Lied 363

Vers 1

1. In die nag by hulle weiding
hoor die herders stemme sing.
Helder klink die goeie tyding
deur ‘n eng’-leskaar gebring.
Juigend sing die hemelkore:
“Christus is vandag gebore.”
Haastig gaan hul soek na Hom.
Haastig gaan hul soek na Hom.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Infant holy, infant lowly – Edith Reed 1921; Louwrens Strydom 1993 / 2001 (postuum)
W ZLOBIE LEZY – Poolse Kersmelodie
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks 
Hierdie tradisionele Poolse Kerslied word vir die eerste keer vermeld in die Engelse himnodie in The Hymnal Companion to the Book of Common Prayer (Londen, 1877) van Edward Henry Bickersteth, maar die oorsprong daarvan is onbekend. Sommige geleerdes beweer dat dit uit die 13de of 14de eeu kan kom. Dit is egter nie gepubliseer tot die 20ste eeu nie toe dit in die boek Spiewniczek Piesni Koscoelne (1908) ingesluit is met die tradisionele melodie. Die bekende Engelse vertaling “Infant holy, infant lowly” is gedoen deur Edith Reed en gepubliseer in Music and Youth (Des, 1921) en die Panpipes. Na die publikasie van Reed se teks in die Congregational Church’s School Worship (1926) het die lied gou gewild geword. Die Afrikaanse weergawe van Louwrens Strydom (#174) het vir die eerste keer verskyn in die Jeugsangbundel 2 (1993) en is gebaseer op Lukas 2:8-20. Dit is in hierdie formaat in die Liedboek (2001) opgeneem. 

Edith Margaret Gellibrand Reed (*31 Maart 1885, Islington, Middlesex, Engeland; †4 Junie 1935, Barnet, Hertfordshire, England) is opgelei aan die St Leonhard’s School in St Andrews en die Guildhall School of Music in Londen. Sy was ’n genoot van die Royal College of Organists en het die grootste deel van haar lewe aan die musiekonderrig van kinders toegewy. Van 1923 tot 1926 was sy redakteur van ’n tydskrif vir kinders, Panpipes, een van die plekke waar hierdie kerklied gepubliseer is. Sy het Percy Scholes (1877-1958), wat bekend was vir die daarstelling van die Oxford Companion to Music, geassisteer met die redaksie van die tydskrifte Music and Youth en The Music Student. Sy het twee Kersspele geskryf en Story Lives of the Great Composers (1925).

Melodie 
W ZLOBIE LEZY is ’n Poolse Kersmelodie en dit beteken “om in ’n stal te lê”. Die oorsprong en datum van die melodie is, soos die teks, onbekend. Dit toon ooreenkomste met die masurka, ’n Poolse dans uit die omgewing van Warskou. 

Bronne 
CDH; CUMH: 275-276; HC: 53-54; Hymnary.org; PHH: 507.