LIed 264

Sections

Lirieke

1. Hoe heerlik is die Jesusnaam!
'n Engel deel dit mee:
Die Here kom sy volk verlos,
hul lig en lewe gee.

2. Hy's Christus, deur die Gees gesalf
tot leraar en profeet,
tot grote koning wat bewaar,
tot priester in ons leed.

3. Hy leer ons in sy Naam te bid,
te dien, te leer, te werk.
En sou ons om diÈ Naam moes ly,
bou Hy ook só sy kerk.

4. Deur u verdienste het ek ook
die Christen-naam verkry,
gee dat ek U blymoedig eer;
met woord en daad bely.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike teks “How sweet the Name of Jesus sounds” is geskryf deur John Newton en ingesluit in die Olney Hymns (1779). Volgens hierdie bundel is dit ge- baseer op Hooglied 1:3 en dra die titel “The Name of Jesus”. Hierdie teks is ’n goeie voorbeeld van Newton se evangeliese piëteit en sy vaardigheid om frases uit die Bybel te inkorporeer in sy liedere. Die Afrikaanse weergawes in die 1978-bundel en die Liedboek (2001) is geskryf deur Attie van der Colf (#164).

John Newton (*24 Julie 1725, Londen; †21 Desember 1807, Londen) gaan op die ouderdom van 11 saam met sy vader, ’n skeepsmeester, en sluit aan by die vloot toe hy 17 jaar oud was. Hy raak betrokke by slawehandel en mettertyd bereik sy moraal ’n laagtepunt. In 1747 ontsnap hy aan boord The Greyhound na Londen. Op hierdie reis word die eerste saadjies vir sy toekomstige bekering gesaai toe hy die boek The imitation of Christ van die Middeleeuse geestelike Thomas á Kempis (1380-1471) lees. In 1754 verlaat hy die slawehandel en word ’n getykontroleerder in Liverpool waar hy George Whitefield en die Wesleys ontmoet. Hy studeer Grieks en Hebreeus as voorbereiding om ’n geestelike te word. Hy is bevestig in die Church of England en het gedien in Olney (1764-1780). In Olney raak hy bevriend met William Cowper (1731- 1800) en saam het hulle die Olney Hymns (1779) voorberei. In hierdie bundel kom onder meer die liedtekste “How sweet the Name of Jesus” en “Glorious things of thee are spoken” voor wat beskou word as klassieke liedere van Newton. In 1780 verhuis hy na Londen waar hy by St Mary Woolnoth ’n groot gemeente opbou. In 1792 ken die College of New Jersey (nou Princeton University) aan hom ’n doktorsgraad in die teologie toe. Newton werk in Londen tot in 1807. Hy was blind vir die laaste paar jaar van sy lewe.

Melodie
ST PETER is gekomponeer deur Alexander Reinagle en is gepubliseer as ’n setting vir Psalm 118 in sy Psalm tunes for the Voice and Pianoforte (c 1836). In die 1840-bundel A collection of Psalm and Hymn Tunes, Chants and other music, as sung in the Parish Church of St. Peter’s in the East, Oxford verskyn die melodie met die titel ST PETER. Die melodie, oorspronklik geskryf vir stem en klavier, word herbewerk vir die publikasie daarvan met Newton se teks in Hymns Ancient and Modern (1861) en word sedertdien daarmee verbind. Die melodie is vernoem na St Peter-in-the-East, die kerk in Oxford waar Reinagle orrelis was.

Alexander Robert Reinagle (*21 Augustus 1799, Brighton, Sussex; †6 April 1877, Kidlington, Oxfordshire) is ’n afstammeling van ’n Oostenrykse familie van musici. Daar is min bekend oor sy vroeë lewe. Hy word groot in Oxford en kry waarskynlik musiekopleiding by sy vader, Joseph junior, ’n tjellis en komponis wat ook met FJ Haydn (1732-1809) bevriend was. Na sy studies by sy vader, gee Reinagle onderrig in strykinstrumente in Oxford waar hy ook dien as orrelis van St Peter-in-East vanaf 1822 tot 1853. Gedurende die 1860’s was hy baie aktief in musiekkringe in Oxford en werk onder andere saam met John Stainer (1840-1901) wat orrelis was van die Magdelene College in 1860-1872. Hierna tree hy af in Kidlington, Oxford, waar hy die res van sy dae slyt. Reinagle was bekend as ’n uitstekende onderwyser en publiseer ook onderrigwerke vir tjello en ’n klaviersonate. Hy stel twee versamelings met kerkliedere saam, naamlik Psalm­Tunes for the Voice and Pianoforte (Oxford, 1836) en ’n Collection of Psalm and Hymn Tunes (Londen, 1840). Die melodie ST PETER kom in albei hierdie publikasies voor. ST PETER is ook opgeneem in die Church Hymns with Tunes (1874) saam met nog drie van Reinagle se melodieë: MERTON COLLEGE, BEN RHYDDING en ELLESMERE. Dis egter net ST PETER wat bekendheid verwerf het in assosiasie met Newton se teks “How sweet the Name of Jesus sounds”.

Bronne
CDH; Cillié: 385-387; CGLB: 1010-1013; Colquhoun: 217, 334; HC: 460-461; HCLBW: 8398; PHH: 655-656; www.newadvent.org