Lied 343

Vers 1

1. Loof die God van ons verlange!
Wees verheug, sing met vreug
vrolike gesange!
Soos beloof reeds lank tevore,
laat U, Heer, dit gebeur –
Christus is gebore!

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Fröhlich soll mein Herze springen – Paul Gerhardt 1653; J Baumbach 1934; Izak de Villiers 1978 / 2001 ©
Warum sollt ich mich denn grämen – Johann Ebeling 1666
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks 
Die oorspronklike Duitse teks “Fröhlich soll mein Herze springen”is geskryf deur Paul Gerhardt (#186) en kom voor in die derde uitgawe van Johann Crüger (#156) se Praxis Pietatis Melica (1648) met ’n melodie van Crüger. Dit verskyn ook in Crüger se boek D. M. Luther’s und anderer vornehmen geistreichen und gelehrten Männer Geistliche Lieder und Psalmen (Berlyn, 1653). Die lied sou die Salzburgse emigrante getroos het, sommige van wie in 1734 in Georgië vestiging gevind het. Hulle was op weg deur Swaben in 1732 nadat hulle deur die Katolieke uit hul vaderland gewerp is. Die teks het ook baie beteken vir Friedrich Wilhelm I van Pruise op sy sterfbed. Die oorspronklike agste strofe is blykbaar deur Gerhardt op sy sterfbed gesê as sy laaste woorde op 7 Junie 1676. Die Paul Gerhardt-gedenkkapel in die begraafplaas van Gräfenhainichen vertoon die eerste reël uit hierdie vers. 

Eerwaarde J Baumbach (#153) het die lied in Afrikaans vertaal en opgeneem in sy boek Cantate (1934) wat vir die Berlynse Sendinggenootskap bedoel was. Enkele strofes is ook gepubliseer in die FAKsangbundel van 1961 en 1979. In die 1978-bundel is ’n nuwe teks van Izak de Villiers (#153) gepubliseer. Hierdie teks is met enkele wysigings opgeneem in die Liedboek (2001). 

Melodie 
Johann Georg Ebeling se melodie, WARUM SOLLT ICH MICH DENN GRÄMEN, verskyn vir die eerste maal in sy Das ander Dutzet Geistlicher AndachtLieder (Frankfurt an der Oder, 1666). Hier is dit die setting vir ’n ander gedig van Gerhardt, naamlik “Warum sollt ich mich denn grämen” – vandaar die titel van die melodie. 

Johann Georg Ebeling (*8 Julie 1637, Lüneburg; †4 Desember 1676, Stettin) was die seun van ’n drukker in Lüneburg en gaan skool aan die Johanneum daar. Hy word deeglik in musiek onderrig deur die kantor van die Johanniskirche, Michael Jacobi (1618-1663). Terwyl hy studeer aan die Universiteit van Helmstedt (1658-1660), is sy musiekstudies geborg deur Christian Ludwig. 

Na ’n tydjie aan die Collegium Musicum in Hamburg (1660-1662), gaan hy in 1662 na Berlyn waar hy Johann Crüger (#156) opvolg as kantor van die St Nicholaskerk. Hier leer ken hy vir Paul Gerhardt, wat as diakonus by die kerk gewerk het sedert 1657. Ebeling word terselfdertyd ook die musiekdirekteur van die Gimnasium van die Gray-Klooster (’n kollege van die St Nicholaskerk). As gevolg van interne kerkpolitiek (wat gelei het tot die afdanking van Gerhardt) besluit Ebeling om Berlyn te verlaat in 1667. In 1668 word hy skoolkantor en assistent-direkteur van musiek en professor in Grieks en digkuns aan die Carolinen Gymnasium in Stettin. Sy bydrae tot die Duitse himnologie moet nie onderskat word nie. Hy is byvoorbeeld die eerste persoon wat van Paul Gerhardt se liedtekste uitgegee het in sy Paulini Gerhardi Geistliche Andachten (1666 en 1667). Naas polifoniese verwerkings skryf Ebeling ongeveer 150 kerkliedmelodieë, baie hiervan vir tekste van Gerhardt. Naas WARUM SOLLT ICH MICH DENN GRÄMEN kom nog ’n melodie van hom in die Liedboek voor, naamlik DU MEINE SEELE, SINGE (Lied 469). 

Bronne 
CDH; Cillié: 200-201; CWH: 445; HC: 49-50.