Lied 309

Vers 1

1. My lewe bly aan U gewy,
o Vader van genade!
U rig omhoog my hart en oog
beskerm my teen die kwade.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Dein, dein soll sein das Herze mein – Leo Jud 1540; U zij altijd mijn hart gewijd – Roelof Bennink Janssonius 1868; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978
Jour du Seigneur – Michael Franck en Georg Joseph E17; Pierre Huet 1803
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks
“Dein, dein soll sein das Herze mein” is die oorspronklike Duitse teks van hierdie lied. Dit is geskryf deur Leo Jud in 1540. Die Nederlandse himnoloog, Roelof Bennink Janssonius, het dit vir die Vervolgbundel (1868) vertaal as “U zij altijd mijn hart gewijd”, maar die aantal strofes is gehalveer. Die teks is in Afrikaans vertaal in die AGB (1944) en gewysig deur Gerjo van der Merwe (#151) vir die 1978-bundel. Dit is onveranderd oorgeneem in die Liedboek (2001).

Die Switserse hervormer en teoloog, LeoJud (*1482, Guémar, Straatsburg; †19 Junie 1542, Zürich), staan ook bekend as LeoJudae, die Latynse vorm van sy van. Hy was die seun van ’n priester. Hy studeer saam met Martin Bucer (1491-1551) aan die Lateinschule in Sélestat en in 1499 matrikuleer hy aan die Universiteit van Basel, waar hy die groot Switserse Hervormer, Huldrych Zwingli (1484-1531) leer ken. Hy studeer aanvanklik in die medisyne, maar verander later na teologie. Jud word georden as priester in Rome in 1507 en dien as diakonus en prediker in Basel en die Elsass. In 1519 word hy die medewerker van Zwingli in Einsiedeln, Switserland. Hy raak aktief betrokke by die Hervorming in Switserland en vertaal van Zwingli se petisies van Latyn na Duits. In Junie 1522 word hy, op aanbeveling van Zwingli, gekies as pastor van die St Peterskerk in Zürich. Op 7 Maart 1523 word hy aangestel as pastor van die Dominikaanse Oetenbach-klooster in dieselfde stad. Onder invloed van Zwingli begin Jud onder meer te preek oor die selibaat, die verwydering van religieuse objekte uit kerke (ikonoklasme) en die verbondsteologie.

Op 19 Junie 1525 open ’n Gereformeerde instelling vir teologiese opleiding, ook bekend as die Prophezei, in die Grossmünsterkerk in Zürich en Jud speel hierin ’n belangrike rol deur onder meer dienste en lesings in Duits aan te bied. In 1531 help Jud vir Zwingli om die Zürich-Bybel saam te stel. Na die dood van Zwingli tydens die Tweede Oorlog van Kappel in Oktober 1531 neem aanslae teen die Switserse Hervormers toe in felheid. Jud hou egter aan om in Zürich te preek, maar verval in ’n diep depressie wat hom verhoed om leierskapposisies in die kerk te beklee. In 1534 word die hersiening van die Zürich-Bybel begin met Jud as die sentrale figuur. Dis eers nou dat hy aansien begin verkry as ’n Hervormer en Bybelse geleerde. Jud publiseer verskeie invloedryke geskrifte soos die Kategismus in Duits in 1534 en ’n Latynse uitgawe in 1538. Hy publiseer ook Zwingli se eksegetiese lesings oor die Nuwe Testament (1539), die ProverbaSolomonis en die Biblia Sacrosancta. Laasgenoemde verskyn na Jud se dood in 1543.

Roelof Bennink Janssonius (*19 April 1817, Groningen; †9 Desember 1871, s’Gravenhage) was ’n predikant en digter. Hy gaan skool aan die Latynse skool in Groningen en skryf aanvanklik in vir studies in die letterkunde aan die Universiteit van Groningen (1833). Hy verander egter sy studierigting na teologie. Hy verwerf ’n doktorsgraad in teologie met lof in 1842. In dieselfde jaar word hy predikant van die Hervormde kerk in Roderwolde. Hierop volg beroepe na Arnhem (1846) en Den Haag (1850). Naas sy teologiese werke word hy ook bekend as skrywer van prosa, poësie en stigtelike literatuur. Janssonius openbaar ook ’n groot belangstelling in kerkgeskiedenis en himnologie. Hy publiseer onder meer verskeie sangbundels: Christelijke Gezangen (1857) en ’n Katholieke Gezangboek,Mis en Vesper Zangen (1862). As uitvloeisel van sy himnologiese studies verskyn ’n Geschiedenis van het Kerkgesang bij de hervormden in Nederland (Utrecht, 1863). Hy gaan veral ekumenies te werk en vertaal verskeie liedere van ander lande, tye en kerke. Hiervan is Lied 475 ’n voorbeeld. Hy ontsluit geestelike skatte en publiseer dit in bundels soos Gezangen der katholieke kerk (Arnhem, 1858-1859) en Gezangen der evangelische kerk (Amsterdam, 1865). In die Vervolgbundel (1868) op die Evangelische Gezangen (1806) verskyn sy naam by bykans ’n kwart van die liedere, maar sy gewildheid taan sodat daar in die Nederlandse Bundel (1938) slegs 15 en in die LiedboekvoordeKerken (1973) net een van sy gesange opgeneem is. Janssonius hou hom ook besig met die psalms en publiseer ’n sangbundel getiteld De Psalmen, naar de behoefte der christenen voor kerkelijk en huisselijk gebruik ingericht (Utrecht, 1861). Hy het sy lewe lank gedigte geskryf en dit in twee bundels saamgevat en uitgegee as De Dichtwerken (Amsterdam, 1872).

Melodie
Vir meer inligting oor die melodie, JOUR DU SEIGNEUR, sien Lied 238.

Bronne
Cillié: 432-433; Hymnary.org; NDB; NNBW: 246-247; www.resources.huygens.knaw.nl