Lied 354

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. O Christus, ons verlange,
U het ons heil gebring.
Sal ooit ons jubelsange
u lof na waarde sing?
Vervul in welbehae
ons harte met u Gees;
skenk ons in hierdie dae
'n ware Christusfees.

2. U wat as Hemelkoning
in heerlikheid regeer,
maak onder mense woning;
daal as 'n dienskneg neer -
en herders vind 'n Herder
oor wie hul dankbaar juig;
en wyses vind diÈ Wysheid
voor wie hul biddend buig.

3. Soos kinders met "hosannas"
hul Koning bly ontmoet,
en Sion sy Messias
met jubels kon begroet -
só wil my lied u vrede,
u heerskappy besing;
my lof- en dankgebede
U juigend hulde bring.

4. Ek, magteloos gebonde,
ek word deur U bevry;
ek is bevlek met sonde -
U kom en reinig my.
Nou leef my dankgebede -
nou kan ek sing en dien!
Nou kan ek sterf in vrede -
ek het my Heer gesien!

Geskiedenis

Teks 
Paul Gerhardt (#156) se oorspronklike Adventslied “Wie soll ich dich empfangen” dateer uit 1653 toe dit gepubliseer is in die vyfde uitgawe van Johann Crüger se bundel Praxis Pietatis Melica. Dit is in Nederlands vertaal deur Jan Jacob ten Kate (#273) vir die Vervolgbundel (1868) as “Hoe zal ik U ontvangen”. Adrianus van Selms (#330) het die teks in Afrikaans verwerk vir die AGB (1944). Dit is gewysig deur Attie van der Colf (#164) vir die 1978-bundel. In die Liedboek (2001) is die teks behou, maar die tweede en derde strofes is omgeruil. 

Melodie 
Die melodie AURELIA is oorspronklik geskryf in 1864 deur Samuel S Wesley vir John Keble (1792-1866) se huwelikslied “The voice that breathed o’er Eden”. Dr James Kendrick Pyne (1852-1938), orrelis van die Manchester Cathedral, beskryf dat terwyl hy ’n student van Wesley was, hy eendag in die komponis se sitkamer gesit het toe Wesley uit sy studeerkamer aankondig dat hy ’n melodie vir die huwelikslied het “which will be extremely popular”. Dit is in dieselfde jaar opgeneem in Charles Kemble se A Selection of Psalms and Hymns Arranged for the public Services of the Church of England (Londen, 1864) waar dit geset was op die teks van John Mason Neale (#320), “Jerusalem the Golden”. Wesley was mederedakteur van die bundel. In hierdie bundel dien dit as melodie vir drie“centos” uit Neale se vertaling van Hora novissima van Bernhard van Cluny: “Jerusalem the Golden”, “Brief life is here our portion” en “For Thee, oh dear, dear country”. Die melodie word ook gebruik met die teks “The church’s one foundation” van SJ Stone (1866) (sien Lied 478) in die Appendix tot Hymns Ancient and Modern (1868) en het ’n sterk assosiasie met daardie teks. In sy Hymn Tune Names (1958) wys Robert McCutchan daarop dat die naam AURELIA afgelei is van die Latyn “aurum” wat goud beteken, in ’n verwysing na “Jerusalem the Golden”. 

Samuel Sebastian Wesley (*14 Augustus 1810, Londen; †19 April 1876, Gloucester) was die seun van Samuel Wesley (1766-1837) en kleinseun van Charles Wesley (#294). Hy begin sy loopbaan as ’n koorknaap in die Chapel Royal in 1820 en kry sy eerste orrelpos op 16-jarige ouderdom. Hy het musiek studeer aan die Oxford-Universiteit waar hy ’n doktorsgraad ontvang het in 1839. Hy dien as orrelis in verskeie kerke totdat hy in 1832 orrelis van Hereford Cathedral word. Daarna was hy orrelis van Exeter Cathedral (1835-1842) en die Leeds Parish Church (1842-1849). Hy word aangestel as professor in orrel aan die Royal Academy of Music in 1850. Hy was ook orrelis van Winchester Cathedral (1849-1865) en Gloucester Cathedral (1865-1876).

SS Wesley is hoog aangeslaan as uitvoerder en komponis en was ’n kampvegter vir die regte van kerkmusici. Sy waarnemings van en planne vir die opheffing van kerkmusiek is gepubliseer in A Few Words on Cathedral Music and the Music System of the Church (1849). Hy volg sy vader na in die bekendstelling van die musiek van JS Bach en dirigeer die Matteuspassie in Gloucester in 1871. In sy European Psalmist (1872) word oor die 700 melodieë gepubliseer waarvan 130 sy eie was. 

Bronne 
CDH; CWH: 547; HCLBW: 280-282; PHH: 341-342, 672-673.