Lied 350

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. In die stad van koning Dawid,
in die nederige stal,
in 'n krip lÍ daar 'n Kindjie,
Koning van die groot heelal.

Jesus Christus, God en Heer,
aan U, Koningskind, ons eer.

2. Hy kom woon hier onder mense,
Hy kom red hul van die dood.
Hul wat in Hom glo, Hom aanneem,
diÈ verlos Hy uit hul nood.

Jesus Christus, God en Heer,
aan U, Koningskind, ons eer.

3. Eenmaal sal Hy as die Regter
in sy koningsmajesteit
weer verskyn vanuit die hemel,
in volmaakte heerlikheid.

Jesus Christus, God en Heer,
aan U, Koningskind, ons eer.

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike Engelse teks, “Once in royal David’s city”, is geskryf deur Cecil Alexander. Sy skryf die teks vir kinders. Dit is gebaseer op die volgende frase uit die Apostoliese Geloofsbelydenis: “… Wat ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die maagd, Maria”. Dit is gepubliseer in Hymns for Little Children (Londen, 1848). In hierdie Kerslied maak die skrywer teologie verstaanbaar vir kinders deur middel van eenvoudige digkuns. Die lied word tot ’n groot mate bekend gemaak deur die gebruik daarvan as prosessielied sedert 1919 vir die jaarlikse Service of Nine Lessons and Carols by Kings College, Cambridge. Dit het tradisie geword dat die eerste vers a cappella gesing word deur ’n seunsopraan. Die teks neem die leser/sanger deur die lewe van Jesus vanaf die stal tot in sy hemelse woning. Dit is een van die min liedere wat nie veranderings deur die jare ondergaan het nie. 

Pierre Malan het die teks in Afrikaans vertaal en die lied is opgeneem in die proefsangbundel Sing onder mekaar (1989). Dit is gewysig vir die Liedboek (2001). 

Cecil Frances (Fanny) Alexander (Humphreys) (*? April 1818/1823, Redcross, County Wicklow; †12 Oktober 1895, Londonderry) was die dogter van ’n welgestelde landheer, Major John Humphreys. Toe haar vader ontdek dat sy gedigte skryf, is sy toegelaat om dit vir die familie voor te lees op Saterdagaande. Sy was goed opgevoed en het ’n gerieflike lewe gelei. Tog was sy toegewy daaraan om mense in nood te help deur te sorg vir die siekes en die aflewerings van voedsel en klere aan die armes. 

Alexander het 400 gedigte geskryf waarvan ongeveer die helfte kerkliedere is. Haar eerste boek met poësie was Verses for holy seasons (Londen, 1846) – ’n kerkjaar vir kinders. In 1848 volg Hymns for Little Children, ’n klein bundel met gekleurde illustrasies, waaruit “Once in royal David’s city” kom. Alexander was ’n kundige op die gebied van kindersielkunde en ’n vrygewige Christen. Sy het die winste van haar bundel Hymns for Little Children, wat oor die honderd uitgawes beleef het, geskenk aan die skool vir doofstomkinders in Londonderry. Sy word met reg een van die grootste vroulike Engelse kerkliedskrywers van die 19de eeu genoem. Van haar bekende liedere sluit onder meer in “There is a green hill far away” en “All things bright and beautiful”. Sy het ook ’n aantal liedtekste vir volwassenes geskryf, maar haar kinderliedere is die bekendste. Die tekste is ’n vaardige vermenging van die Bybelverhaal en Christelike teologie met daarby aspekte van moralisering – iets wat verwag is in die Victoriaanse tydperk. Naas die publikasies wat hier bo genoem is, verskyn haar werk in die volgende bundels: The Lord of the Forest and his Vassals, an Allegory (1848); Moral Songs (1849); Narrative Hymns for Village Schools (1853); Poems on Subjects in the Old Testament (Part I, 1854; Part II, 1857); Hymns Descriptive and Devotional (1858); en The Legend of the Golden Prayers, and other poems (1859). 

