Lied 294

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Jesus roep die kindertjies;
moet hul nie verhinder nie.
Hy wil hul omhels en seën
en sy liefde hul verleen.

2. Here Jesus, U alleen
kan ons kindertjies só seën
dat ons in ons harte weet:
U sal hulle nooit vergeet.

3. Dankie vir genade, Heer,
dankie dat ek van U leer;
dankie dat u Woord en Gees
my ook laat gehoorsaam wees.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike teks van hierdie lied is “Gentle Jesus, meek and mild” van Charles Wesley. Dit is vir die eerste keer gepubliseer in Hymns and Sacred Poems (1742) en weer in Hymns for Children (1763). In hierdie lied word ervaar hoe Charles Wesley ver- sigtig en delikaat omgaan met die teks sodat dit eenvoudig is om te verstaan, maar ook ryk in betekenis is.

Die teks is deur GBA Gerdener (#157) in Afrikaans vertaal in Die Nuwe Halleluja (1931). Attie van der Colf (#164) het ’n nuwe weergawe daarvan gemaak toe dit opgeneem is in die 1978-bundel. Hierdie teks is onveranderd opgeneem in die Lied­ boek (2001).

Charles Wesley (*18 Desember 1707, Epworth, Lincolnshire; †29 Maart 1788, Londen) was die seun van Samuel Wesley sr (1662-1735) en die jonger broer van John Wesley (1703-1791). Hy het skoolgegaan aan die Westminster School (1716- 1726) en daar word ’n beurs aan hom toegeken om aan Christ Church College, Oxford te gaan studeer. Hier verwerf hy ’n BA- (1730) en ’n MA-graad (1733). Hy word deel van die sogenaamde “Holy Club” wat ten doel gehad het om die Bybel te bestudeer ten einde aanbidding en die viering van die nagmaal te verbeter. In 1735 is Charles geordineer as ’n predikant in die Anglikaanse Kerk, maar vind die werksomstandighede betreurenswaardig. Vir ’n kort tydjie dien hy en sy broer, John, as sendelinge in die Britse kolonie, Georgia. Onderweg na Georgia maak hulle kennis met ’n groep Morawiese sendelinge. Sterk onder die invloed van die Morawiërs begin hulle met hulle terugkeer na Engeland met herlewingsbyeenkomste, dikwels in die ope lug. Hierdie vergaderings was deurslaggewend in die “Great Awakening” in Engeland en lei tot Charles se bekering op Pinksterdag, 21 Mei 1738, na ’n tydperk van siekte en geestelike verwarring en onsekerheid. Twee dae later skryf hy ’n lied oor sy bekeringservaring, naamlik “Where shall my wond’ring soul begin”. Sy broer, John, het in hierdie tyd ’n soortgelyke geestelike ervaring.

Hierdie gebeure was van onskatbare waarde vir die opkomende Metodisme. Na ’n kortstondige kuratorskap in St Mary’s, Islington (1738-1739), volg Charles sy broer in ’n rondreisende bediening of “field-preaching”. Charles se bediening raak geleidelik gevestig en hy gaan bly in Bristol vanaf 1756 tot 1771. Hierna leef hy in Londen waar hy as ’n Metodisteprediker bekend word.

Charles, wat reeds ’n gevestigde digter was, se bekering lei tot ’n stortvloed kerkliedere oor Christelike leerstellings wat van ’n hoë standaard van vakmanskap getuig. Sommige geleerdes meen dat hy meer as 8,900 kerkliedtekste en gedigte geskryf het, maar ander meen dat dit heelwat minder was. Van sy bekendste liedere word verbind met spesifieke tye in die kerkjaar, soos “Hark! The herald angels sing” (Lied 365) vir Kersfees en “Christ the Lord is risen today” (Lied 414) vir Paasfees. Teen 1785 was baie van sy boeke gepubliseer en sy liedere algemene besit: Collection of Psalms and Hymns (1741), Hymns on the Lord’s Supper (1745), Hymns and Spiritual Songs (1753) en die Collection of Hymns for the Use of People called Methodists (1780). Daar is mense wat meen dat hy die grootste kerkliedskrywer van alle tye was. Charles word ook soms beskryf as “the sweet singer of Methodism”.

Melodie
Die melodie INNOCENTS is ook bekend as ALL SAINTS, DURHAM en ANCIENT LITANY. Die naam INNOCENTS verwys daarna dat die lied op die Feast of Holy Innocents gesing is. Die oorsprong van die melodie is nie heeltemal duidelik nie. Die melodie INNOCENTS is gepubliseer in The Parish Choir (November 1850) – ’n musiektydskrif waarvan WH Monk (#376) die redakteur was. Daarin was dit geset op die teks “Little flowers of martyrdom” en is genoem ANCIENT LITANY.

Daar is al verskeie pogings aangewend om die melodie in ’n ouer bron op te spoor. Daar is tans nog geen beslissende inligting beskikbaar oor die oorsprong van hierdie melodie nie. Sommige geleerdes beskou dit as ’n ou Franse melodie uit die 13de eeu, terwyl ander spekuleer dat dit vir ’n ongepubliseerde lied “The sun” gekomponeer was − ’n teks wat teen ongeveer 1850 deur Joseph Smith (1800-1873) van Birmingham geskryf is. Dit kan ook ’n samestelling wees wat William Monk vir The Parish Choir Music Book (Nov 1850) gemaak het waarvan hy die redakteur was. Monk het wel die harmonisasie van die melodie gedoen vir die uitgawe daarvan in Hymns Ancient and Modern (1861).

Bronne
CDH; Cillié: 343-344; CUMH: 218; CWH: 254; Colquhoun: 201; Hymnary.org; Knight: 299-300; PHH: 409-410; Watson: 181.