Lied 348

Sections

Lirieke

1. Stille nag, heilige nag!
Jesus-kind, lank verwag,
Lig uit Lig, uit die Vader se ryk,
word uit liefde aan mense gelyk.
Loof die hemelse Kind!
Loof die hemelse Kind!

2. Stille nag, heilige nag!
Hemelvors, ons gee ag
op die lied van die engelekoor.
Herders het dit die eerste gehoor:
Juig, die Redder is daar!
Juig, die Redder is daar!

3. Stille nag, heilige nag!
Jesus, Heer, voor u mag,
voor u ryk moet die duisternis swig;
tot in ewigheid bly U die lig -
Heer, gebore vir ons!
Heer, gebore vir ons!

Geskiedenis

Teks 
Joseph Mohr het die teks van hierdie geliefde Kerslied in 1818 geskryf en dit is 20 jaar later gepubliseer in die Katolisches Gesangund Gebetbuch (Leipzig, 1838). Dit verskyn in Nederlands in Die Halleluja (1903) en word deur GBA Gerdener (#157) in Afrikaans vertaal vir Die Nuwe Halleluja (1931). Izak de Villiers (#153) en Attie van der Colf (#164) het die teks ingrypend verander vir die 1978-bundel en hierdie weergawe is ook in die Liedboek (2001) opgeneem. 

Die lied Stille Nacht het tot stand gekom op Oukersaand, 24 Desember 1818. Die verhaal lui dat die gemeente in Oberndorf (Oostenryk) besig was met voorbereidings vir die Kersmis wat om middernag gevier sou word toe die orrelis, Franz Gruber, aankondig dat die orrel gebreek het en nie herstelbaar was nie. Die priester, Joseph Mohr, was so ontsteld dat hy die voorbereidings verlaat het en gemeentelede gaan opsoek het. By een huis ontdek hy dat ’n baba pas gebore is vir die arm werker en sy vrou. Toe hy terugloop na die kerk het die geboortetoneel van Jesus by hom opgekom saam met die eerste woorde van die teks. Hy skryf vier strofes en dring daarop aan dat Gruber (ook die koorleier) ’n melodie daarvoor op sy kitaar probeer. Die dogterskoor het dit geoefen met Mohr wat die tenoor en Gruber wat die basstem gesing het terwyl hy die lied op die kitaar begelei het. So is die Kerslied vir die eerste keer in 1818 gesing. 

Nadat die orrelbouer Karl Mauracher (1789-1844) die lied gehoor het, het hy die manuskrip na die Tiroolse streek geneem. Hier het die lied baie gou gewild geword en is deur verskeie Tiroolse groepe gesing onder andere deur die Strasser-familie: Amalie, Caroline, Andreas en Joseph. Dit staan in die volksmond bekend as die “Tiroolse Kerslied”. Hulle het dit ook “The song of heaven” genoem. Op Kersdag 1832 het hierdie groep dit vir die koning en koningin van Sakse uitgevoer en van toe af het die lied vinnig versprei en in gewildheid toegeneem, ook in die res van Europa en Noord- Amerika gedurende die 19de eeu. Sonder om die lied toe te skryf aan Mohr en Gruber is dit in die Katolisches Gesangund Gebetbuch (Leipzig, 1838) gepubliseer, maar deur die toedoen van Gruber se kleinseun is die komponis en teksskrywer gou erken. 

Joseph Mohr (*11 Desember 1792, Salzburg; †4 Desember 1848, Wagrein) se vader was ’n beroepsoldaat en sy moeder ’n naaldwerkster. Hy word grootgemaak deur ’n priester van die Salzburg-Katedraal, ene JN Hiernle, wat ook sy pleegpa geword en gesorg het vir sy opvoeding. Mohr sing in die Salzburg-Katedraalkoor. Hy ontvang sy priesteropleiding in Salzburg en word in 1815 ingeseën as priester. Hierna word hy as assistentpriester gestuur na die St Nikolauskerk in Oberndorf. Daarna het hy nog ’n aantal ander kerke bedien. Tydens ’n kapelaanskap in Laufen (Beiere) sluit hy ’n vriendskap met die onderwyser en orrelis in Oberndorf, Franz Gruber. In 1818 kom uit hulle samewerking die lied “Stille Nag” voort wat waarskynlik die bekendste van alle Kersliedere geword het. In 1828 word Mohr pastor in Hintersee en in 1837 in Wagrein waar hy oorlede is. 

Melodie 
Die melodie STILLE NACHT is gekomponeer deur Franz Gruber in 1818 en dit is gepubliseer in die Katolisches Gesangund Gebetbuch (Leipzig, 1838). Vir die ontstaan van die melodie, sien hier bo. 

Franz Gruber (*15 November 1787, Unterweizberg, Oostenryk; †7 Junie 1863, Hallein) studeer viool en orrel en word ’n onderwyser in Arnsdorf. Terselfdertyd was hy ook orrelis van die St Nikolauskerk in die nabygeleë Oberndorf. Hy gee vanaf 1829 onderrig in Berndorf. In 1835 word hy aangestel as kerkmusikus van die Stadtpfarrkirche in Halleim, Salzburg. As koordirigent en orrelis lewer hy ook byna 100 komposisies, maar dié is vandag vergete en hy word slegs onthou vir sy melodie STILLE NACHT. In 1854 skryf hy ’n verslag oor die geskiedenis van die lied “Stille Nacht, heilige Nacht” en voeg daarby ’n partituur (gedateer 1833) vir twee solostemme, koor, orrel, pizzicato-strykers en twee horings. 

Bronne 
CGLK: 391-395; Cillié: 191-192; Colquhoun: 64-65; HC: 58-59; KLEG: 123; Knight: 83; PHH: 496-497.