Lied 326

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Maak oop die poorte, deure, wyd!
Die Koning kom in heerlikheid!
Oorwinnend kom Hy aangery
met klere voor Hom uitgesprei.
Die Heerser van die hemelryk
is ook ons Heiland tegelyk.
Ons gee die Koning eer!
Ons prys u Naam, o Heer!

2. Sy wese is geregtigheid;
sy sieraad is sagmoedigheid;
sy koningskroon is heiligheid;
sy septer is barmhartigheid.
Ons maak aan Hom ons skuld bekend.
Aan al ons nood maak Hy 'n end.
Hy kom, die Heer so groot!
Maak oop, maak oop die poort!

3. Geseënd is die een wat Hom
as Koning groet wanneer Hy kom;
gelukkig dié wat Hom verwag,
wanneer Hy weer kom vol van krag.
Hy is die son van ware vreug
en Hy verlig ons. Sing verheug:
Ons gee die Koning eer!
Ons prys u Naam, o Heer!

4. Maak oop die poorte; wees gereed,
Hy kom wat Jesus Christus heet.
Met liefde en geloof versier,
sal ons vol vreug sy aankoms vier.
Hy kom, beklee met glans en prag,
na elkeen wat sy koms verwag.
Hy kom, die Heer so groot!
Maak oop, maak oop die poort!

Geskiedenis

Teks 
Georg Weissel skryf hierdie teks vir die eerste Adventsondag nadat hy predikant in die Altrossfahrtkirche in Königsberg in 1623 geword het. Dit verskyn vir die eerste keer in die Erster Theil Preussiche Fest Lieder (1642), sewe jaar na die dood van die skrywer. 

Eerwaarde J Baumbach (#153) het “Macht hoch die Tür” in Afrikaans vertaal in sy sendinggesangboek Cantate (1934). Izak de Villiers (#153) het die teks versorg vir die 1978-bundel en die Liedboek (2001). 

George Weissel (*1590, Domnau, Königsberg, Oos-Pruise; †1 Augustus 1635, Königsberg) gaan skool aan die Kneiphöfishe Schule vandat hy 11 jaar oud was. Hy studeer verder in die regte aan die Universiteit van Königsberg en daarna in Wittenberg, Leipzig, Jena, Straatsburg, Basel en Marburg. In 1614 word hy rektor van ’n skool in Friedland naby Domnau. Na drie jaar bedank hy en keer terug na Königsberg waar hy sy teologiese studies voortsit. Hy was een van die eerste en oudste lede van die Köningsbergse digterskring, Kürbishütte, waaraan digters soos Johann Franck (#296), Valentin Thilo (1607-1662) en Simon Dach (1605-1659) behoort het. Hy word pastor van die Altrossfahrtkirche in Königsberg in 1623 en bly daar tot sy dood. Weissel was een van die belangrikste vroeë kerkliedskrywers van Pruise en skryf ongeveer twintig liedtekste. 

Melodie 
Die oorsprong van die melodie is onbekend. Dit verkry die naam MACHT HOCH DIE TÜR van die teks waarmee dit gepubliseer is in Freylinghausen se Geistreiches Gesangbuch (Halle, 1704). Hierdie was ’n belangrike bundel vir die Piëtiste en het ’n groot invloed gehad op die Duitse kerklied van die 18de eeu. 

Johann Anastasius Freylinghausen (*2 Desember 1670, Gandersheim, Brunswick; †12 Februarie 1739, Halle, An der Saale) studeer aan die Universiteit van Jena vanaf 1689 tot 1691. Hier word hy aangegryp deur die preke van August Hermann Francke (1663-1727), ’n leidende Piëtistiese prediker. In 1695 gaan hy na Glaucha (Halle) as assistent (sonder salaris vir 20 jaar!) vir Francke. In 1715 volg hy Francke na die St Ulrich’s Kerk in Halle waar Francke toe as pastor aangestel is. In 1727, na Francke se dood, word hy pastor van St Ulrich’s en direkteur van die skool en weeshuis wat Francke begin het. 

Freylinghausen was ’n goeie onderwyser en teoloog, maar sy bydrae tot die himnodie is veral van belang. Hy skryf 44 liedtekste en 22 melodieë en was redakteur van die mees belangrike liedboek van die periode, naamlik die omvangryke Geistreiches Gesangbuch met uitgawes in 1704 en 1714 en na sy dood in 1741 en 1771. 

Hierdie versameling bevat oor die 1 500 liedere (baie van Paul Gerhardt) en omtrent 600 melodieë. Die melodieë verskyn met besyferde bas wat aanduidend is van die toenemende belangstelling in harmonie en instrumente by die begeleiding van die kerklied in die 18de eeu. 

Bronne 
Cillié: 170; CWH: 20; HCLBW: 132-133; HC: 29-31; Hymnary.org; KLEG: 99-100.