Lied 345

Sections

Lirieke

1. Kom, alle getroues,
vrolik en vol vreugde,
o kom in die gees nou na Betlehem!
Loof daardie Kindjie tot ons heil gebore
kom buig daar in aanbidding,
kom buig daar in aanbidding,
kom buig daar in aanbidding,
voor Jesus, die Heer.

2. 'n Kind is gebore;
loof die God van liefde!
Hy kom ons verlos, Hy is Wonderbaar,
Raadsman en Sterke, God en Vors van vrede
Ons buig in blye aanbidding,
ons buig in blye aanbidding,
ons buig in blye aanbidding,
Verlosser en Heer!

3. Kom, lofsing die Here;
Hy is onse Koning.
Vir ons word Hy mens en oorwin die dood.
Hy heers met reg in hemel en op aarde -
buig dankbaar in aanbidding,
buig dankbaar in aanbidding,
buig dankbaar in aanbidding,
voor Christus, die Heer!

4. Kom lofsing die Here,
loof Hom, al wat lewe!
Wees vrolik, besing nou sy majesteit.
In U, Getroue, bly ons ook behoue.
Ons prys U in aanbidding,
ons prys U in aanbidding,
ons prys U in aanbidding,
Gesalfde en Heer!

Geskiedenis

Teks 
Die meeste outoriteite dateer die oorsprong van hierdie lied as 17de of 18de-eeus. Daar is geen manuskripkopieë vroeër as die middel van die 18de eeu oorgelewer nie. Alhoewel dit in Latyn geskryf is, kan die oorsprong Engels wees aangesien dit eerste voorkom in Engelse Katolieke liedboeke. Dit is ook moontlik dat die lied, gegewe sy groot gewildheid in Frankryk, daar ontstaan het en toe na Engeland oorgebring is. Die liedteks word sonder historiese bewyse toegeskryf aan St Bonaventura, ’n prominente skolastiese onderwyser van die 13de eeu. Die teks word ook aangetref in ’n manuskrip van die Kollege in Douai. Dit is moontlik dat John Francis Wade, ’n Engelse musikus en kopieerder by die kollege, die outeur/vertaler was. In 1841 maak ’n Anglikaanse priester van die Margaret Street Chapel in Londen, Frederick Oakeley, die vertaling wat begin met die woorde “Ye faithful, approach ye, joyfully triumphant”. Nadat hy tot die katolisisme bekeer is, hersien hy dit na “O, come, All Ye Faithful”. Dit is gepubliseer in FH Murray (1820-1902) se A Hymnal for Use in the English Church (Londen, 1852). ’n Ander weergawe deur Edward Caswell (1814-1878) verskyn in sy Lyra Catholica (1848), maar is gewysig deur Philip Schaff (1819-1893) vir die weergawe in sy Christ in song (New York, 1870). Die vertaling wat egter die wydste gebruik word, is dié van Oakeley soos dit gedruk is in Murray se Hymnal. 

Om die teks in historiese konteks te plaas moet daar kennis geneem word van die feit dat meer strofes later bygevoeg is, waarskynlik deur ab Etienne Jean François Borderies (1764-1832), wat na Engeland verban is gedurende die Franse Revolusie. Hy behou Wade se eerste strofe, maar voeg drie nuwe strofes van sy eie by. Hierdie weergawe word vandag steeds in Frankryk gesing. Later het ’n anonieme skrywer nog ’n strofe bygevoeg. Die agt-strofige weergawe (vier van Wade, drie van Borderies en een anoniem) is vir die eerste keer gepubliseer in Thesaurus Animae Christianae (Mechlin, c 1850). Hiervan is weer eens ’n groot aantal vertalings en weergawes gemaak. 

Daar was ook verskeie Nederlandse vertalings van die lied in omloop. ’n Afrikaanse vertaling deur GBA Gerdener (#157) is gepubliseer in Die Nuwe Halleluja (1931). In sy bundel Cantate (1934) verskyn nog ’n Afrikaanse vertaling deur J Baumbach (#153). 

221 222 Liedboekgids 

Die teks is hersien in Die Halleluja (1938 en 1951) waar dit bekend staan as “Kom herwaarts, getroues”. Vir die 1978-bundel het Attie van der Colf (#164) ’n weergawe gemaak wat nou aansluit by die teks in Die Halleluja (1951). Van der Colf se teks is onveranderd oorgeneem in die Liedboek (2001). 

