Lied 342

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. O Jesus, ons Heer, U het ons verbly,
uit boeie kom U ons bevry;
U kom uit heerlik' hemelryk,
en U word aan die mens gelyk
so skenk U, o Heer, genade vir my!

2. O Jesus so rein, o Jesus so goed,
met krip en kruis deur ons begroet.
Waar haat was, kom U liefde gee,
die blye boodskap deel U mee.
So bring U weer rus, Heer,
in ons gemoed.

3. Aan U alle eer, aan U alle dank,
aanbidding, lof, ons lewe lank!
U kom op die bestemde tyd,
kom stig in ons u vrederyk.
Hoe nuut is die lied,
hoe heerlik sy klank!

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike Duitse teks “O Jesulein süss” is geskryf deur Valentin Thilo in 1650. ’n Vrye verwerking van die teks deur GG Cillié is opgeneem in Die Halleluja (1951). Attie van der Colf (#164) het ’n nuwe teks geskep vir die 1978-bundel en dit is in hierdie vorm opgeneem in die Liedboek (2001). 

Valentin Thilo (Thiel) (*19 April 1607, Königsberg; †27 Julie 1662, Königsberg) wat albei sy ouers op 13-jarige ouderdom verloor het, se onderrig is deur twee professore van die Universiteit van Königsberg oorgeneem. Een van sy belangrike leermeesters was Samuel Fuchs – ’n professor in retoriek. In 1632 verlaat hy die universiteit en gaan studeer vir twee jaar in Leiden. Met sy terugkeer volg hy Fuchs op as professor in spraakkuns (retoriek) en word vyf maal gekies as dekaan van die Fakulteit Filosofie. Hy dien ook vir twee termyne as rektor van die Universiteit van Königsberg. Thilo was hoog geag en besonder geliefd. Vroeg reeds word hy ’n lid van die digterorde van Simon Dach (1605-1659). Hierdie orde beklemtoon veral die Duitse spraakkuns en lei daarmee ook ’n bloeitydperk in vir die Duitse evangeliese kerklied. 

Gabriel Gideon (Gawie) Cillié (*13 Julie 1910, Stellenbosch; †15 Junie 2000, Strand) was ’n astrofisikus, koordirigent, orrelis en komponis van gewyde Afrikaanse koor- en orrelmusiek. Hy ontvang sy skoolopleiding aan die Bloemhof Laerskool Volume 1 

en die Hoër Jongenskool in Stellenbosch. Hy studeer aanvanklik aan die US (BSc, 1928; MSc, 1929) en daarna met verskeie beurse (onder meer die Rhodes-beurs) in astrofisika aan die Universiteite van Oxford (1930) en Harvard (1933). Cillié keer in 1935 terug na Suid-Afrika en hy aanvaar ’n pos as junior dosent in Toegepaste Wiskunde aan Wits. Hy dien ook in 1938 vir ses maande as senior dosent in die Departement Wiskunde aan die UP. In 1939 word hy aangestel as professor in Wiskunde aan die US – ’n pos wat hy tot met sy aftrede in 1975 beklee het. 

Sy musiekopleiding begin reeds toe hy as skoolkind en student onderrig in teorie gehad het. Dis egter die orrellesse by Prof FW Jannasch (1853-1930) wat deurslaggewend was en Cillié het ’n groot liefde vir gewyde musiek ontwikkel. Hy dien as orrelis van die Moedergemeente in Stellenbosch (1939-1964) en vestig ondermeer ’n tradisie van koorsang in dié gemeente asook in die Studentekerk. As prominente kerkmusikus voorsien hy in die skrale repertorium van Afrikaanse koormusiek deur vertalings en eie komposisies. Hy versamel ook volksmelodieë. In 1941 word hy dirigent van die Stellenbosch Universiteitskoor en in 1946 ook van die Kweekskoolkoor. Cillié dra grootliks by tot die oplewing in die Afrikaanse koorkultuur. Hy werk mee aan die samestelling van Die Halleluja (1951) en die Afrikaanse Koraalboek (1956). Hy dien ook op kommissies wat die hersiening van die Afrikaanse psalmmelodieë en die uitbreiding van die Afrikaanse Gesangboek behartig het. Hy was ’n lid van die FAK se musiekkommissie en werk mee aan die hersiening van die FAKsangbundel (1961). Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ken in 1964 ’n erepenning aan hom toe as blyk van waardering vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek. Alhoewel hy in 1964 as aktiewe kerkmusikus bedank het, het hy nou betrokke gebly in die ontwikkeling van die kerkmusiek. Die UOVS nooi hom om as dosent in Kerkmusiek in die Departement Musiek saam met Barbara Louw te werk. ’n Afdeling Kerkmusiek is toe tot stand gebring. Hy is ook bekend vir die samestelling van twee koorboeke vir skool- en kerkkore: Kom loof die Heer: Deel 1 (1979) en Deel 2 (1982). Een van sy opdragte was ook om die boek Waar kom ons Afrikaanse gesange vandaan? (1982) te skryf. Hy was onder meer een van die samestellers van die Liturgiese Orrelmusiekreeks waarin ook van sy orrelkomposisies opgeneem is. Hy dien weer op die hersieningskommissies van die Afrikaanse Psalmen Gesangebundel (1978) en tot met sy dood ook op dié van die Liedboek van die Kerk (2001). Die volgende psalmmelodieë van Cillié is in die Liedboek opgeneem: 13 (39), 15, 24 en 101. SAKOV het ook aan hom erelidmaatskap toegeken in 1985. ’n Eredoktorsgraad DPhil is in April 1993 aan hom toegeken deur die US. 

Melodie 
Die komponis van die melodie O JESULEIN SÜß, O JESULEIN MILD is onbekend, maar dit is vir die eerste maal gedruk in Auserlesene Catholische Geistliche Kirchengesang (Keulen, 1623) by die teks “Ist das der Leib, Herr Jesu Christ”. ’n Paar dekades later verskyn dit in Samuel Scheidt (1587-1654) se TabulaturBuch geistlicher Lieder und Psalmen (Görlitz, 1650) by die Kersteks “O Jesulein süß, o Jesulein mild” en dit is hoekom die melodie hierdie naam dra. 

Bronne 
Cillié: 196-197; CWH: 214-215, 382; Erasmus: 18-41, HC: 221; Malan I: 266-267; www.bach-cantates.com