Lied 371

Sections

Lirieke

1. Redder van ons lewe, Jesus, troue Heer,
uit liefde vir die mense
kom daal U neer.
Ons kom bring ons dank en wil ons
vreugdesange sing.
Onder mense woon U en wil U vrede bring.
Loof, loof die Heer!

2. Herders op die velde het die blye koor
met Jesus se geboorte diÈ nag gehoor:
In die hoogste hemel,
aan die Here al die eer -
deur sy welbehae
daal Christus na ons neer.
Loof, loof die Heer!

3. Wyses uit die ooste,
deur die ster gelei,
hul kom en vind die Kindjie,
en hul was bly.
Hulle bring geskenke:
wierook, mirre en ook goud.
Ere aan die Koning
wat kom tot ons behoud!
Loof, loof die Heer!

Geskiedenis

Teks 
Die teks is, met enkele wysigings, ontleen aan Salomon Theodotus (skuilnaam) se Het Paradijs der Gheestelijcke ende Kercklijke Lofsanghen (‘s-Hertogenbosch, 1621). Hy heet ook Egidius Haeffacker. Daar is geen Nederlandse weergawe van die teks voor die 17de eeu bekend nie, maar die lied moet veel ouer wees. Dit is al beskryf as die oudste loflied oor Christus se geboorte wat in Wes-Europa in die volkstaal gedig is en kon al voor 1000 ontstaan het. ’n 14de-eeuse Duitse weergawe lui: “Syt willekommen heirre kirst”. Ook die refrein “Kyrieleis” is baie oud en kom sedert die vierde eeu in die kerklike liturgie voor. Dit is die Griekse vorm van Kyrie eleison. 

Die teks is in Afrikaans vertaal deur Gerjo van der Merwe (#151) vir die 1978-bundel en met wysigings oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Melodie 
Die oudste notasie van die melodie NU ZIJT WELLEKOME, JESU, LIEVE HEER word gevind in ’n Evangelarium van Otto III (908-1002). Voorts word die melodie weer gevind in ’n driestemmige setting in ’n 14de-eeuse manuskrip (voor 1394?) in die Stadtsbiblioteek van Erfurt. In 1615 (Den Haag) verskyn die melodie in druk in die Nederlandse Hymni ofte Loffsangen op de Christelijke FeestDagen. Die huidige vorm van die melodie is genoteer volgens die tweede druk van Salomon Theodotus se Het Paradijs der Gheestelijcke ende Kercklijke Lofsanghen (’s-Hertogenbosch, 1627). 

Egidius Haeffacker (Salomon Theodotus) (*Vreeswijk; †1623, Vreeswijk) studeer in Keulen aan die Nederlandse Kollege tot 1618 onder die meesters Leon van der Meer (Marius) en Alard van der Wielen. Sy proefskrif, ter verkryging van die Lisensiaat in Teologie, handel oor die teologiese verskille tussen Gomarus en Arminius. Dit verskyn in dieselfde jaar (Wetterau, 1618) in druk onder ’n skuilnaam, Salomon Theodotus. Aan die einde van 1619 was hy werksaam as pastor en sendeling by die Hollandse Missie te IJsselstein, Benschop, Polsbroek, en Capelle. Hy bestee sy vrye tyd om ’n versameling van 213 gesange, enkele nog in Latyn, persklaar te maak. Sommige gesange was drie- en vierstemmig genoteer met die melodie boaan elke lied. Dit verskyn as Het Paradijs der Geestelycke ende Kerkelycke Lofsangen op de principaelste feestdaghen des gheheelen jaers, gheplant door Salomon Theodotum licenciaet in de Godtheid ( ’s Hertogenbosch, 1621 met ’n tweede druk in 1627). Die boek word baie gewild en beleef verskeie uitgawes in Antwerpen (1632, 1638, 1646, 1648 en1653) en Amsterdam (1679). 

Bronne 
Cillié: 176-177; CGLB: 397-398; www.dbnl.org