Lied 263

Sections

Lirieke

1. U goeie Herder, wat ons lei,
U bring ons by die waters.
U laat u kudde veilig wei,
ver weg van bose haters.
U lê u lewe vir ons af.
U koop ons vry en dra ons straf -
U lei ons na God die Vader.

2. U tel gevalle sondaars op.
Dié wat verdwaal het, soek U.
U maak die siekes self gesond.
Ons hoor, o Heer, hoe roep U.
Ons sal U volg waar U ons lei.
Gaan dan ook hier ons tyd verby -
kom ons aan by God die Vader

3. U roep ons almal op ons naam.
U plaas op ons u teken.
U lei ons saggies almal saam.
U het die prys bereken.
U bloed het vir ons skuld betaal.
U kom ons eenmaal almal haal -
ewig, veilig by die Vader.

Geskiedenis

Teks
Dit is ’n oorspronklike teks van Izak de Villiers (#153) wat hy geskryf het na die be- grafnis van ’n vriend waartydens die teksgedeelte van die goeie Herder (Joh 10) gebruik is. Hy het die melodie van Dachstein in gedagte gehad by die skryf van die teks. Dit is in die 1978-bundel gepubliseer en hier word Jesaja 40:11 as inspirasie vir die lied aangedui. Dit is gewysig deur De Villiers in die Liedboek (2001).

Melodie
Vir meer inligting oor die melodie, AUS TIEFER NOT SCHREI ICH ZU DIR, van Wolfgang Dachstein, sien Lied 229.

Bron
Cillié: 414-415.