Lied 322

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Redder van die nasies, kom;
Godgestuurde Redder, kom;
Seun, gebore uit 'n vrou,
kom na ons; ja, kom tog gou.

2. U kom uit die ewigheid
en word mens op God se tyd;
deur die Heil'ge Gees verwek,
híér gebind aan tyd en plek.

3. Mens uit ons gebrokenheid ,
U keer t'rug in heerlikheid.
God én mens - dié twee in één -
onbegryplik, ons tot seën.

4. Laat ons God die Vader loof,
eer bring aan sy Seun, ons hoof,
hulde aan die Gees bewys,
God Drie-enig altyd prys.

Geskiedenis

Teks 
Die Latynse himne “Veni, redemptor gentium”is een van 12 himnes wat met sekerheid aan Ambrosius toegeskryf word. Hy skryf dit in die vierde eeu, waarskynlik in die jaar 368. Dit word duidelik aan hom verbind deur Augustinus in 372, pous Celestine in 430 en ander vroeë skrywers. Die teks verskyn in ’n aantal agste- en negendeeeuse manuskripte. In 1523 het Martin Luther (#252) ’n taamlik letterlike vertaling van Latynse himnes voorberei en begin met “Nun komm der Heiden Heiland”. Dit was oënskynlik bedoel vir Advent van 1523. Die vertaling is die volgende jaar ingesluit in Eyn Enchiridion oder Handbüchlein (Erfurt, 1524). Sedertdien het hierdie lied een van die bekendste van Luther se Adventsliedere geword. 

Hierdie teks is deur André Hugo (#282) vertaal. Izak de Villiers het dit hersien en ’n derde en vierde strofe is bygevoeg deur Attie van der Colf (#164) vir die 1978-bundel bygevoeg. Die weergawe in die Liedboek (2001) is van Louwrens Strydom (#174). 

Ambrosius van Milaan (*340, Treves, Duitsland; †4 April 397, Milaan) is een van die belangrike Latynse kerkvaders en word ook genoem die vader van die Latynse himnodie. Hy is gebore as die seun van ’n prefek van Gaul. Toe sy vader sterf, verhuis hy en sy moeder na Rome. 

Hy was toe 13 jaar oud en ontvang hier sy opvoeding en opleiding in die regte. Hy het aanvanklik in die regte gepraktiseer, maar is so hoog geag dat hy in 374 as die konsul van Liguria en Aemilia in Noord-Italië aangestel word en het gevolglik na Milaan verhuis. Toe die biskop van Milaan, ’n Ariër, in 374 sterf, het die mense daarop aangedring dat Ambrosius biskop word alhoewel hy nie gedoop of as priester gewy was nie en bloot as lekeprediker en kategeet opgetree het. Hy word gedoop in Desember 374 en ingeseën as biskop van Milaan – ’n pos wat hy tot met sy dood beklee het. Hy gee ’n deel van sy eiendom aan die kerk, lei ’n eenvoudige lewe en bestee baie aandag aan gebed. Hy verdedig die kerk teen die heidene en Arianisme en wy homself aan studie, skryfwerk, prediking, die dissipline van die geestelikes, sorg vir die armes en onderdruktes, instruksies van katkisante en skryf ware gemeenteliedere vir die mense. Alhoewel Ambrosiaanse chant (ook Milanese gelyksang) na hom vernoem is, het hy net die tekste geskryf en nie musiek nie. Hy bevorder kerksang met die invoering van metriese en antifonale sang in die Westerse kerk. Sy mees bekende bekeerling en dissipel was Augustinus. 

Ambrosius se himnes word gekenmerk deur eenvoud en soberheid. Net soos Luther se kerkliedere eeue later, was Ambrosius se himnes bedoel vir gemeentelike gebruik ter versterking van geloof in tye van teenspoed. Die himnes was dadelik baie populêr en is gou deur ander skrywers nageboots. Hierdie feit maak dit moeilik om himnes uit hierdie tyd met sekerheid aan Ambrosius toe te skryf. 

Melodie 
Die melodie NUN KOMM, DER HEIDEN HEILAND (ook genoem VENI REDEMPTOR GENTIUM na aanleiding van die Latynse teks) is ’n aanpassing van die gelyksangmelodie “Jesu Dulcedo Cordium” wat vir die eerste keer aangetref is in ’n manuskrip in Einsiedeln van die 12de of 13de eeu. Die melodie in die Liedboek is ’n verwerking wat Luther (#252) in 1524 gemaak het. Dit is een van die eenvoudigste in die Lutherse repertorium en word omraam deur twee identiese frases. Die aangepaste melodie het verskyn in Eyn Enchiridion oder Handbüchlein (Erfurt, 1524) en in Johann Walter (nie te verwar met Johann Gottfried Walther (1684-1748) nie) se Geistliche Gesangbüchlein (Wittenberg, 1524). Walter was Luther se regterhand rakende die musiek. In 1524 het hy en Conrad Rupsch (c 1475-1530) vir drie weke by Luther gebly in Wittenberg waartydens hulle aan die musiek vir die Deutsche Messe en die Geistliche Gesangbüchlein gewerk het. Hierdie samewerking maak dit soms moeilik om te onderskei watter werk van Luther is en watter van Walter of Rupsch. 

Johann Walter (*1496, Kahla, Türingen; †25 Maart 1570, Torgau) was ’n wees-kind en is grootgemaak deur ’n familielid by name Hans Walter. Hy besoek die Lateinschule in Kahla en Rochlitz. Vanaf 1517 studeer hy komposisie in Leipzig en verwerf ’n meestersgraad. Dit is moontlik dat hy in hierdie tyd van die Reformatoriese leer oortuig geraak het. In 1521 word hy ’n sanger in die hofkapel van Frederik die Wyse in Altenburg en Torgau. Hy word ’n beroemde bas en leer ken vername musici soos Ludwig Senfl (1486-1542/1543). In 1524 verskyn sy Geystliche gesangk Buchlein in Wittenberg, waarvan Luther die voorwoord geskryf het. Sedert 1529 is hy die kantor van die musiekskool in Torgau en na 1546 kapelmeester in Dresden. Hy publiseer verskeie liedversamelings waarvan die belangrikste die Geistliche Gesangbüchlein is. 

Bronne 
Cillié: 159-161; CWH: 18-19; HC: 34-36; HCLBW: 127-128; KLEG: 337-339; PHH: 485-487.