1. Loof God, o Christen! Hy is groot
op sy verhewe troon.
Hy het sy hart vir ons ontbloot;
sy liefde ons getoon (x2)
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
Die teks en die melodie van hierdie lied is geskryf deur Nikolaus Herman. Dit was bedoel vir die kinders van Joachimstal waar Herman werksaam was. Alhoewel dit reeds geskryf is in 1554 word dit vir die eerste keer gepubliseer in Herman se Die SonntagsEvangelia (Wittenberg, 1560). Dit was ’n boek met liedere gebaseer op die evangelielesings vir die kerkjaar.
Izak de Villiers het in die 1978-bundel ’n nuwe teks geskep en ’n gewysigde weergawe hiervan is in die Liedboek (2001) opgeneem.
Melodie
Die melodie LOBT GOTT, IHR CHRISTEN ALLE GLEICH is geskryf deur N Herman en opgeneem in sy bundel Ein Christlicher Abentreien (Leipzig, 1554) waar dit die setting was vir die komponis se kinderlied oor Johannes die Doper: “Kommt her, ihr liebsten Schwesterlein”. Dit is gekombineer met die Kersteks“Lobt Gott, ihr Christen alle gleich” in Die SonntagsEvangelia (Wittenberg, 1560).
Nikolaus Herman (*c 1500, Altdorf, Nürnberg; †15 Mei 1561, Joachimstal, Boheme) bring die grootste deel van sy lewe deur in die myndorp, Joachimstal. Oor sy vroeë lewe is niks bekend nie, maar hy begin as 18-jarige sy loopbaan as hulponderwyser, orrelis en kantor in Joachimstal. Hier beywer hy hom om die reformatoriese beginsels bekend te stel en vas te lê en voer onder meer ’n briefwisseling met Luther oor die probleme wat hy ervaar. In 1532 neem sy lewe ’n wending met die aanstelling van Herman Johann Mathesius (1504-1565), ’n uitgesproke volgeling van Luther, as predikant in Joachimstal. Die meeste van Herman se 190 kerkliedere is geïnspireer deur die preke van Mathesius. Toe Herman sy amp neerlê in 1557 weens swak gesondheid, verseker die stadsraad hom dat hy as lieddigter en melodieskepper kan voortgaan. Hy hersien en vul sy werk aan en berei dit voor vir publikasie.
Herman was ’n skrywer van tekste sowel as melodieë en het dikwels sy liedere geskryf vir gebruik in huise en skole, maar ’n aantal het wel aanvaarding gevind in die Lutherse kerke. Sy tekste en melodieë is gepubliseer in Die SontagsEvangelia über das ganze Jahr (Wittenberg, 1560) en Die Historien von der Sindfludt (1562). Vir die liedere waarvoor hyself die melodieë geskryf het, steun hy onder meer op Middeleeuse liturgiese gesange en volksliedere.
Bronne
CGLB: 398-399, 1182-1183; Cillié: 177; CWH: 61-62; HC: 68-69; KLEG: 145-148; PHH: 328.