Lied 266

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

Ons Vader wat woon in die hemel,
geheilig sy u Naam.
Laat u ryk kom, u wil geskied,
soos in die hemel so ook op die aarde.
Gee ons vandag ons dag se brood
en vergeef ons al ons skulde,
net soos ons vergewe
dié wat teen ons sondig.
Laat kom ons nie in die versoeking,
maar verlos ons van die Bose.
Want U is die ryk
en die sterkte en die ere,
vir ewig en ewig, amen.
Vir ewig en ewig, amen.

Geskiedenis

Teks
Die Nederlandse teks is gebaseer op die Ons Vader-gebed (Matt 6:9-13) en kom anoniem voor in Die Halleluja (1903) wat deur dominee Charles Murray (1838-1904) saamgestel is. In Die Nuwe Halleluja (1931) is die teks in Afrikaans vertaal, waarskynlik deur GBA Gerdener (#157). Dit is hersien deur Gerjo van der Merwe (#151) vir die 1978-bundel en is so oorgeneem in die Liedboek (2001).

Melodie
Die herkoms van hierdie lied is Amerikaans. Dit is geskryf deur Luther Emerson en is gepubliseer in sy versameling van koorstukke Harp of Judah (Boston, 1863). Die melodie van Lied 266 kom voor in die tenoorstem van ’n vierstemmige koorstuk uit hierdie publikasie. Die titel van die lied word aangedui as “The Lord’s prayer”. Hierdie inligting weerlê die vermoede wat tot nou toe bestaan het dat dit ’n Engelse of Skotse melodie is.

Luther Orlando Emerson (*3 Augustus 1820, Parsonsfield, Maine; †29 September 1915, Hyde Park, Massachusetts) is gebore in ’n musikale familie. Sy vader was ’n tjellis en sy moeder ’n goeie sangeres. Hy gaan skool aan die plaaslike skool en sit later sy studies voort aan die Parsonsfield Seminary en die Effingham Academy. Hy wou aanvanklik in die medisyne studeer, maar sy groot liefde vir musiek het hom van plan laat verander. Hy skryf gevolglik in vir ’n musiekkursus onder IB Woodbury. Nadat hy sy studies in sang, klavier, orrel en harmonie voltooi het, vestig hy hom in Salem, Massachusetts waar hy begin om onderrig te gee en aangestel word as koordirigent. Hy skryf onder meer musiek vir sy koor wat baie byval gevind het by die koorlede en die gemeente. Hy publiseer ’n versameling van kerkmusiek wat sy melodie SESSIONS bevat het – ’n lied wat vernoem is na die pastor in Salem en vandag steeds gebruik word.

Na agt jaar in Salem verhuis Emerson na Boston waar hy orrelis en koorleier word by die Bulfinch Street Church. Hy gaan voort om onderrig te gee en te komponeer. In 1857 word The Golden Wrath in Boston uitgegee en dit het dadelik baie populêr geword. Dit is opgevolg deur nog ’n suksesvolle bundel The Golden Harp in 1858. Hierna was sy loopbaan gevestig en hy aanvaar ’n pos as musiekdirekteur van die Second Congregational Church, Greenfield, Massachusetts, en van die musiek- departement van die Power’s Institute, Bernardston. Verdere versamelings met kerk- musiek verskyn: Sabbath Harmony (1860) en die Harp of Judah (1863). In 1866 verskyn nog ’n suksesvolle publikasie Jubilate en dit word gevolg deur die Choral Tribute, die Standard en die Leader. Later ontstaan nog verskeie versamelings wat insluit Salutation, Voice of Worship en Herald of Praise. Sy musiek was bedoel vir kerkgebruik, sangskole en koorverenigings. Emerson skryf ook liedere, instruksieboeke vir sang en orrel, kwartette en instrumentale werke. Sy toegewydheid as komponis en bevorderaar van kerkmusiek lei tot 72 publikasies. Hy ontvang ook ’n doktorsgraad by Findlay College, Findlay, Ohio, en word in 1891 die musiekdirekteur van hierdie kollege.

Bronne
Cillié: 465-466; Harp of Juda (1863); Hymnary.org