Lied 320

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. O kom, o kom, Immanuel,
verlos u volk, u Israel.
Verlos hul wat in nood en pyn
die ure tel tot U verskyn.
Wees bly, wees bly, o Israel.
Hy kom na ons, Immanuel.

2. O kom, o kom, o MÙrester,
ons sien alreeds u lig van ver.
Verdryf die newels van die nag,
laat skyn u helder lig met prag.
Wees bly, wees bly, o Israel.
Hy is naby, Immanuel.

3. O kom, o kom, o Dag wat breek,
om lig in ons nou aan te steek.
Verby is nagte sonder moed,
want in die ooste skyn u gloed.
Wees bly, wees bly, o Israel.
Hy is naby, Immanuel.

4. O kom, o Seun uit Dawidstam,
U, Vredebringer - U die Lam.
Van sonde kom U ons bevry
dat ons nou ewig in U bly.
Wees bly, wees bly, o Israel.
Hy is met ons, Immanuel.

5. O kom, o kom, kom by ons bly
dat niks ons ooit van U kan skei -
sodat ons, soos u Woord beloof,
U altyddeur kan prys en loof.
Wees bly, wees bly, o Israel.
God is met ons - Immanuel.

Geskiedenis

Teks 
Die antifone waarop hierdie lied gebaseer is, dateer terug tot die negende eeu en dalk vroeër. Sommige geleerdes meen dat hierdie ou Adventshimne teruggevoer kan word tot ’n gemeenskap van vyfde-eeuse Joodse Christene. Dit was moontlik deel van hulle Hannukkah-fees. Die teks sluit baie elemente van die Hannukkah-fees in soos die omswerwinge in die woestyn, donker en dood, maar ook die viering van lig (gebruik van kerse) en veral die verwondering oor die hoop van Christus se wederkoms. 

In die negende eeu word die teks opgeneem in die Katolieke liturgie vir gebruik gedurende Advent. In die week voor Kersfees het die Middeleeuse kerk gereeld die sewe Antifone gesing as ’n toevoeging tot die Magnificat (Lofsang van Maria). Die antifone is gesing tydens Vespers voor en na die Magnificat vanaf die 17de tot die 23ste Desember. Later, waarskynlik in die 12de eeu, het ’n anonieme outeur hierdie antifone omgesit in Latynse verse: “Veni, veni, Emmanuel”. Dit was in gebruik in die 13de eeu, maar die vroegste gedrukte bron is die Bylaag tot die Psalteriolum Cantionum Catholicarum (Köln, 1710). Die refrein is later toegevoeg en dit is van hierdie formaat dat John Neale sy Engelse vertaling gemaak het. O come, o come Immanuel het oorspronklik verskyn in Neale se Medieval Hymns and Sequences (1851) en die vertaling is ook gedruk in ’n aansienlik gewysigde vorm in die oorspronklike uitgawe van Hymns Ancient and Modern (1861). Neale het uitvoerige verwysings na die toepaslike skrifgedeeltes in sy Words of the Hymnal Noted (1855) gegee. 

Die Afrikaanse vertaling van Elsabé Kloppers is in 1998 voltooi en het verskyn in die Liedboek (2001). Soos die oorspronklike himne het dit ook vyf strofes. 

John Mason Neale (*24 Januarie 1816, Londen; †6 Augustus 1866, East Grinstead, Sussex) is aanvanklik privaat onderrig deur eerwaarde William Russel (Shepperton) en gaan daarna na verskeie skole: Blackheath, Shelborne (Dorset) en Farnham (Surrey). In 1836 ontvang hy ’n beurs en skryf in aan die Trinity College Cambridge. Daar verower hy ’n aantal pryse waaronder die Seatonion Prize for Sacred Poetry (11 keer). Hy behaal sy graad in 1840. Hy handhaaf ’n Anglo-Katolieke mening en begin om die traktate van die Oxford Movement met belangstelling te lees. Neale ontwikkel ’n diep belangstelling in die Middeleeuse kerk veral ten opsigte van argitektoniese, rituele en musikale konvensies en gebruike. Neale is ingeseën as diakonus in 1841 en in dieselfde jaar verskyn sy Hymns for Children. Hy beklee poste aan Downing College (Cambridge) en St Nicholas (Guilford). Hy is geordineer as priester in Mei 1842 en word toegewys aan die gemeente Crawley (Sussex). Swak gesondheid dwing hom egter om die pos te verlaat. Hy herstel geleidelik van die tuberkulose deur tyd deur te bring in die Suide van Engeland en Madeira. Hy bly egter voortdurend besig met die vertaling van himnes en was ten spyte van swak gesondheid baie produktief. Met sy eie taalvaardighede (hy het 20 tale geken) voorsien hy die Engelssprekende wêreld van uitstaande vertalings van Latynse en Griekse himnes. Dit is gepubliseer in Mediaeval Hymns and Sequences (1851), The Hymnal Noted (Deel I in 1852 en Deel II in 1854) en Hymns Chiefly Medieval (1865). Ten einde sy inkomste aan te vul gee hy verskeie boeke uit waaronder Hymns for Children (1842), Hymns for the Sick (1843) en ’n omvattende History of the Holy Eastern Church (verskeie volumes, 1847-1873). 

