Lied 267

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Ons Vader op die hemeltroon
aan wie ons lof en eer betoon,
ons bid ootmoedig almal saam:
Gee dat u goddelike Naam
deur ons geken, geÎer, gevrees -
in alles mag geheilig wees.

2. Laat Heer u Koninkryk steeds kom
in hierdie land en oral om.
Die skepping is u magsgebied
waar u volmaakte wil geskied -
vanuit die hemel om u troon
tot waar ons op die aarde woon.

3. Gee ons, o Heer, ons daagliks brood;
bewaar ons van gebrek en nood.
Bewys aan ons barmhartigheid
en skeld ons, Heer, ons skuld tog kwyt
soos wat U ook van ons vereis
om só u liefde te bewys.

4. Lei ons nie in versoeking, Heer;
laat ons u Naam bly loof en eer;
verlos ons van die bose mag.
Beskerm ons, Here, deur u krag.
Aan U behoort die koninkryk,
die krag en eer in ewigheid.

Geskiedenis

Teks
Martin Luther (#252) het hom vir byna 20 jaar besig gehou met die eksegese van die Ons Vader-gebed voordat hy ’n beryming daarvan gemaak het: “Vater unser im Himmelreich”. Luther se gedig het nege strofes beslaan: die eerste agt handel oor die agt bedes wat in Matteus 6:9-13 voorkom. Die negende strofe het gehandel oor die “Amen”. Agter in Petrus Dathenus (#249) se Psalmboek van 1566 verskyn ’n Nederlandse vertaling van Luther se teks met die Duitse melodie VATER UNSER IM HIMMELREICH. Dit kom ook voor in die Nederlandse Psalmen waaraan toegevoegd is Eenige Gezangen (1773). JD du Toit (Totius) (#249) het die teks in 1935 in Afrikaans verwerk en dit is opgeneem in die AGB (1944). Gerjo van der Merwe (#151) het die teks hersien vir die 1978-bundel en dit is weer gewysig deur Karen de Wet vir die Liedboek (2001). Sy het van jongs af ’n besondere verbintenis met die lied gehad, wat sy as kind by die NG gemeente Springbokvlakte, waar haar vader predikant was, leer ken het.

Karen de Wet (*20 Oktober 1966, Pretoria) studeer aan die UP en voltooi verskeie kwalifikasies: BA (1988), BA (Hons), BBibl (1989), HOD (1989) en MA (1991). In 1995 word die graad DLitt aan haar toegeken deur die destydse Universiteit van Bophuthat- swana (nou NWU, Mafikeng-kampus). Na etlike deeltydse aanstellings onder meer as onderwysassistent (UP, 1988-1989) en biblioteekassistent (UP, 1989-1990) word sy aangestel as Afrikaansonderwyser aan die Hoërskool Menlopark (1991-1992). Hierna tot aan die einde van 1995 is sy dosent in Afrikaans en Nederlands aan die destydse PU vir CHO (nou NWU, Vaaldriehoek-kampus). Na een jaar as dosent in Afrikaans (poësie) aan die UP word sy aangestel as senior dosent tot aan die einde van 1998. Vanaf 1999-2007 verskuif sy na die Departement Inligtingkunde. Sedert 2013 is sy senior dosent in die Departement Afrikaans aan die UJ. De Wet is ook bekend as keurder van manuskripte vir verskeie uitgewers soos Protea Boekehuis, Lapa en Human & Rousseau. Sy word in 1996 benoem as letterkundige op die Liedboekkommissie. Alhoewel sy heelwat redaksionele en redigerende werk gedoen het, meen sy dat haar bydrae hoofsaaklik was om die gehalte van tekste te probeer verbeter deur die uitskakeling van rymdwang, die herformulering van teksfrases in terme van poëtiese kwaliteit, en so meer. Hierdie werk aan die liedtekste het haar op ’n besondere wyse voorberei vir latere betrokkenheid as intravertaler van spesifieke boeke soos Lukas, Job, Spreuke en Hooglied en voorsitter van die Literêre Advieskomitee en lid van die finale Redaksionele Komitee van die 2020- Afrikaanse Bybelvertaling.

Melodie
Die melodie, VATER UNSER IM HIMMELREICH, verskyn vir die eerste keer onder hierdie titel in Valentin Schumann se Geistliche Lieder (1539) as ’n toonsetting van Luther (#252) se metriese weergawe van die Gebed van die Here. Die naam is afgelei van die incipit van Luther se teks “Vater unser im Himmelreich”. Die anonieme melodie is egter veel ouer en kan stam van ’n prototipe in ’n stemboek van Johann Walter wat hy in 1530 aan Luther gegee het. Daar word gereken dat die melodie moontlik Middeleeuse Tjeggiese wortels het. Dit is aanvanklik gebruik as toonsetting vir die teks “Begehren wir mit Innigkeit” van Michael Weisse (c 1480-1534), vir wie Luther herhaaldelik in 1520 besoek het. Die melodie het ook verskyn in Weisse se Ein neues Gesangbuchlein (Jungbunzlau, 1531). Dit kom ook voor in ’n gesangboek van die Boheemse Broeders in 1531 en het in 1537 ook in Straatsburg verskyn. Indien dit so is, dan het die melodie met die tyd ingrypende veranderinge ondergaan. Dis ook moeilik om te sê in watter mate Luther verantwoordelik was vir die wysigings.

In 1561 verskyn die melodie in Engeland as toonsetting vir William Kethe (geboortedatum onbekend; sterf in 1594/1608) se weergawe van Psalm 112 in The Forme of Prayers and Ministration of the Sacraments & c. en dit kom ook voor in die Skotse Psalter van 1564. Die melodie dra gevolglik ook die titel OLD 112th.

Bronne
CDH; Cillié: 463-464; CGLB: 233-235; e-poskorrespondensie met Karen de Wet, 23 Julie 2017; HC: 609-611; Knight: 6; PHH: 343, 737.