Lied 339

Sections

Lirieke

1. Halleluja! Prys die Heer,
mensdom, bring aan Hom die eer!
Juig, die Woord het mens geword;
só Gods liefde uitgestort.
Vir die mens in skuld verlore
bring Hy heil en heerlikheid.
Prys en roem sy majesteit.
Juig, die Heiland is gebore!

2. Sing en juig in dankbaarheid,
loof die hoogste Majesteit -
Hy wat in die hemel troon,
het hier onder ons kom woon!
Loof Hom, loof met vreugdekore,
sing 'n nuwe jubellied,
juig - die wonder het geskied -
Jesus Christus is gebore!

Geskiedenis

Teks 
In die Evangelische Gezangen (1806) was daar twee gesange met hierdie melodie (Ps 150) en teksinhoud, naamlik Gezang 116 “Lof en dank en heerlijkheid”van Herman Bruining en Gezang 117 “Halleluja! Looft den Heer” van Abraham Rutgers (#151) en Rhijnvis Feith (#157). Die eerste dra die opskrif “Op Jezus Geboorte” en die tweede een “Engelenzang”. Met die Afrikaanse vertaling in die AGB (1944) is hierdie twee tekste tot een saamgevoeg, naamlik “Halleluja, prys die Heer”. Dit is gewysig deur Gerjo van der Merwe (#151) vir die 1978-bundel en so oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Herman Adriaan Bruining (*15 November 1738, Rotterdam; †7 Januarie 1811, Veere) was die seun van ’n predikant en studeer teologie in Utrecht. Hy was predikant in die Hervormde gemeentes Kolham (1763), Workum (1767) en Veere (1772). As predikant geniet hy besonder hoë aansien. Hy skryf ook poësie en van hom verskyn onder meer Proeve van bijbelen mengelpoëzy (Veere, 1792). Hy was die afgevaardigde van die provinsie Zeeland op die kommissie wat die Evangelische Gezangen (1806) voorberei het.

Melodie 
Die melodie GENEVAN 150 wat by hierdie lied gebruik word, is dié van Psalm 150: “Or soit loué l’Eternel”. Dit het vir die eerste keer verskyn in die voltooide Les Pseaumes de David mis en rime Francoise (Genève, 1562) wat die vermoede laat ontstaan het dat dit deur Calvyn se musikale medewerker, Pierre Dagues, gekomponeer is. Die benaming Maitre Pierre wat in amptelike dokumente in Genève gevind word, kan egter op verskeie persone dui. Geleerdes meen dat dit na alle waarskynlikheid Pierre Davantès is. Daar is verskeie verwysings na ’n sekere Maitre Pierre wat vir sy werk aan die toonsetting van die psalms vergoed is en ’n terugbetaling van 20 Floryne en 5 centimes aan die digter Theodore Béza vir die bedrag wat hy aan die “Precentor Maistre Pierre” betaal het vir sy werk om die psalms te toonset. Aannames dat Louis Bourgeois die komponis was, kon ook nog nie bewys word nie. 

Oor Pierre Davantès (*1525, Rabastens, Suid-Frankryk; †31 Julie 1561, Genève, Switserland) se jeugjare is daar weinig bekend. Hy is gemoeid met die opvoeding van die jeug en onderrig in die antieke tale Latyn, Grieks en Hebreeus. Hy was ’n gerekende humanis en het teen 1560 reeds ’n reputasie gehad as vooraanstaande boekdrukker. Hy gee onder meer die werke van Hippokrates uit. In 1559 verkry hy burgerregte en vestig hom in Genève. Naas sy werk as filoloog en pedagoog hou hy hom ook besig met musiekteorie en lewer ’n belangrike bydrae op die gebied van musieknotasie. So verkry hy in 1560 die alleenreg om die volledige Franse psalmberymings uit te gee. Die Pseaumes de David, mis en rhythme Françoise verskyn in 1562 in Genève. As melodieskrywer dra hy 40 melodieë by tot hierdie bundel. 

Bronne 
CGLK; Cillié: 209-210; Hymnary.org; Pidoux: 1989a-c; 1962:I; WIWIG: 71-72.