In 1846 word Neale hoof van die Sackville College, ’n huis vir armes in Grinstead (Sussex), maar hy kry gou teenstand van die owerhede vanweë die rituele en liturgiese vernuwings wat hy wou invoer. Hy stig die Society van St Margaret, ’n groep Anglikaanse nonne wat onder die siekes, armes en voormalige prostitute werk. Met Neale as hulle kapelaan floreer hierdie orde en brei uit na Skotland, Indië en Kanada. Neale word egter eerder onthou as een van die belangrike Anglikaanse kerkliedskrywers van die 19de eeu met oor die 60 liedere in die vroeë uitgawes van Hymns Ancient and Modern. Hy vertaal ook verskeie himnes uit Grieks en Latyn. In geheel sluit sy werk oor die 400 kerkliedere, sekwense en “carols” in waarvan sommige gepubliseer is in Mediaeval Hymns and Sequences (1851). Van sy bekendste liedere sluit in “Jerusalem the golden”, “All glory, laud and honour” en “Good King Wenceslas looked out”. In samewerking met Thomas Helmore sien nog twee verdere publikasies die lig: Carols for Christmastide (1853) en Carols for Eastertide (1854). Sy laaste bundel met vertalings uit Latyn was Hymns, chiefly Mediaeval, on the Joys and Glories of Paradise (1865). Na sy dood het sy dogter, Mary Sackville-Lawson, sy vertaalde himnes bymekaargemaak en uitgegee in Collected Hymns, Sequences, and Carols of John Mason Neale (1914). 

Melodie 
Tot in 1959 was die oorsprong van VENI EMMANUEL (ook bekend as EPHRATAH) duister. Die melodie kon toe nie verder terug nagespeur word nie as Neale en Helmore se The Hymnal Noted (Deel II, 1865), waarin dit aangedui is as: “from a French Missal in the National Library, Lisbon”. Aangesien die Franse bron nie gevind kon word nie, het baie mense aanvaar dat die melodie waarskynlik deur Thomas Helmore geskep is. Hy was ’n musikant en priester wat nou saamgewerk het met Neale in die produksie van The Hymnal Noted (Londen, 1854) en ander publikasies. In 1959 het Bernard Rainbow ’n artikel in die Musical Times gepubliseer waar hy wys op ’n stelling van Helmore, soos aangehaal uit John Stainer en George S Barrett se Dictionary of Musical Terms (1881). Hierin bevestig Helmore dat die melodie inderdaad deur Neale gekopieer is “from a French Missal”. Die bron hiervan was egter steeds onbekend tot dit ontdek is deur Mother Thomas More en daaroor berig is in die Musical Times van 1966. Die melodie is opgespoor in ’n klein 15de-eeuse Processional wat aan ’n gemeenskap van Franse Franciskaanse nonne behoort het. Dit was oorspronklike musiek vir die responsorium “Bone Jesu” uit ’n Requiem (dodemis). 

Thomas Helmore (*7 Mei 1811, Kidderminster; †6 Julie 1890, Londen) se vader was ’n gemeentepredikant en sy moeder ’n leke-prediker. Hy leer tjello speel en help as ’n tienderjarige uit by sy vader se skool in Stratford waar hy die koor dirigeer. Hy studeer aan die Magdalen College van die Universiteit van Oxford en gradueer in 1840. Vanaf 1842 tot 1877 dien hy by St Mark’s College, Chelsea, as vise-prinsipaal en voorganger (precentor). Alhoewel hy gelegitimeer was as priester in die Church of England lê sy grootste bydrae egter op die gebied van die kerkmusiek. Hy maak ’n spesiale studie van Gregoriaanse musiek en word in 1846 aangestel as Master of Choristers van die Chapel Royal. Onder die invloed van die Oxford Movement sluit hy aan by die Anglikane en begin sy diens in die Anglikaanse Kerk in Stratford. Hy doen die oënskynlik onmoontlike deur ’n koor op te lei wat alle dienste sonder instrumentale begeleiding (a cappella) kon sing. Hy het onbegeleide koordienste bevorder en het ’n belangrike rol gespeel in die herlewing van Plain Chant (gelyksang) in die Anglikaanse kerk. Hy was betrokke by verskeie publikasies van himnes, gelyksange en Kersliedere wat insluit A Manual of Plainsong (1850) and The Hymnal Noted (in samewerking met John Neale). 

Bronne 
CDH; Colquhoun: 51-52; HC: 24-27; HCLBW: 134-135; Knight: 172; PHH: 475-477.