Lied 358

Sections

Lirieke

1. Welkom, o stille nag van vrede,
onder die suiderkruis,
wyl stemme uit die ou verlede
oor sterrevelde ruis.

Kersfees kom, Kersfees kom -
gee aan God die eer.
Skenk ons 'n helder Somerkersfees
in hierdie land, o Heer.

2. Hoor jy hoe sag die klokke beier
in eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye
vertel die ou verhaal.

Kersfees kom, Kersfees kom -
gee aan God die eer.
Skenk ons 'n helder Somerkersfees
in hierdie land, o Heer.

3. Voel jy ook nou sy warm liefde
as ons die dag gedenk,
toe Hy sy Seun aan ons gegee het -
ons grootste Kersgeskenk.

Christus kom, Christus kom -
gee aan God die eer.
Skenk ons 'n helder Somerkersfees
in hierdie land, o Heer.

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike twee strofes van die teks“Welkom, o stille nag van vrede” is geskryf deur Koos du Plessis in 1971 en ’n derde strofe deur Jannie du Toit is in die Liedboek (2001) bygevoeg. Hierdie strofe is geskryf op versoek van Du Plessis se vrou. 

Melodie 
Die melodie SOMERKERSFEES is geskryf deur Koos du Plessis in 1971. 

Jacobus Johannes (Koos) du Plessis (*10 Mei 1945, Rustenburg; †14 Januarie 1984, Krugersdorp) was die jongste van vier kinders en word groot op Springs waar hy onderskeidelik ’n leerling was van die Laerskool Pam Brink en die Hoër Seunskool Hugenote. Na skool studeer hy vir ’n onderwysdiploma aan die Pretoriase Normaalkollege en verwerf ook ’n BA-graad aan die UP. Hy het later ingeskryf aan Wits waar hy ’n BA Hons in Afrikaans-Nederlands voltooi het. Reeds tydens sy studentejare het hy begin om sy eie liedjies te skryf. Een van die redes was ’n tekort aan oorspronklike musiek wat sy serenade-groep kon uitvoer. Du Plessis werk as joernalis en redakteur vir verskeie Afrikaanse koerante: Die Oggendblad, Die Vaderland en Die Transvaler. Hy was ook ’n prominente sanger, digter en liedjieskrywer. Op 9 Augustus 1983 ontvang hy ’n oorkonde van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) ter erkenning van sy bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. 

Johannes Hendrik (Jannie) du Toit (*13 Desember 1951, Heidelberg) neem reeds as ses-jarige klavierlesse en begin op ouderdom 15 ook met kitaarlesse. As student het hy in 1971 in ’n pop-/rockgroep gespeel, maar ook betrokke geraak by Afrikaanse musiek as lid van die folkgroep TRILOGIE. Hy studeer aan RAU waar hy ’n BJuris LLB voltooi, maar verlaat die regsberoep in 1980. In dieselfde jaar word hy deur prof Chris Lamprecht by die UP aangestel waar hy vir ’n studentegroep onder meer Loeloeraai skryf saam met prof Anna Neethling-Pohl – een van die heel eerste musiekblyspele in Afrikaans. Sy eie oorspronklike blyspel, Gansdans, ontstaan ook in dié tyd. Hy werk saam met bekende Afrikaanse kunstenaars soos Koos du Plessis, Laurika Rauch, Anton Goosen, Louis van Rensburg en Coenie de Villiers, en hy speel ’n belangrike rol in die Musiek- en Liriek-/Luisterliedjie-beweging van die laat 1970’s. 

Sedert 1986 werk hy saam met die virtuose pianis en komponis Christa Steyn en hulle het vir 25 jaar lank oral in Suid-Afrika konserte gehou en in 21 ander lande opgetree. 

Hulle was ook 20 jaar lank saam met Lucas Maree en Johann van der Watt betrokke by die ATKV se Liedjieskryfwerkswinkel. Hulle gesamentlike werk is verewig op ’n verskeidenheid CD’s, DVD’s en op televisieprogramme en destydse langspeelplate. In 2009 verskyn die geestelike musiekblyspel Houtkruis wat Du Toit in samewerking met verskeie musici geskryf het. In 2011 vier hy sy 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf met ’n verhoogproduksie Onderweg. 

Na Christa Steyn se dood in 2012 tree hy op saam met ensembles wat tjello, klavier en akkordeon insluit. Benewens talle vererings uit kultuur- en kunstegeledere deur die jare, ontvang Jannie in 2008 ’n erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae op die gebied van ligte Afrikaanse musiek. 

Bronne 
E-poskorrespondensie en telefoongesprek met Jannie du Toit, 2017; Soundof.life/artist (Koos du Plessis); www.janniedutoit.co.za; www.oulitnet.co.za