Lied 344

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. O die goeie tyding,
o die blye tyding -
helder klink dit met Kersfeestyd:
Diep was ons verlore,
Christus is gebore.
Juig dan, almal, jubel oor die
saligheid!

2. O die goeie tyding,
o die blye tyding
kom met krag in die Kersfeestyd:
Hy, die Hemelkoning,
maak by mense woning -
Hy, gebore in die volheid van die tyd!

3. O die goeie tyding,
o die blye tyding -
oral hoor ons: Dis Kersfeestyd.
Blye jubelkore
loof die Kind, gebore.
Juig nou mensdom,
prys Hom tot in ewigheid!

Geskiedenis

Teks 
Johannes Falk en Heinrich Holzschuher was die digters van die oorspronklike Duitse teks: “O du fröhliche, o du selige, gnadenbringende Weihnachtszeit!”. Dit is waarskynlik geskryf in 1816 en was ingesluit in Falk se Auserlesene Werke (Leipzig, 1819). Falk het die eerste strofe geskryf en Holzschuher strofes twee en drie. 

’n Baie vry verwerking van die teks in Nederlands, “O hoe heerlijk, hoe begeerlijk”, is afgedruk in Die Halleluja (1903). Dis nie bekend wie die vertaling gedoen het nie. “O die vrolike, o die salige” van GBA Gerdener (#157) is nader aan die Duitse teks en verskyn in Die Nuwe Halleluja (1931). Vir sy weergawe “O die goeie tyding, o die blye tyding” in die 1978-bundel het Attie van der Colf (#164) Gerdener se teks as basis geneem. Dié teks is net so oorgedra in die Liedboek (2001). 

Johannes Daniel Falk (*28 Oktober 1768, Danzig; †14 Februarie 1826, Weimar) was die seun van ’n pruikmaker. Met ’n beurs van die stadsraad van Danzig skryf hy in 1791 in vir studies in die klassieke en teologie aan die Universiteit van Halle. Na voltooiing van sy studies werk hy ’n tyd lank as privaat onderwyser. In 1798 vestig hy hom in Weimar waar hy ook toetree tot die kringe van die digters Herder, Goethe en Wieland. Hy verwerf ’n reputasie as skrywer van satiriese werke. Gedurende die Napoleontiese oorloë en na die slag van Jena (1806) vind hy sy ware roeping as filantroop. Hy werk in die veldhospitale en sien om na behoeftige kinders. Hy stig ’n“Vereniging vir vriende in nood” en kort daarna begin hy ’n toevlugsoord vir arm kinders. 

Heinrich Holzschuher (*11 Februarie 1798, Wunsiedel, Oberfranken; †13 Desember 1847, Schloss Bug, Hof an der Saale) was ’n maatskaplike werker. Hy werk by internerings- en verbeteringskole onder die jeug. In 1831 word hy skrywer by die Beierse Ständeversammlung in München waar hy ook mederedakteur van die Bayerische Dorfzeitung word. In verskeie geskrifte maak hy voorspraak vir prakties- Christelike volksopvoeding en publiseer verskeie van sy eie gedigte. Hy skryf in 1827 nog twee strofes by Johann Daniel Falck se lied “O du fröhliche” en skep daarmee een van die gewildste Kersliedere. 

Melodie 
Die melodie, O DU FRÖHLICHE, O DU SELIGE, is ’n 18de-eeuse Italiaanse Kerslied wat Johann Gottfried Herder tydens ’n reis in Italië in Sicilië opgeteken het. Die melodie is elke jaar gesing deur Italiaanse vissers op 6 Desember op die fees van St Nikolaas. Falk het die melodie gevind in Herder se versameling Stimmen der Völker in Liedern (Leipzig, 1778-1779). Vandag is die lied onbekend in Sicilië, maar dit word nog in Venesië gesing op die fees van die Maagd Maria. Die Latynse teks lui: “O Sanctissima, O Purissima, Dulcis Virgo Maria”. Die melodie staan ook bekend as O SANCTISSIMA. 

Johann Gottfried Herder (*26 Augustus 1744, Mohrungen, Oos-Pruise; †18 Desember 1803, Weimar) leer van kleins af die geestelike liedere en melodieë ken by sy vader wat koster, kantor en onderwyser was en hom ook onderrig het. Hy besoek die Lateinschule in Mohrungen en leer daar klawerbordspel en die uitvoering van besyferde bas. Van 1762 tot 1764 studeer hy teologie en filosofie in Königsberg en word hierna beroep as onderwyser aan die Domskool in Riga. Hy was terselfdertyd as prediker verbonde aan die Hauptkirche in die stad waar hy saamgewerk het met die Bach-leerling Johann Gottfried Müthel (1728-1788) wat kantor en komponis was. Weens onenigheid bedank Herder uit sy amp in 1769 en onderneem opvoedkundige reise deur Frankryk en Duitsland. Hy ontmoet onder andere die digters Mathias Claudius in Hamburg en Goethe in Straatsburg. In 1771 word hy aangestel as hofprediker van graaf Wilhelm van Schaumburg/Lippe en begin ’n opwindende samewerking met JS Bach se seun Johann Christoph (1732-1795) wat van Herder se kantate-, oratoriumen operatekste getoonset het. Herder werk in verskillende velde soos onder meer literatuur, kuns, kultuurgeskiedenis en opvoedkunde, maar het veral ’n groot bydrae gemaak tot die herlewing van kerkmusiek. In Weimar, waar hy sedert 1776 gewerk het, het hy veral te make gehad met die hervorming van die kerkmusiek en die vernuwing van die kerklied. Hy was ook die skepper van die Weimarisches Gesangbuch (Weimar, c 1800). Verder was hy ’n versamelaar van volksliedere en het hiermee aanleiding gegee tot latere navorsing op hierdie gebied. 

Bronne 
CDH; Cillié: 201-203; KLEG: 144-145, 159.