Jacques Pierre Malan (*18 Junie 1923, Middelburg; †19 Oktober 1998, Pretoria) gaan skool aan die Hoërskool Lichtenburg waar hy musiekopleiding ontvang van Tersteegen van Huyssteen (1910-1977). Hy studeer vanaf 1940 tot 1943 aan die UP waar hy ’n BSc-graad met wiskunde as hoofvak behaal. Hy ontvang gedurende hierdie periode klavieronderrig van Peter Cruse. Hy verwerf ook ’n Sekondêre Onderwysdiploma aan die UK en hou in 1945 skool op Grabouw. Hy besluit om van beroep te verander en aanvaar ’n pos by die SAUK as programopsteller en later omroeper en regisseur. In 1951 keer hy terug na die onderwys en hou skool aan die Hoërskool Klerksdorp waar hy wiskunde gee. Hy studeer verder by prof MC Roode (1907-1967) op Potchefstroom en behaal ’n lisensiaat in skoolmusiek in 1952. In 1956 begin hy ’n loopbaan in musiek en word aangestel as hoof van die Musiekdepartement van die Onderwyskollege in Pretoria. Hy verbeter sy kwalifikasies deur Lisensiate in onderwys en voordrag wat hy aan UNISA verwerf. Hy behaal die graad BMus in 1960 en word in 1962 aangestel as senior dosent in die Musiekdepartement van UNISA. In 1967 verwerf hy ’n MMus-graad en drie jaar later word hy die Hoof van Musiek van die Onderwysdepartement (destydse Transvaal). Naas sy werk as opvoedkundige, dien Malan ook as orrelis in verskeie NG gemeentes, waaronder Arcadia en NG Meyerspark (vanaf Februarie 1965) en rig die Transvaliakoor (later Cantare-mannekoor) af. Hy tree ook op as eksaminator vir UNISA en was sedert 1971 lid van die FAK se Musiekkommissie. Malan het met die samestelling van die SuidAfrikaanse Musiekensiklopedie (vier volumes, 1984) ’n belangrike bydrae gemaak tot die dokumentering van die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis. Hy tree af in 1984 en wy hom voltyds aan komposisie. 

Melodie 
Die melodie IRBY is gekomponeer deur Henry Gauntlett in 1849 vir die teks van Alexander. Dit is gepubliseer in ’n klein boekie genaamd Christmas Carols or Lays and Legends of the Nativity (Londen, 1850) met klavierbegeleiding. Dit verskyn ook later in ’n vierstemmige weergawe in sy Hymns for Little Children … Set to music with piano accompaniment, by H.J. Gauntlett (1858). Die lied is later ingesluit in Hymns Ancient and Modern (1861). Die melodie was aanvanklik bekend as ONCE IN ROYAL DAVID’S CITY na aanleiding van die eerste lyn van Alexander se teks. Dit is later deur Gauntlett verander na IRBY – die naam van ’n klein dorpie in Lincolnshire omtrent vyf myl noord van Skegness. In verbinding met die teks “Once in royal David’s city” word dit elke Kersfees sedert 1919 gebruik as prosessielied by die jaarlikse Service of nine lessons and Carols by die King’s College, Cambridge. Die lied is toe in ’n verwerking van Arthur Henry Mann (1876-1929), orrelis van King’s College, gehoor. Volume 1 

Henry John Gauntlett (*9 Julie 1805, Wellington, Shropshire; †21 Februarie 1876, Kensington, Londen) se vader was ’n priester in ’n kerk in Olney waar John Newton (#264) sy voorganger was. Henry word op die ouderdom van nege die orrelis daar en van 1819 tot 1825 is hy ook die koormeester. Op aandrang van sy vader studeer hy in die regte en praktiseer as prokureur tot 1844, maar sy aansienlike musiektalent word nie oor die hoof gesien nie. Hy dien as koormeester en orrelis in verskeie gemeentes en ontwerp orrels vir die orrelboufirma William Hill. Gauntlett is deur Felix Mendelssohn (1809-1847) gekies om die orrelparty te speel tydens die eerste uitvoering van die oratorium Elijah in Birmingham (1846). Hy het ’n wye belangstelling in musiek gehad en was ’n voorstaander van die gebruik van plain chant in die kerk. Hy publiseer boeke oor kerkmusiek wat insluit ’n Gregorian Hymnal of Matins and Evensong (1844). Hy skryf duisende kerkliedmelodieë (dalk tot 10 000!), maar dis net IRBY wat wyd inslag gevind het. Hy het ook die melodie STUTTGART (Lied 334) in sy huidige vorm daargestel. 

Bronne 
CDH; Colquhoun: 59-60; CUMH: 715; CWH: 70-71; HC: 43-44; Knight: 81-82; Krügel: 1-14; PHH: 237-238, 499-500; Malan III: 216-218.