Lied 365

Sections

Lirieke

1. Hoor die blye eng'lelied
aan die Koningseun gebied:
"Vrede op aarde - God die eer -
Hy daal tot die sondaar neer."
Almal wat Hom liefhet, sing
om Hom lof en dank te bring!
Almal, juig met hart en stem:
God word mens in Betlehem.
Hoor die blye eng'lelied
aan die Koningseun gebied.

2. Christus, ewig God en Heer,
Christus daar omhoog vereer,
in die volheid van die tyd
word Hy mens, in needrigheid.
Sondelose Lam van God
kom aanvaar die mens se lot -
Hy, met mense saamgetel,
ware God - Immanuel!
Ook die aarde bring Hom eer -
Christus, ewig God en Heer!

3. Jesus, ware Vredevors
kom vir Hom 'n volk verlos.
WÍreldwyd, in elke land
kom bevryding deur sy hand.
In ons nood het Hy gedaal,
vir ons lewe duur betaal.
Vrygemaak, deur Hom gevind,
is ek ook nou koningskind!
Almal deur sy koms verlos,
dank en loof die Vredevors!

Geskiedenis

Teks 
Die bekende teks “Hark, the herald angels sing” is geskryf deur Charles Wesley (#294) en gepubliseer in Hymns and Sacred Poems (Londen, 1739). Die teks het oorspronklik begin met “Hark, how all the welkin [heavens] rings”, maar is deur George Whitefield gewysig na “Hark, the herald angels sing” en toe gepubliseer in sy A Collection of Hymns for Social Worship (Londen, 1753). Wesley se teks is in 1856 gekombineer met Mendelssohn se melodie en na die publikasie daarvan in Hymns Ancient and Modern (1861) het dit gou in gewildheid toegeneem. 

Die teks het in Afrikaans verskyn in Die Nuwe Halleluja (1931) en in Die Halleluja (1951). Attie van der Colf (#164) het vanaf hierdie teks sy weergawe gemaak wat in 1984 in die Jeugsangbundel gepubliseer is: “Hoor die blye eng’le sing”. Dit is gewysig na “Hoor die blye engellied” in die bundel Sing onder mekaar (1989). Hierdie teks van Van der Colf is ook in die Liedboek (2001) opgeneem. 

George Whitefield (*16 Desember 1714, Gloucester; †30 September 1770, Newburyport, Massachusetts) gaan skool aan die Gloucester Cathedral School en die Crypt School. Hy matrikuleer in 1732 aan Pembroke College, Oxford. In 1733 sluit hy aan by die sogenaamde “Holy Club” van John en Charles Wesley en hulle vennote. Hy was sieklik in Oxford, waarskynlik veroorsaak deur harde werk, maar gradueer met ’n BA in 1736. Na sy ordening as diakonus (1736) en priester (1739) begin hy ’n bediening in Londen wat klem lê op die belangrikheid van die wedergeboorte in Jesus Christus. Sy skerp kritiek op die geestelikes veroorsaak dat hy verbied word om in sekere kerke te preek. Hy begin gevolglik ’n veldprediking en oorreed John Wesley om by hom aan te sluit in 1739. Die twee Metodiste het egter gou meningsverskille oor die uitverkiesingsleer met Wesley wat reageer deur teen Whitefield se Calvinisme te preek. Charles Wesley se Hymns on God’s Everlasting Love (1741) was ’n vurige verwerping van Whitefield se Calvinistiese Metodisme. 

Whitefield besoek Amerika by verskeie geleenthede en word daar deel van die “Great Awakening”. In Brittanje vestig hy ’n tabernakel by Moorfields in Londen in 1741 en ’n kapel in Tottenham Court Road in 1756. Sy teologiese aanvalle op die biskoppe en ander geestelikes maak hom ’n kontroversiële figuur. Hy was ook bevriend met die welgestelde en evangeliegesinde Selina Hastings, Gravin van Huntingdon, wat hom as haar kapelaan in 1748 aanstel. Whitefield publiseer Hymns for Social Worship (1753) wat bedoel was vir gebruik deur die Tabernakelgemeente in Londen. Hierin het hy wysigings aangebring aan bestaande liedere (meesal van I Watts en C Wesley) waarvan “Hark, the herald angels sing” die bekendste is. Whitefield was ’n voorstaander van korter “hymns”. Hy is oorlede in Amerika. 

