1. Ons buig hier in belydenis;
ons dink hier aan u smarte.
Ons almal wat verlostes is,
verhef tot U ons harte.
Kom, Middelaar, en openbaar
u reddende genade:
weerhou ons van die kwade.
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
Die oorspronklike Duitse teks van Johann August Hermes “Ach, sieh ihn dulden, bluten, sterben” is in sy Handbuch der Religion (Berlyn, 1779) gepubliseer, weliswaar sonder ’n melodie. Hy sluit die lied ook in in die Gesangbuch für den öffentlichen Gottesdienst im Stifte Quedlinburg (1787) en hier word die melodie DIR, DIR, JEHOVAH, wat reeds in Freylinghausen se Gesangbuch (1704) verskyn het, aangedui by die teks. Ahasverus van den Berg (#198) het dit in Nederlands vertaal in die Evangelische Gezangen (1806): “Hier ben ik om aan uwe smart”. Dit is deur GBA Gerdener (#157) in Afrikaans vertaal vir die AGB (1944). Die teks vir die 1978-bundel is versorg deur Gerjo van der Merwe (#151) en dit is gewysig deur CJA Vos (#167) in die Liedboek (2001).
Johann August Hermes (*24 Augustus 1736, Magdeburg; †6 Januarie 1822, Quedlinburg) was ’n evangeliese teoloog van die Aufklärung. Hy was die seun van ’n predikant en gaan skool aan die kloosterskool in Bergen. Hy sit sy studies voort aan die Universiteit van Halle. Hierna beklee hy vanaf 1757 verskillende predikantsposte in die Mecklenburg-omgewing en word in 1765 provoos (opsiener) in Wahren. Hier gee hy die Wöchentliche Beiträge zur Beförderung der Gottseligkeit uit. Na 1773 word hy beroep as pastor na Jerichow (Magdeburg) en in 1777 verhuis hy na Ditfurth (Quedlinburg). In 1780 word hy die hoofprediker in die Stiftskirche in Quedlinburg. In Ditfurth voltooi hy sy bekendste werk, Handbuch der Religion, waarvan die eerste uitgawe in 1779 in Berlyn verskyn. Hierin is vier van sy eie liedtekste opgeneem. In dieselfde jaar word hy aangestel as hoofhofprediker. ’n Communionbuch verskyn in 1783. ’n Gesangbuch für den öffentlichen Gottesdienst im Stift Quedlinburg (Quedlinburg, 1787) bevat ook van sy eie hersiene liedtekste. Dit sluit in sy lied oor die onsterflikheid “Ich lebe nicht für diese Erde”, wat ook op sy begrafnis gesing is en die lydenslied “Ach sieh ihn dulden, bluten, sterben”. Hy tree af in 1812.
Melodie
Die melodie WAS GOTT TUT, DAS IST WOHLGETAN is geskryf deur Severus Gastorius tussen 1675 en 1680. Dit het vir die eerste keer in druk verskyn in die Ausserlesenes Weimarisches Gesangbuch (1681) en is gewysig tot die huidige vorm in die Nürn bergisches Gesang Buch (1690). Volgens oorlewering was hierdie lied ’n gunsteling van Friedman Wilhelm III van Pruise en is dit op sy instruksie by sy begrafnis gesing. Vir meer inligting oor die titel van die melodie, sien Lied 500.
Severus Gastorius (*1646, Öttern, Weimar; †begrawe 8 Mei 1682, Jena) se vader was ’n onderwyser by die Lateinschule in Weimar waar Severus ook skoolgegaan het vanaf 1651. In 1667 voltooi hy sy studies aan die Universiteit van Jena. Hy volg die kantor in Jena, Andreas Zöll, op in 1677. Na 1671 word hy na Traubuch verplaas waar hy onder andere saam met sy vader werk. Op 36 jaar sterf Gastorius en word in die begraafplaas van die Johanneskirche in Jena begrawe. Naas sy bekende melodie WAS GOTT TUT skryf hy ook kerkmusiek. Daar is ook vyf begrafnismotette van hom oorgelewer.
Bronne
Cillié: 503-504; CGLB: 978-980; HC: 642-643; HCLBW: 474; Knight: 267; NDB.