John Francis Wade (*16 Augustus 1711, Engeland; †1786, Douay, Frankryk) het waarskynlik gestudeer aan die Dominikaanse Kollege in Bornhem, Vlaandere. Wade, ’n Katoliek, het oënskynlik na Frankryk uitgewyk as gevolg van die diskriminasie teen Katolieke in 18de-eeuse Engeland, veral na die Jakobynse Rebellie van 1745. Hy het die grootste deel van sy lewe in die klooster van Douay in Frankryk gewoon. Daar was ’n Engelse kollege waar Katolieke vlugtelinge welkom was. Hy was ’n kopieerder van manuskripte en onderrig ook Latyn en kerkmusiek aan die kollege in Douay. Die vroegste manuskrip van Wade word om 1743 gedateer. Die manuskripte is almal geteken “Ad usum Chori Anglorum – Joannes Franciscus Wade Scripsit”. Wade verkoop handgeskrewe kopieë van “chant” vir gebruik in die kapelle van welgestelde families. Hierdie gekopieerde manuskripte het bekend gestaan as Cantus Diversi pro Dominicis et Festis per annum (1751). Hy word ook genoem die “vader van die plain chant-herlewing” in Engeland. Sy pragtige musiekmanuskripte sluit in antifonale, graduale, musiek vir Vesperdienste, dienste vir die dooies en boeke met verskillende chants. Die manuskripte en boeke dui op sterk bande met die kapelle van ’n aantal Londense ambassades wat deur invloedryke Katolieke aristokrate ondersteun is. Gedrukte boeke met plain chant sluit in ’n graduaalboek en ’n psalter. Wade se invloed rakende kerkmusiek word bevestig in sy manuskripte en gedrukte bronne wat ook insluit An Essay on the Church Plain Chant (Londen, 1782) en die uitgewer Novello se plain chant publikasies. 

Frederick Oakeley (*5 September 1802, Shrewsbury; †29 Januarie 1880, Londen) was ’n vaardige vertaler van Latynse himnes. Hy gradueer aan die Christ Church College, Oxford, waar hy in 1824 ’n BA-graad verwerf. Hy is in 1826 ingeseën as priester in die Anglikaanse kerk. Hy gaan na Margaret Street Chapel, waar Richard Redhead (#239) die orrelis was, en waar die liturgie sterk beïnvloed was deur die Oxford Movement. In 1845 verlaat hy Margaret Street Chapel, sluit hom aan by die Katolieke Kerk en werk onder die armes van Westminster. In 1852, met die vorming van die Katolieke Kerk se hiërargie, word hy domheer van Westminster. Hy doen baie werk onder die armes in Londen met wie hy groot simpatie gehad het. 

Melodie 
Die oorsprong van die melodie ADESTE FIDELES is ook gekompliseerd en onsekerheid heers daaroor. ADESTE FIDELES is vernoem na die eerste woorde van die oorspronklike Latynse teks. Om verder tot hierdie komplekse geskiedenis by te dra, is die lied ook gesing in die kapel van die Portugese ambassade in Londen waar dit baie populêr was in die middel van die 18de eeu. Daar is toe gemeen dat dit van Portugese herkoms was en is verkeerdelik die naam PORTUGESE TUNE gegee deur die Duke van Leeds. Hy het dit onder hierdie titel ingesluit in ’n konsert van ou musiek waarvan hy die direkteur was. Die melodie is later ook toegeskryf aan John Reading (†1692), orrelis van Winchester College vanaf 1675-1681. 

Die vroegste gedrukte bron waarin die melodie voorkom, is An essay on the church plain chant (1782) alhoewel dit reeds in manuskripformaat was in 1751, 1760 en 1782. Dit wil voorkom of die teks en die melodie byeengebring is in die Katolieke Kerk gedurende die eerste deel van die 18de eeu. Sommige geleerdes is van mening dat Wade die teksskrywer asook die komponis van ADESTE FIDELES was en dit geskep het op fragmente van verhoogmusiek. In die oorspronklike Wade-manuskripte was die melodie in drieslagmaat. Sommige Protestantse liedboeke het ook ander tekste by hierdie melodie opgeneem. Ira Sankey het byvoorbeeld hierdie melodie gebruik vir “How firm a foundation”, maar die kombinasie van die Kersteks en die melodie bly een van die populêrste Kersliedere. 

Bronne 
CDH; Cillié: 180-181; CWH: 75-76; HC: 61-62; HCHAM: 575; HLH: 84; Knight: 80; PHH: 490-491; Watson: 279-280.