Lied 376

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Wyses het u ster gesien,
self gegaan om U te dien.
Aan U het hul eer betuig;
by die krip hul neergebuig.
U, ons ster, ons lig, o Heer,
maak ons wys, laat ons U eer.

2. Jesus, U aan God gelyk,
U kom na die menseryk.
U, die Heer, het niks ontsien -
U word kneg, U kom ons dien.
Gee aan ons dieselfde gees
om tot diens bereid te wees.

Geskiedenis

Teks 
Hierdie lied van William Dix vir Epifanie, “As with gladness men of old”, is geïnspireer deur die gebeure rondom die sterrekykers in die Bybel (Matt 2:1-11). Volgens die skrywer is dit geskryf tydens ’n siekte in ongeveer 1860. Die lied was reeds ingesluit in die proefbundel vir Hymns Ancient and Modern (1859). Hierna is dit gedruk in Arthur Hawkins Ward se Hymns for Public Worship and Private Devotion (Bristol, 1860). Die lied verskyn ook in Dix se eie bundel getiteld Hymns of Love and Joy (1861) en in Hymns Ancient and Modern (1861). Dit word in ’n gewysigde vorm (met toestemming van die outeur) gedruk in Hymns Ancient and Modern (1875). 

Die Afrikaanse weergawe in die Liedboek (2001) is geskryf deur Andries Breytenbach (#151). 

William Chatterton Dix (*14 Junie 1837, Bristol; †9 September 1898, Cheddar, Somerset) was die seun van ’n sjirurg in Bristol. Hy ontvang sy opvoeding aan die Bristol Grammer School en betree daarna die besigheidswêreld as bestuurder van ’n maritieme versekeringsmaatskappy. Hy was ook ’n talentvolle skrywer en publiseer verskeie boeke waarin sy liedtekste opgeneem is en lewer sodoende ’n goeie bydrae tot die Engelse himnodie. Dit sluit in Hymns of Love and Joy (1861), Altar Songs, Verses on the Holy Eucharist (1867), Vision of all the Saints (1871) en Seekers of a City (1878). Dix was ’n toegewyde Anglikaan in die High Church-tradisie. Hy het oor besondere digterlike gawes beskik en van sy ander bekende kerkliedere is “Alleluia! Sing to Jesus”, “To thee, O Lord, our hearts we raise” en “What child is this”. 

Melodie 
’n Vroeë vorm van DIX is gekomponeer deur Conrad Kocher en oorspronklik gepubliseer in sy Stimmen aus dem Reiche Gottes (Stuttgart, 1838) waar dit die setting was vir Christian Heinrich Zeller (1779-1860) se teks “Treuer Heiland! Wir sind hier”. Die melodie word ook genoem TREUER HEILAND en is so gepubliseer in Kocher se Zionsharfe (1855). Toe die lied ingesluit is in Hymns Ancient and Modern (1861) (met die teks “As with gladness”) het dit sy huidige vorm verkry aan die hand van William H Monk. Monk was die musiekredakteur van die bundel. Hierin was dit geset op Dix se teks en het die titel DIX gekry. Die oorspronklike sewe reëls van die melodie is deur Monk saamgevoeg tot ses. Dix was teleurgestel met die gebruik van die ingekorte melodie van Kocher: “I dislike it, but now nothing will displace it”. 

Conrad Kocher (*16 Desember 1786, Ditzingen, Württemberg; †3 Desember 1872, Stuttgart) is opgelei as ’n onderwyser en gaan op 17-jarige ouderdom na St Petersburg as privaat onderwyser. Hy besluit egter om na ’n musiekloopbaan oor te skakel. Hy was baie onder die indruk van die musiek van Haydn en Mozart. Met sy terugkeer na Duitsland in 1811 vestig hy hom in Stuttgart waar hy die grootste deel van sy lewe deurbring. Die vername musiekfirma, Cotta, publiseer van sy vroeë komposisies en stuur hom na Italië vir verdere musiekstudies. Hy kom daar veral in aanraking met die musiek van GP Palestrina (c 1525-1594). Met sy terugkeer na Stuttgart stig hy in 1821 ’n skool vir kerkmusiek en word aangestel as orrelis van die Stiftskirche (18271865). Kocher skryf ook ’n verhandeling oor kerkmusiek, Die Tonkunst in der Kirche (1823), en het ’n groot aantal kerkliedere versamel in sy Zionsharfe (1855). Hy skryf ook ’n oratorium, verskeie operas en enkele sonates. Hy was veral baie entoesiasties oor kerkmusiek en speel ’n belangrike rol in die vroeg 19de-eeuse hervorming van Duitse kerkmusiek, veral ten opsigte van die bevordering van vierstemmige sang. Hy het ’n hele paar kerkliedmelodieë geskryf, maar net DIX word vandag nog algemeen gebruik. 

William Henry Monk (*16 Maart 1823, Londen; †1 Maart 1889, Stoke Newington, Londen) het onderrig ontvang van Thomas Adams, JA Hamilton en GA Griesbach. Hy was orrelis in verskeie kerke in Londen: St Peter’s, Eaton Square (1841-1843); St George’s Chapel, Albermarle Street (1843-1845); St Paul’s, Portman Square (18451847); en St Matthias, Stoke Newington (1852-1889). Hiernaas is hy ook aangestel as koormeester (1847), orrelis (1849) en professor in vokale musiek (1874) aan King’s College, Londen. Hy was ook professor in musiek aan die School for the Indigent Blind (1851). Hy word later aangestel as professor van vokale musiek aan die National Training School for Music (1876) en professor in harmonie en vokale musiek aan Bedford College (1878-1882). Monk gee talle lesings in Brittanje, onder meer in Londen, Manchester en Edinburgh. Hy was ook eksterne eksaminator vir grade aan Oxford University. Hy ontvang ’n eredoktorsgraad in musiek van die Durham- Universiteit in 1882. 

Een van Monk se eerste melodieë, MERTON, is gepubliseer in The Parish Choir in 1851 waarvan hy die redakteur was. Vanaf 1859 was sy loopbaan as komponis en redakteur nou verweef met die voorbereiding van Hymns Ancient and Modern, waarvan hy die titel voorgestel het aan sir Henry Baker (1821-1877). Baker was die dryfkrag agter die samestelling van dié bundel. Monk was ook die musiekredakteur van die uitgawes van 1861 en 1875 sowel as die Appendix van 1868. In die geheel dra hy 50 melodieë en harmonisasies van vroeëre melodieë tot die bundel by. Monk was ook die musiekredakteur van ander publikasies: The Holy Year (1865), die Church of Scotland se The Book of Psalms in Metre and the Scottish Hymnal (Edinburgh, 1872), The Children’s Hymnal (1876), ’n nuwe uitgawe van Henry Allon se The Congregational Psalmist Hymnal (1886), en The Book of Common Prayer … Edited with Plain Song and Appropriate Music (1891). Hy word die beste onthou vir sy melodieë soos MERTON, EVELYNS, EVENTIDE (Lied 582) en GETSHEMANE en verwerkings van die melodieë DIX en WÜRTEMBURG. 

Bronne
CDH; Colquhoun: 65-66; CUMH: 783; CWH: 105; HCLBW: 143, 183-184, 342-343; HLH: 101-102; Knight: 76; PHH: 480, 513-514.