Lied 273

Sections

Lirieke

1. Laat my met U verenig lewe,
U wat die ware wynstok is;
u krag gee my voortdurend lewe,
bewaar my van verderfenis.
Deurstroom, besiel en seÎn my
sodat ek altyd vrugbaar bly.

2. Word elke loot nie reg gesnoei nie,
sal daar net wilde lote skiet.
Die druiwestok sal nie kan bloei nie,
die rank en loot geen vrugte bied.
Die wyse wynboer ken sy snoei
sodat die druif al voller groei.

3. Geen groeikrag kom deur eie strewe,
niks kan ek sonder U, o Heer;
in u gemeenskap bloei my lewe
en word die lewensvolheid meer.
Ek wil aan U verbonde bly -
bly U, o Here, steeds in my.

4. Nee, Heer, van U wil ek nie skei nie,
U wat die ware wynstok is.
As ek nie in u liefde bly nie,
is ek 'n loot wat vrugloos is.
Gee dat ek altyd vrugbaar bly
en U verheerlik word in my.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike Nederlandse teks “Laat m’ in U blijven, groeien, bloeien” is geskryf deur Jan Jacob ten Kate in 1868 en is gebaseer op Johannes 15. Dit is in Afrikaans gepubliseer in die AGB (1944) en gewysig deur Gerjo van der Merwe (#151) in die 1978-bundel. Elsabé Kloppers (#154) het die weergawe in die Liedboek (2001) versorg. Jan Jacob ten Kate (*23 Desember 1819, ‘s Gravenhage; †26 Desember 1889, Amsterdam) word in 1837 ’n student aan die Universiteit van Utrecht. Na voltooiing van sy teologiese studies word hy predikant op Marken. Hy is ’n voorbeeld van die tipiese 19de-eeuse predikant/literator. Hy word ook bekend as vertaler van literêre werke van Dante, Shakespeare, Goethe, Schiller en Victor Hugo.

Melodie
Die melodie WER NUR DEN LIEBEN GOTT LÄSST WALTEN deur Georg Neumark is gepubliseer in sy Pfortgepflanzter Musikalisch­Poetischer Lustwald (Jena, 1657).

Georg Neumark (*16 Maart 1621, Langensalza, Thuringen; †18 Julie 1681, Weimar) het aan die Gymnasium in Langensalza skoolgegaan. Daarna vertrek hy saam met ’n groep handelaars via Leipzig en Lübeck na Königsberg om daar in te skryf aan die enigste universiteit wat nie deur die Dertigjarige Oorlog ontwrig is nie. Buite Magdeburg word die groep deur struikrowers oorval en Neumark word beroof van al sy besittings behalwe sy gebedeboek en ’n bietjie geld wat in sy klere vasgewerk was. Neumark keer terug na Magdeburg, maar vind geen werk daar nie. Eindelik raak hy bevriend met die pastor Nicholaus Becker in Kiel wat hom help om ’n pos as privaat onderwyser by die regter Stephen Henning te kry. Dis in hierdie tyd (1641) dat hy die teks en melodie van “Wer nur den lieben Gott” (#575) skryf as teken van verligting na al sy ontberings. Na twee jaar het hy genoeg geld gehad om na die Universiteit in Königsberg te gaan waar hy vir vyf jaar in die regte en poësie onder Simon Dach studeer het. Hy verloor weer al sy besittings as gevolg van ’n brand. In 1648 verlaat hy Königsberg en tot 1651 bring hy tyd deur in Warskou, Thorn, Danzig en Hamburg voordat hy hom finaal in Weimar vestig. Hier word hy hofdigter, bibliotekaris en regi- strateur van die hertog Wilhelm II van Sakse-Weimar (#155). In 1653 word hy toege- laat tot die vooraanstaande literêre vereniging in Duitsland – Fruit-bearing Society.

Alhoewel hy in die laaste jare van sy lewe blind was, word hy toegelaat om sy ampte te behou tot met sy dood.

Bronne
Cillié: 442-443; HCLBW: 481-482.