Melodie 
Die melodie MENDELSSOHN (ook genoem JESU REDEMPTOR, BETHLEHEM, ST VINCENT, BERLIN, FESTGESANG en NATIVITY) is geskryf deur Felix Mendelssohn. Dit is gekomponeer in 1840 en kom uit die tweede beweging, Vaterland, in deinem Gauen, van die Festgesang an die Künstler Opus 68 nr 7. Die werk is geskryf vir die 400-jarige herdenking van die boekdrukkuns en uitgevoer tydens die Gutenbergfees in Leipzig op 25 Junie 1840. Alhoewel Mendelssohn die begeerte uitgespreek het om ’n ander teks vir die melodie te vind, het hy ook gemeen dat dit nie geskik sal wees vir ’n gewyde teks nie. In 1855 het William Cummings egter die melodie aangepas vir die teks van C Wesley en dit gepubliseer in 1856. Die gewildheid van die lied het daartoe bygedra dat dit in Richard Chope (1830-1928) se Congregational Hymn and Tune Book (Bristol, 1857) opgeneem is waarin dit die titel ST VINCENT gehad het. Die naam MENDELSSOHN is daaraan gegee toe dit gepubliseer is in Hymns Ancient and Modern (1861). 

Jacob Ludwig Felix Mendelssohn-Bartholdy (*3 Februarie 1809, Hamburg; †4 November 1847, Leipzig) is gebore as lid van ’n Christen-Joodse familie. Sy grootvader was die bekende filosoof Moses Mendelssohn. Sy vader was ’n welgestelde bankier en sy moeder ’n verfynde en gekultiveerde vrou. Hy begin sy musiekopleiding op ’n vroeë ouderdom met klavierlesse by sy moeder. In 1817 ontvang hy onderrig in komposisie by Friedrich Zelter (1758-1832) in Berlyn. As ’n besonder begaafde leerling raak hy nie net bedrewe as pianis, orrelis, komponis en dirigent nie, maar ook in taalkunde en skilderkuns. Hy is deurgaans sterk beïnvloed deur die musiek van JS Bach (#346) en dirigeer die Matteuspassie (BWV 244) in 1829 in Berlyn – dit was die eerste uitvoering daarvan sedert Bach se dood. Na vele konsertreise in Engeland, Italië en Frankryk vestig hy hom in Düsseldorf waar hy van 1833 tot 1835 die musiekdirekteur van die stad was. Daarna verhuis hy na Leipzig waar hy die Gewandhaus-orkes opgebou het tot een van die eerste groot moderne simfonie-orkeste en in 1843 die Leipzigkonservatorium gestig het. Sy vele reise bring nie net mee dat hy bekend was met vele musiekstyle nie, maar ook dat sy komposisies bekend geraak het, veral in Duitsland en Engeland. Dit sluit in klavier- en orrelmusiek, orkeswerke, liedere en oratoriums, waaronder “St Paul” (1836) en “Elijah” (1846). Hy harmoniseer enkele kerkliedere, maar musiekredakteurs het ook verskeie van sy melodieë verwerk tot kerkliedere. Die bekendste hiervan is waarskynlik “Hark, the Herald Angels sing”. 

William Hayman Cummings (*22 Augustus 1831, Sidbury, Devonshire; †6 Junie 1915, Dulwich, Londen) word in 1847 orrelis van Waltham Abbey en kort daarna ’n sanger aan die Westminster Abbey, Temple Church en die Royal Chapel. Op 16-jarige ouderdom sing hy in die eerste uitvoering van Mendelssohn se oratorium Elijah wat deur die komponis gedirigeer is. Cummings het ’n lewenslange voorliefde vir Mendelssohn se musiek gehad. Hy was ’n bekende tenoor en het ook in Amerika konsertuitvoerings gehou. Van 1879 tot 1896 was hy professor in sang aan die Royal Academy of Music. Hy was die dirigent van die Sacred Harmonic Society en die koorleier by St Anne’s in Soho. In 1896 volg hy Joseph Barnby op as prinsipaal van die Guildhall School of Music waar hy gebly het tot met sy aftrede in 1911. In 1900 ontvang hy ’n eredoktorsgraad in musiek van die Universiteit van Dublin. Cummings was een van die stigters van die Purcell Society en hy het ook ’n biografie oor dié komponis geskryf. Hy lewer ook bydraes in die Grove’s Dictionary of Music and Musicians. Sy komposisies sluit in ’n kantate, kerkmusiek, “Glees” en “Part songs”. 

Bronne 
CDH; CGLB: 370-375; CHW: 82; HC: 44-46; HCLBW: 161-162; Knight: 79-80; PHH: 498-499.