Lied 340

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Kom ons loof die Jesuskind,
Hy is waarlik Koning.
Ons Verlosser het gekom,
maak by ons sy woning.
Vir ons sondes kom Hy sterf;
so word ons vergewe.
Nou kan ons Hom loof en prys -
Heer so hoog verhewe.

2. Tussen doeke lÍ die Kind,
in 'n krip so need'rig.
Laat ons al die lof en dank,
bring aan Hom vir ewig.
Dit is sy geboortedag,
daarom sing ons: Ere!
Ons sal Hom nou dank en prys -
Heer so hoog verhewe!

3. Wyse manne kom van ver;
buig voor Hom die Koning.
Herders bring Hom al die eer;
prys Hom in aanbidding.
Eng'le in die sterrenag
jubel bly in kore.
Laat ons saam 'n loflied sing:
Jesus is gebore.

Geskiedenis

Teks 
“Kom ons loof die Jesuskind” is ’n nuwe teks wat geskryf is deur Gideon Brits vir die Liedboek (2001). 

Gideon Brits (*13 September 1965, Pretoria) het van jongs af ’n buitengewone belangstelling in musiek en sang getoon. Hy begin klavierlesse neem op 11-jarige ouderdom en sing in verskeie kore. In 1980 begin hy met orrellesse by Jan-Hans Mathlener aan die Konservatorium vir Musiek in Pretoria. Later sit hy sy orrellesse voort by Riaan Steyn. Tog het hy in die natuurwetenskappe gestudeer en behaal ’n BSc-graad aan die UP in 1990. In 1991 verwerf hy ook die Hoër Onderwysdiploma aan dieselfde universiteit. Na agt jaar as onderwyser in wiskunde en wetenskap aanvaar hy ’n pos by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Veld- en Weidingsinstituut te Roodeplaat, waar hy navorsing doen op landbougewasse. Hy kwalifiseer ook later as saadanalis en bestuur die LNR se saadlaboratorium vir twee jaar. Sedert Januarie 2011 is hy dosent in Wiskunde aan die UP. 

Vanaf 1987 beklee Brits orrelposte in die NG gemeentes Hartbeeshoek en Wonder-park in Akasia. Sedert 2000 is hy orrelis van die NG gemeente Overkruin in Wonder-boom, Pretoria. Hy tree gereeld op saam met kerk- en professionele kore en soliste by koor- en sangfeeste. Brits is sedert September 2000 die streekverteenwoordiger van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) in die Pretoria-streek. Hy het ook reeds twee CD’s die lig laat sien: Aan U die eer (1997) en Besing die lof van Jesus saam (2001) wat onderskeidelik in die NH Kerk Hartbeeshoek en NG Kerk Overkruin opgeneem is. Naas Lied 340 in die Liedboek het hy ook enkele tekste geskryf wat in die VONKK-aanlynliedboek opgeneem is: VONKK 147, 199 en 260. Hy beskou hom nie “as ’n uitvoerende orrelis nie, maar eerder [as] ’n dienaar van die gesonge Woord in die erediens waar hy sy talent en passie, Sondag vir Sondag, tot eer van God aanwend”. 

Melodie 
Die melodie GOOD KING WENCESLAS (ook bekend as TEMPUS ADEST FLORIDUM) kom uit die Piae Cantiones ecclesiasticae et scholasticae veterum episcoporum (Greifswald, 1582). Dit is ’n versameling van 74 laat-Middeleeuse Latynse liedere en is saamgestel deur die Finse geestelike en Protestantste skoolhoof van die Turku-Katedraalskool, Jacobus Finno (Jaakko Suomalainen, 1540-1588). Die uitgewer was Theodoricus Petri Rutha van Nyland (ook Uusimaa) (1560-1630). Die meeste van die liedere is geestelik, maar sommige soos Tempest adest floridum, ’n“carol”vir die lente, is sekulêre skoolliedere. Tempest adest floridum (“Dit is tyd vir die blomme”) is die bron vir die melodie GOOD KING WENCESLAS wat ’n populêre Kerslied geword het. Volgens legende het ’n dapper koning die strawwe winterweer getrotseer om aalmoese aan die armes te gee op St Stephansdag (26 Desember). Dit verwys na die historiese figuur Wenceslaus I, die hertog van Boheme (907-935). Die titel van die melodie kan verbind word met hierdie historiese figuur. 

Die lied vind sy weg na Engeland in 1853. In hierdie jaar keer die Britse ambassadeur in Swede, GJR Gordon, terug na Engeland met ’n kopie van die 1582-uitgawe van Piae Cantiones en in 1853 skryf die Engelse liedskrywer, John Mason Neale (#320), die “Good King Wenceslas”-teks in samewerking met sy musikale uitgewer Thomas Helmore. Dit verskyn vir die eerste keer in Carols for Christmas and Eastertide (1853). Neale kon die lied reeds vroeër geskryf het, want die legende van St Wenceslas kom reeds voor in sy Deads of Faith (1849). Volume 1 

Bronne 
CDH; CWH: 76, 794; e-poskorrespondensie met Gideon Brits, Augustus 2014.