1. Ons kinders, Heer, is duur gekoop,
u Seun het self betaal.
Ons word verseker deur die doop:
U liefde sal nooit faal.
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
“Our children, Lord, in faith and prayer” van Thomas Haweis is die oorspronklike teks vir hierdie lied. Dit verskyn in sy Carmino Christo, or Hymns to the Saviour (1792). Die teks is in Afrikaans vertaal deur Andries Breytenbach (#151) vir opname in die Lied boek (2001).
Thomas Haweis (*1 Januarie 1734, Redruth, Cornwall; †11 Februarie 1820, Bath) het aanvanklik in die medisyne studeer. Hy word egter so geraak deur die prediking van Samuel Walker van die St Mary’s-kerk in Truro dat hy besluit om ’n geestelike te word. Hy gaan studeer teologie by Christ Church, Oxford, en word in 1757 ingeseën in die Church of England. In dieselfde jaar word hy aangestel as hulpprediker van St Mary Magdalen Church in Oxford. Die biskop onthef hom uit daardie posisie vanweë sy Metodistiese sentimente. In 1764 word hy rektor van die All Saints Church in Aldwinkle, Northamptonshire. Hy word later die kapelaan van Lady Huntingdon in Bath en die bestuurder van haar seminarium in Trevecca, Suid-Wallis. Hy was een van die stigters van die London Missionary Society in 1795. Thomas Haweis het gemeentesang bevorder en het tekste sowel as melodieë geskryf. Van sy melodieë is veral RICHMOND (Lied 327) bekend. Hy is ook die outeur van Original Music in Various Meters. Naas prosawerke en ’n Bybelkommentaar publiseer hy ook Carmino Christo, or Hymns to the Saviour (Bath, 1792) waarin al sy liedtekste en melodieë opgeneem is.
Melodie
Die herkoms van die melodie NAOMI is onbekend, maar daar word aanvaar dat Lowell Mason (#201) die melodie van Europa na die VSA gebring het. Hy het dit aangepas en uitgegee in Occasional Psalm and Hymn Tunes (1836) sonder om na enige moontlike bronne te verwys. Die naam NAOMI het geen spesifieke betekenis nie, maar Mason het dikwels Bybelname aan sy melodieë toegeken. Deesdae word die oorspronklike melodie toegeskryf aan die Switserse komponis en uitgewer, Johann Georg Nägeli (1773-1836), maar daar is geen bewyse vir hierdie aanname nie. Mason verwys wel na Nägeli in sy latere bundel The Psaltery (1845). By die melodie bekend as DENNIS, het hy bygevoeg: “Arranged from J.G. Nägeli”. Dit het egter geen verband met NAOMI nie.
Bronne
CDH; CUMH: 764; Hymnary.org; PHH: 483-484; www.ccel.org; www.gutenberg.org; www.smu.edu