Lied 280

Vers 1

1. Here, Redder, groot en magtig,
U oorskou ons lewenspad.
In u liefde en genade
het U ook my hand kom vat.
Heer, u leiding bring bevryding –
U het ook my hand kom vat.
U het ook my hand kom vat.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Guide me, o Thou great Jehovah – William Williams 1745; Attie van der Colf 1989 / 2001 ©
CWM RHONDDA – John Hughes 1907
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks
Die oorspronklike teks “Guide me, o Thou great Jehova” is in 1745 deur William Williams, ’n Walliese rondreisende prediker en digter, geskryf. Hierdie beroemde lied is ’n produk van die Evangeliese Herlewing in Wallis gedurende die 18de eeu. Die skrywer is een van die belangrikste verteenwoordigers van die Walliese himnodie en word beskou as die Paul Gerhardt en Isaac Watts van Wallis. Die aanvang van die oorspronklike Walliese teks lui “Arglwydd, arwain trwy’r anialwch” (Here, lei my deur die wildernis). Hierdie teks speel in op die trek van Israel deur die woestyn en was moontlik ook geïnspireer deur Williams se eie reise deur Wallis, soms in bitter moeilike omstandighede. Dit is gepubliseer in Williams se Alleluia (Bristol, 1745) en in sy Caniadau (1762) met die titel “A Prayer for strength to go through the wilderness of the world”. Dit is in sowat 75 tale vertaal. Die Engelse vertaling is gedoen deur Peter Williams van Carmarthen College en ingesluit in sy Hymns on various subjects etc (1771) en dit begin met“Guide me, O thou great Jehovah”. Daar word gemeen dat Williams self of sy seun, die predikant John Williams, rondom 1772 weer ’n vertaling gemaak het.

Sedert William Williams hierdie lied in 1745 geskryf het, bly dit een van die mees gebruikte kerkliedere in Engeland. In kombinasie met die melodie CWM RHONDDA deur John Hughes word ook daarna verwys as die tweede Walliese volkslied. Alhoewel die teks gebaseer is op die geskiedenis verwys dit ook na hedendaagse Christene wat van die wieg tot die graf op reis is.

Die teks is in Afrikaans vertaal deur Attie van der Colf (#164) en het vir die eerste keer verskyn in Sing onder mekaar (1989). Van der Colf het die teks ingrypend gewysig vir die weergawe in die Liedboek (2001).

William (Pantycelyn) Williams (*11 Februarie 1717, Cefn-y-Coed, Carmarthenshire, Wallis; †11 Januarie 1791, Llandovery, Carmarthenshire) was die seun van ’n ryk boer en het ’n goeie skoolopleiding ontvang. Hy gaan skool aan die Dissenting Academy of Llwyn-Llwyd en wou aanvanklik ’n dokter word. In 1737/1738 word hy egter so diep geraak deur die prediking van Howell Harris (1714-1773), een van die leiers van die Walliese Metodiste-herlewingsbeweging, dat hy vasbeslote raak om in die bediening te gaan en aansluit by die nuwe Methodist Movement. Hy begin om teologie te studeer en word ingeseën as diakonus in die Church of England in 1740. Hy word toe- trede tot priesterskap geweier vanweë sy evangelistiese oortuigings en sluit gevolglik aan by die Calvinist Methodists in 1744. Hierna word hy ’n rondreisende evangelis en dien as leidende figuur in die herlewingsbeweging in Wallis. Sy evangelistiese preke is grootliks ondersteun deur sy liedere wat met groot entoesiasme by herlewings- en sosiale byeenkomste gesing is. Hy staan bekend as die “sweet singer” van Wallis en skryf sowat 800 liedtekste in Wallies en oor die 100 in Engels. Die liedere is gepubliseer in Aleluia a Collection of hymns (Bristol, 1744), Hosanna I Fab Dafydd (1754), Hosanna to the Son of David (1759), Canaidau y rhai sydd ar Y Mor o Wydr (The songs of those upon the Sea of Glass) (1762) en Gloria in Excelsis (1771).

Peter Williams (*7 Januarie 1722/1723, Llansadurnin, Carmarthanshire, Wallis; †8 Augustus 1796, Llandyfeilog, Wallis) is tot Christendom bekeer deur die preke van George Whitefield (1714-1770), een van die leiers van die Metodiste-beweging. Wil- liams is georden in die Church of England in 1744. Weens sy evangeliese oortuigings verlaat hy die staatskerk in 1746 en sluit aan by die Calvinistiese Metodiste. Hy dien vir baie jare as ’n rondreisende predikant en was een van die hooffigure in die Walliese herlewing van die 18de eeu. Nadat hy deur die Metodiste op ’n klag van dwaalleer geskors is, bedien hy sy eie kapel gedurende die laaste jare van sy lewe. Hy publiseer die eerste Walliese Bybelkommentaar (1767-1770) en ’n Bybelkonkordansie (1773). Later verskyn daar ook ’n Walliese liedboek Rhai Hymnau ac Odlau Ysbrydol (1759) en Hymns on various subjects (1771).

Melodie
Die melodie CWM RHONDDA is geskryf deur John Hughes in 1907 en is vernoem na die vallei van Rhondda in die hartjie van die Walliese mynindustrie. Dit is gekompo- neer vir die jaarlikse Baptiste Sangfees (Cymanfâu Ganu) wat by die Rhondda-kapel inTrehopcyn (Hopkinstown), Pontypridd, Glamorgan in 1905 plaasgevind het. In 1907 is dit gepubliseer op ’n traktaatjie. Alhoewel die melodie CWM RHONDDA 150 jaar na die teks geskryf is, het dit sedertdien ’n hegte eenheid met die teks gevorm. Dit is as sodanig opgeneem in die Methodist Hymn Book in 1933.

John Hughes (*22 November 1873, Dowlais, Wallis; †14 Mei 1932, Ton-Teg, Llantwit Fardre) se familie verhuis in die jaar na sy geboorte na Llantwit Fardre in Glamorganshire waar hy die res van sy lewe deurbring. Op die ouderdom van 12 begin hy werk by die Glyn Colliery en uiteindelik beklee hy ’n offisiële pos in die verkeersdepartement van die Great Western Colliery Company. Hy was aktief in die Salem Baptiste-kerk, Pontypridd, waar hy ’n lewenslange lid was. Hy volg later sy vader op as hulpprediker en voorsanger. Hughes skryf ’n aantal kerkliedere, twee anthems en enkele Sondagskoolliedjies, maar word veral onthou vir sy melodie CWM RHONDDA.

Bronne
CDH; Colquhoun: 198-199; HC: 561-562; HCLBW: 396-397, 450-451; Knight: 252-254; PHH: 716-717; www.crichbaptist.org