Lied 275

Vers 1

1. O God van Jakob, deur u hand
word steeds u volk gevoed;
U het weleer op see en land
ons vadere behoed.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

O God of Bethel, by whose hand – Philip Doddridge 1745; John Logan 1781; Zionsliederen 1871; Halleluja 1903; GBA Gerdener 1931; EC Pienaar 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig 2001
DUNDEE – Skotse Psalter 1615; aangepas
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks
Op 16 Jan 1736 (of 1737) het die prediker Philip Doddridge ’n preek gehou oor Jakob se Gelofte (Gen 28:20-22) en soos sy gewoonte was, het hy seker gemaak dat die gemeente onthou waaroor hy gepreek het deur ’n lied te laat sing wat op die teks gebaseer was: “O God of Bethel, by whose hand”. Die waardevolle manuskrip is in 1736 bekom deur die Rooker-familie en staan bekend as die Rooker-weergawe. Die teks is gepubliseer in die 1745 en 1751 uitgawes van die Skotse Translations and Paraphrases, maar is uitgebreid hersien deur John Logan vir die 1781-uitgawe. Dit was steeds in handgeskrewe vorm, maar toon min ooreenkomste met die teks wat afgedruk is in Christian Hymns en ander moderne liedboeke. In 1755 het Job Orton in Hymns founded on various texts in the Holy Scriptures 370 kerkliedere gepubliseer uit ’n ander manuskrip van Doddridge. Hierdie weergawe van die lied was baie na aan die Rooker-weergawe. Nederlandse vertalings verskyn in die Zionsliederen (1871) en Die Halleluja (1903). GBA Gerdener (#157) het dit in Afrikaans vertaal in 1931 terwyl EC Pienaar (#250) verantwoordelik was vir die Afrikaanse teks in die AGB (1944): “O God van Jakob, deur u hand”. Die teks is gewysig deur Gerjo van der Merwe (#152) vir die 1978-bundel (#151) en dit is weer hersien vir die Liedboek (2001).

Philip Doddridge (*26 Junie 1702, Londen; †26 Oktober 1751, Lissabon) het behoort aan die Nonkonformiste Kerk (nie geassosieer met die Church of England nie). ’n Ryk beskermheer het hom ’n beurs aangebied om teologie te studeer in die Church of England, maar hy het verkies om in die Nonkonformiste Kerk te bly. Hy het vir jare gewerk in ’n arm gemeente in Northampton. Hier het hy ook ’n akademie gevestig vir die opleiding van predikante in die Nonkonformiste Kerk. Doddridge het aan tuberkulose gely. Hy word deur ’n beskermheer gefinansier om na Lissabon te gaan waar hy kort na sy aankoms oorlede is. Hy skryf ongeveer 400 liedtekste wat meesal bedoel was om by sy preke te pas. Hierdie tekste is postuum gepubliseer in Hymns founded on Various Texts in the Holy Scriptures (1755).

John Logan (*1748, Soutra; †1788, Londen) gaan skool aan die Musselburgh- skool en word verder opgelei aan die Edinburgh University waarna hy besluit om toe te tree tot die bediening in die Church of Scotland. Hy word in 1771 aangestel as priester in South Leith, maar is nie ingeseën tot 1773 nie weens ’n dispuut oor sy aanstelling. In 1775 word hy deel van die Algemene Vergadering se komitee vir die ontwikkeling van parafrasetekste. Daar ontstaan ook kontroversie oor sy outeurskap van sommige tekste.

Melodie
DUNDEE (ook bekend as FRENCH, FRENCH TUNE of RAVENSCROFT) is vir die eerste keer gepubliseer in die derde deel van die Skotse Psalter, The CL Psalms of David, wat deur Andro Hart (Edinburgh, 1615) uitgegee is. Hierin is daarna verwys as die “French tune” alhoewel geen Franse bron tot dusver geïdentifiseer kon word nie. Die komponis is onbekend. Alhoewel die oorsprong van die titel “French” nog nooit behoorlik verduidelik is nie word gesuggereer dat dit van Geneefse bronne deur terugkerende Engelse Protestantse vlugtelinge afgelei is. In Thomas Ravenscroft (c 1592-1635) se Whole Book of Psalms (Londen, 1621) is die melodie genoem“Dundy Tune” en het dit gedien as toonsetting vir Psalm 36. Die melodietitel kom van die stad Dundee wat as die Skotse Genève gedurende die era van die Skotse Reformasie bekend was. In Skotland is voortgegaan om die melodie FRENCH te noem. ’n Ander melodie (WINDSOR) is ook genoem DUNDIE wat tot groot verwarring gelei het.

Bronne
CWH: 436-437; HC: 619-620; HCH: 93-94, 300-301; HCLBW: 488-489, 536; Hymnary.org; Knight: 40, 257; PHH: 595-596.