Lied 368

Vers 1

1. Wyl herders by hul kudde wag,
spreek daar ‘n engel in die nag.
Wees bly, wees bly!… bly, wees bly!
Loof die Heer! Loof die Heer!
Lofsing die Heer se grote Naam;
lofsing die Heer se grote Naam.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Keulen 1623; Henry Foote 1936; Else Louwrens 1951; Attie van der Colf 1978 / 2001 ©
Als ich bei meinen Schafen wacht – Keulen 1623
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks 
Die oorspronklike Duitse teks “Als ich bei meinen Schafen wacht” kom voor in die Auserleserne Katolische Gesangbuch wat in 1623 in Keulen verskyn het. Die skrywer kon nog nie met sekerheid vasgestel word nie, maar dit word soms toegeskryf aan die Jesuïete priester, Friedrich Spee (1591-1635). ’n Engelse weergawe van die lied deur Henry Wilder Foote is gepubliseer in The Second Concord Anthem Book (1936). Dit is deur Else Louwrens in Afrikaans vertaal as “Wyl by ons kuddes op die wag” en postuum gepubliseer in Die Halleluja (1951). Attie van der Colf (#164) se weergawe vir die 1978-bundel, “Wyl herders by hul kudde wag”, is net so oorgeneem in die Liedboek (2001). Hy baseer strofe een op Louwrens se teks, maar strofes twee en drie op Lukas 2:8-12 en strofe vier op Jesaja 11:6. In die oorspronklike Duitse teks word elke strofe afgesluit met ’n Latynse frase: “Bedenicamus Domino”. Dus kan hierdie Kerslied ook as ’n makoroniese lied beskryf word.

Henry Wilder Foote (*2 Februarie 1875, Boston; †27 Augustus 1964, Maine) ontvang sy skoolopleiding aan die Roxbury Latin School. Hierna skryf hy in aan die Harvard College waar hy BA- (1897) en MA-grade (1900) behaal. In 1902 gradueer hy aan die Harvard Divinity School en kort na sy inseëning ontvang hy ’n beroep van die First Unitarian Church, New Orleans, Louisiana. Kenmerkend van sy bediening was die klem wat hy gelê het op musiek, digkuns en kuns. In 1906 word hy die predikant van die First Unitarian Church, Ann Arbor, Michigan waar hy bly tot 1910. In hierdie tyd word hy aangewys deur die American Unitarian Association (AUA) as voorsitter van ’n kommissie wat The New Hymn and Tune Book (1914) saamgestel het. In 1914 keer hy terug na die Harvard Divinity School as assistent-professor in prediking en gemeente administrasie en sekretaris van die fakulteit. Die inhoud van die kursusse wat hy aangebied het, is vervat in sy boek The Minister and His Parish: A Discussion of Problems in Church Administration (1923). Hy word bekend as Unitariese predikant, dosent, navorser en himnoloog. In 1924 keer hy terug na gemeentebediening by die First Church in Belmont, Massachusetts waar hy werksaam is tot met sy aftrede in 1940. In samewerking met Archibold Thompson Davison, professor in musiek aan Harvard en orrelis en koormeester, word The Concord Anthem Book (1925) en The Second Concord Anthem Book (1936) saamgestel. As voorsitter van ’n gesamentlike Universalis- en Unitariërkommissie wat op liedboeke konsentreer, is hy betrokke by die redaksie van Hymns of the Spirit (1937) wat die standaard-liedboek vir hierdie twee groepe word. Foote was sy lewe lank geïnteresseerd in die geskiedenis van himnodie en die skrywers en komponiste van kerkliedere. ’n Uitvloeisel hiervan was die publikasie van die omvangryke Three Centuries of American Hymnody (1936). Hy was ’n lid van die Hymn Society of America en in 1941-1942 president van die organisasie. Een van sy laaste projekte was die publikasie van American Unitarian Hymn Writers and Hymns (1959) en ’n Catalogue of American Universalist Hymn Writers and Hymns (1959). Hy is twee keer vereer met eredoktorsgrade, onderskeidelik deur die Pacific Unitarian School for the Ministry (1929) en die Meadville Theological School (1941). 

Else Louwrens (1876-1948) het ’n bydrae gelewer tot die Koorboek vir ons Afrikaanse kerke II. 

Melodie 
Die melodie ALS ICH BEI MEINEN SCHAFEN WACHT kom ook uit die Katolisches Gesangbuch (Keulen, 1623) soos hier bo vermeld. Die komponis is onbekend. Die be-naming is afgelei van die incipit van die oorspronklike Duitse teks. 

Bronne 
CDH; Cillié: 184-185; Hymnary.org