodie CHRISTUS, DER UNS SELIG MACHT kom waarskynlik reeds uit die 14de eeu, maar die komponis is onbekend. Dit het skynbaar verskyn in ’n Gesangbuch (1501) van die Boheemse Broeders, waarvan slegs een kopie oorgelewer is en in die Boheemse Museum in Praag bewaar word. Die melodie was moontlik ook gedruk in ’n Brüdergesangbuch van 1519, maar geen kopie van hierdie publikasie het behoue gebly nie. Vanaf 1531 met die publikasie daarvan in Ein New Gesengbüchlein (Jungbunzlau, 1531), ook ’n gesangboek vir die Boheemse Broeders, verskyn dit in verskeie Duitse gesangboeke. 

Bronne 
Cillié: 223; CGLK: 1080-1082; Evers: 175; KLEG: 342-343; Müller: 1-9; www.liederdatenbank.de; www.newadvent.org