Lied 370

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Eng'le uit die hoogste hemel
sing ter ere van 'n Kind,
van 'n nuwe tyd wat aanbreek
waarin almal vrede vind.

Sing hosanna! Sing hosanna!
Prys Hom, Jesus, Seun van God!

2. Waar die wagters waak oor skape
hoor hul engele wat sing.
Oor die velde klink die lofsang
aan 'n Kind wat vrede bring.

Sing hosanna! Sing hosanna!
Prys Hom, Jesus, Seun van God!

3. Sterrekykers uit die ooste
bring geskenke tot sy eer.
Hy's die nuutgebore Koning -
hierdie Kindjie is die Heer.

Sing hosanna! Sing hosanna!
Prys Hom, Jesus, Seun van God!

4. Jare later loop daar kinders
voor Hom in Jerusalem,
en besing Hom as die koning
juigend met 'n blye stem:

Sing hosanna! Sing hosanna!
Prys Hom, Jesus, Seun van God!

5. Aan die kruis sterf ons Verlosser
en oorwin die sondedood.
Hy is nou vir ewig Koning,
Jesus, Redder uit ons nood.

Sing hosanna! Sing hosanna!
Prys Hom, Jesus, Seun van God!

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike teks van die lied “Angels, from the realms of glory” is geskryf deur James Montgomery en is een van sy gewildste liedere. Dit is vir die eerste keer gepubliseer in The Sheffield Iris (24 Desember, 1816), ’n tydskrif waarvan Montgomery vir 16 jaar die redakteur was. Hierin is die gedig “Nativity” genoem. Dit verskyn in gewysigde vorm in sy Christian Psalmist (1825) en in dieselfde jaar ook in die Christmas Box or New Year’s Gift wat gedruk is deur The Religious Tract Society. Vir die Liedboek (2001) het Hannes van der Merwe (#219) ’n nuwe Afrikaanse teks gemaak. 

James Montgomery (*4 November 1771, Irvine, Ayrshire, Skotland; †30 April 1854, Sheffield, Yorkshire) word saam met Charles Wesley (#294) en Isaac Watts (#201) gereken vir sy bydrae tot die Engelse himnodie. Sy ouers was in die Morawiese bediening en hy het van jongs af ’n belangstelling getoon in die skryf van poësie. Ten spyte van ’n geringe skoolopleiding volg hy lewenslank ’n literêre loopbaan. Hy was onder meer redakteur van die Sheffield Iris tot 1825 en een van die stigters van die Sheffield Literary and Philosophical Society. Hy was ook ’n groot ondersteuner van die London Missionary Society. Montgomery werk nou saam met Thomas Cotterill (#439) in wie se A Selection of Psalms and Hymns for Public and Private Use, adapted to the Festivals of the Church of England (1819) meer as 50 van sy kerkliedere opgeneem was, insluitend “Angels, from the realms of glory”. Hy publiseer ook 56 van sy liedere in Songs of Zion (1822) en ’n verdere 100 in The Christian Psalmist (1825). Kort voor sy dood verskyn nog ’n versameling Original Hymns for Public, Private, and Social Devotion (1853). 

Melodie 
Die melodie van hierdie lied is REGENT SQUARE wat deur Henry J Smart (#199) in 1867 gekomponeer is. Die melodie is vir die eerste keer verbind met Montgomery se teks in Rigdon McCoy McIntosh (1836-1899) se bundel Hermon: a new collection of sacred music (1873). Sien Lied 199 vir meer besonderhede. 

Bronne 
CDH; HCHAM: 545; HCLBW: 151-153; PHC: 32-33.