Lied 295

Sections

Lirieke

1. Heer, U laat ons hier vergader,
bring ons om u tafel nader.
Heer, U vul ons met u vrede,
luister na ons smeekgebede.
U het ·l ons skuld vergewe,
ons herskep tot nuwe lewe.
Daarvoor bring ons al ons ere
aan U, ons Verlosser, Here.

2. Heer, ons bid nou om u seën,
oor die tyd en grense heen:
Heer, wees self nou in ons midde,
Herder van u eie kudde.
U't ons vrygemaak van sonde,
deur u bloed en deur u wonde.
Hiervan word ons vas verseker
deur die brood en deur die beker.

3. Heer, ons wil u wy ons lewe,
U's die liggaam, ons die lede.
Ons is u verbondsgenote,
U's die wynstok, ons die lote.
U kom eenmaal op die wolke,
word erken deur alle volke.
Aan die kruis dra U ons skande.
Nou's ons toekoms in u hande.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike teks van hierdie lied, “Herr, du wollest uns bereiten”, is geskryf deur Friedrich Klopstock en in Nederlands vertaal deur Ahasverus van der Berg (#198) vir die Evangelische Gezangen (1806). GBA Gerdener (#157) vertaal dit in Afrikaans vir Die Nuwe Halleluja (1931) en dit is ook so gebruik in die AGB (1944): “Tree nou toe, verloste siele”. Die teks is gewysig deur Gerjo van der Merwe (#151) in die 1978-bundel: “Kom sit aan met dankgebede”. Johan Cilliers (#161) het die teks herdig vir die Liedboek (2001).

Friedrich Gottlieb Klopstock (*2 Julie 1724, Quedlinburg; †14 Maart 1803, Hamburg) gaan skool aan die Gymnasium in Quedlinburg. In 1739 kry hy ’n beurs om aan die Fürstenschule in Schulpforta, Naumburg, te studeer. Hier verkry hy ’n humanistiese agtergrond. In 1745 begin hy sy studies in filosofie en teologie in Jena. Daar skryf hy die eerste gesange wat later in sy epiese gedig Messias opgeneem is. In 1746 studeer hy verder in Leipzig. Daarna gaan hy na Zürich. Nadat daar vir hom voorspraak gedoen is by die Deense koning Friedrich V, stel die koning aan hom ’n jaarlikse bedrag van 400 daler beskikbaar met die doel om die Messias klaar te maak. Na tye in Hamburg en Kopenhagen keer Klopstock van 1759 tot 1763 na sy vaderland terug. In 1773 voltooi hy die Messias. Hy ervaar die Franse Revolusie entoesiasties, in so ’n mate dat hy tot Franse ereburger benoem word. Na sy dood word hy deur die stede Altona en Hamburg met ’n luisterryke staatsbegrafnis vereer.

In die 19de eeu tel Klopstock onder die groot name wat ’n bydrae tot die Duitse kerklied lewer. Hy is oortuig van die belangrikheid van die gemeentelike deelname aan die erediens en gaan van die standpunt uit dat die liedere die gemeente moet roer, maar terselfdertyd ook met die Bybelse waarhede moet ooreenstem. Op hierdie manier word die rasionele Aufklärungsteologie en die invloede van die piëtisme in sy werk met mekaar verenig.

Melodie
Die melodie wat by hierdie lied gebruik word, is SCHMÜCKE DICH, O LIEBE SEELE van Johann Crüger (#156). Dit het vir die eerste keer verskyn in Geistliche Kirchen­Melodien (Berlyn, 1694) − ’n seleksie van 161 liedere uit Praxis Pietatis Melica wat voorsien is van vier- tot sesstemmige instrumentale begeleidings. Die titel van die melodie kom van die aanvangsreël van die oorspronklike Duitse teks waarvoor die melodie gekomponeer is, naamlik “Schmücke dich, o liebe Seele” (Lied 296) van Johann Franck (#296).

Bronne
Cillié: 509-510; HCLBW: 304; KLEG: 179-180; PHH: 307.