Lied 346

Sections

Lirieke

1. Ek kniel ook voor u voete, Heer,
U, Jesus, is my lewe!
Saam met die herders kniel ek neer.
God het my skuld vergewe!
O neem my denke, wil, gevoel;
laat streef my na die hoogste doel -
om tot u eer te lewe!

2. Lank voordat ek op aarde was,
is U vir my gebore.
Voor ek van U 'n woord kon hoor,
was ek reeds uitverkore.
U het die hemelryk verlaat;
U maak my na Gods wyse raad
sy kind - nie meer verlore!

3. In diepe donkerheid en nag
raak ek die pad soms byster.
Stuur, Heer, u Gees; skenk, Heer, u krag
en lei my deur die duister.
U, Son wat deur die wolke breek
en in my hart u lig ontsteek,
verlig my met u luister!

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike Duitse teks waarop hierdie lied gebaseer is, is Paul Gerhardt (#156) se gedig “Ich steh an deiner Krippen hier”. Dit is gepubliseer in die 1653-uitgawe van Johann Crüger (#156) se Praxis Pietatis Melica. Izak de Villiers (#153) se Afrikaanse weergawe vir die 1978-bundel is grootliks gebaseer op Gerhardt se teks. Dit is so oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Melodie 
Die melodie ICH STEH AN DEINER KRIPPEN HIER is gekomponeer deur JS Bach en gepubliseer in Schemelli se Musicalisches Gesangbuch (Leipzig, 1736). Net 69 van die liedere is van melodieë voorsien. In die slot van die voorwoord, gedateer 24 April 1736, geskryf deur die predikant, Friedrich Schulze, word vermeld dat die melodieë in die gesangboek deels deur JS Bach nuut gekomponeer is en dat hy ook aan die besyferde bas verbeterings aangebring het. Vir ’n lang tyd het mense gemeen dat die meeste van die 69 melodieë wat in die bundel opgeneem is, van Bach is. Daar bestaan net sekerheid oor Bach se outeurskap betreffende drie van die liedere. Een hiervan is “Ich steh an deiner Krippen” – veral omdat dit nie in vorige bronne opduik nie. Hy moes dit kort voor die verskyning van Schemelli se Gesangbuch gekomponeer het, want in die Weinachtsoratorium (1734/1735) maak hy reeds van Gerhardt se eerste strofe gebruik, maar behou die melodie ES IST GEWISSLICH AN DER ZEIT – ’n sekulêre melodie uit die 15de eeu, wat sedert die Reformasie by verskeie geestelike liedere gebruik is. 

Johann Sebastian Bach (*21 Maart 1685, Eisenach; †28 Julie 1750, Leipzig) het sy skoolopleiding begin aan die Lateinschule in Eisenach waar hy ’n grondige humanistiese opvoeding ontvang het. Sy vroeë musiekopleiding ontvang hy waarskynlik van sy vader en dan later klawerbordonderrig (ook orrel) by sy ouer broer, Johann Christoph (1672-1603) in Ohrdruf. Hier is hy ’n leerling aan die Lyceum. In Maart 1700 vertrek hy na Lüneburg waar hy ’n leerling word van die Michaelisschule en in die Mettenchor sing. Hy is veral bekend om sy suiwer sopraanstem. Nadat sy stem gebreek het, is hy aangewend as begeleier en violis. Tydens die herstel van die orrel van die skool in 1701 maak hy kennis met orrelbou deur die orrelbouer JB Held. In die Johanniskirche was Georg Böhm (1661-1733) die orrelis en hy het Bach se vroeë stylontwikkeling waarskynlik beïnvloed. In hierdie tyd onderneem Bach verskeie reise, onder meer na Hamburg waar hy die vermaarde orrelis van die Catharinenkirche, JA Reincken (16231722), hoor speel. Vaste inligting oor Bach se bewegings na die tyd in Lüneburg word eers in Maart 1703 gevind toe hy as hofmusikus in diens van hertog Johann Ernst was. In Augustus 1704 aanvaar hy die orrelpos in die Neukirche in Arnstadt. In hierdie tyd onderneem hy ook die veelbesproke reis per voet na Lübeck. Die volgende periode in Bach se lewe breek aan toe hy, na die dood van die orrelis JG Ahle in Mühlhausen, die orrelis van die St Blasiuskerk word. ’n Belangrike wending vind plaas toe Bach in 1708 as hoforrelis en in 1714 as kapelmeester van hertog Wilhelm Ernst in Weimar aangestel word. In Augustus 1717 verhuis Bach weer toe hy die pos as kapelmeester van prins Leopold van Cöthen aanvaar. In die laaste tydperk van sy professionele lewe dien hy as kantor van die Thomaskirche in Leipzig (1723-1750). Hy het bekendheid verwerf as orreladviseur, onderwyser en orrelis. Sy talle komposisies sluit in kantates, passies, oratoriums, klawerbord- en ander instrumentale musiek. 

Bronne 
CGLK: 386-390; Cillié: 190-191; NGBF: 44-113; WWG: 28-29.