Lied 314

Sections

Lirieke

Amen, Amen, Amen

Geskiedenis

Teks
Hierdie “Amen” kom uit die Nederlandse liturgie en is die slotfrase van Paul Christiaan van Westering se bekende volledige toonsetting van die Apostoliese Geloofbelydenis. Dit is in verskeie Nederlandse liedbundels gepubliseer onder meer die Gereformeerd Kerkboek (1986/2006) en die Evangelische Liedbundel (1999). Hierdie toonsetting is ook opgeneem in die Nederlandse Liedboek. Zingen en bidden in huisenkerk (2013) en OpToonhoogte (2005/2015).

Melodie
Die melodie van Christiaan van Westering is gebaseer op ’n 17de-eeuse Gregoriaanse gesangmelodie Credo III soos dit voorkom in die amptelike Katolieke Liber Usualis (1934). Dit is ’n effense vereenvoudiging van die laaste frase uit hierdie Gregoriaanse gesang.

Paul Christiaan vanWestering (*9 Julie 1911, Amsterdam, †3 Maart 1991, Zandvoort) studeer komposisie by Jan Mul (1911-1971), orkestrasie by Henk Badings (1907-1987) en orrel in Parys by Marcel Dupré (1886-1971). As orrelis, komponis en kantor werk hy op verskillende plekke in Nederland onder meer by die Begijnhofkapel in Haarlem.

Hy was die eerste orrelis wat die sogenaamde 31-toon-orrel van Fokkens in die Teylersmuseum in Haarlem bespeel het. Op hierdie orrel word die oktaaf in 31 gelyke intervalle ingedeel. Hy skryf ook ’n Speelmethode (1952) vir hierdie instrument en komponeer koorwerke (insluitende ’n Requiem in 1979), kamermusiek, liedere, kinderliedere, ’n musiekblyspel en orrelmusiek. Laasgenoemde sluit in ’n Suite de Concert (1954/1965), Variaties op een Bach­tema (1967), Variatiesover“Mercktochhoesterck” (1967, vir die Fokker-orrel), Elyseum (thema en variaties Psalm 16) en Variaties over “Nu zijtwellekome”. Van Westering is veral bekend vir sy toonsetting van die Apostoliese Geloofbelydenis (Credo III).

Bronne
E-poskorrespondensie met Wim Viljoen, September 2017; kerkliedwiki.nl; Liber Usualis, 1934:68-70; Liedboek, 2013:695-697; www.nederlandsmuziekinstituut.nl; www.requiemsurvey.org