Lied 258

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Vreugdevolle tyding,
bron van hartverblyding -
evangeliewoord!
Woord van lig en lewe
rig ons aardse strewe
as bevrydingswoord -
deur sy Gees laat God dit wees:
woorde van sy openbaring,
van sy heilsverklaring.

2. Luister ons aandagtig,
skei Gods woorde kragtig
tussen kwaad en goed.
Van ons skuld vergewe,
kan ons voluit lewe,
vry, deur Jesus bloed.
Alle eer aan God, die Heer;
bo verwagting, bo gebede
skenk Hy ons sy vrede.

3. Op u grondslag bou ons,
op u heil vertrou ons,
mensgeworde Woord!
Alles hier verander,
U sal nooit verander
want U hou u woord.
Woord by God en Self ook God,
U is waarheid, lig en lewe,
ewig en verhewe.

Geskiedenis

Teks
Heinrich Hecker het die oorspronklike Duitse teks “Wort aus Gottes Munde” geskryf. Dit is deur Ahasverus van den Berg (#198) vir die Evangelische Gezangen (1806) in Nederlands vertaal en verskyn in die rubriek “Het Evangelie”: “Heugelijke tijding”. Vir Die Nuwe Halleluja (1931) het GBA Gerdener (#157) die teks vertaal en dit is in hierdie vorm hersien vir die AGB (1944). Vir die 1978-bundel sowel as die Liedboek (2001) is die teks gewysig deur Attie van der Colf (#164) en die aanvang lui nou soos volg: “Vreugdevolle tyding”. In die Liedboek is die teks ook ingekort tot drie strofes.

Heinrich Cornelius Hecker (*1 Augustus 1699, Hamburg; †22 Julie 1743, Meu- selwitz) was ’n Duitse teoloog en kerklieddigter. Hy ontvang sy skoolopleiding aan die Johanneum en vanaf 1717 aan die akademiese Gymnasium in Hamburg. In 1719 studeer hy aan die Universiteit van Leipzig waar hy in 1721 ’n magistergraad verwerf. Kort hierna word hy ’n prediker aan die Paulinerkirche in Leipzig. In 1724 word hy deur die graaf Friedrich Heinrich von Seckendorff as privaat sekretaris en onderwyser vir die prins Ludwig Heinrich von Hildburghausen na Meuselwitz beroep. Hy word bevorder tot hulpprediker en diakonus in 1725 en in 1728 word hy aangestel as pastor en adjunk van die Altenburgse superintendent. Sedert 1741 dien hy as hofprediker vir graaf Von Seckendorf. Hecker se Seckendorf’sche Handpostille (Leipzig, 1730) is ’n versameling van 75 preke vir die hele kerkjaar – elkeen voorsien van ’n geestelike lied wat die inhoud van die preek saamvat. Van hierdie liedere is in verskeie Duitse gesangboeke opgeneem.

Melodie
Die Duitse teks van Hecker is op die melodie JESU MEINE FREUDE van Johann Crüger gesing en so is dit oorgedra na die Evangelische Gezangen (1806). In 1883 verskyn Die Halleluja in Kaapstad onder die redaksie van Andrew Murray (1828-1917) van Wellington met die doel om die psalms en gesange toeganklik te maak vir die jeug. Hy staan ook ’n musikale inkleding na die voorbeeld van die Sankey-liedere voor.

Murray dra die versorging van die gesange gedeelte van die bundel op aan Rocco C de Villiers en waar nodig is nuwe melodieë geskryf. So het RC de Villiers ’n nuwe melodie HEUGELIJKE TIJDING in 1883 geskep. In die AGB (1944) word De Villiers se melodie aangegee as die eerste melodie en Crüger s’n as die tweede melodie vir die lied. In die 1978-bundel en die Liedboek (2001) is slegs De Villiers se melodie behou. Rocco Catorzia de Villiers (*27 Februarie 1838, Paarl; †21 Mei 1902, Paarl) het private skoolopleiding gehad en musiekonderrig by JS de Villiers (1827-1902). Ge- durende sy lang loopbaan as kerkmusikus was hy orrelis by die NG gemeente Caledon (1865-1887) en die Moedergemeente in die Paarl (1887-1902). Hy was bekend vir sy vurige orrelspel. In die begrafnisrede vir hom het prof A Moorrees melding daarvan gemaak dat De Villiers met sy voortreflike orrelspel die gees van die psalms en gesange treffend kon weergee. Hy het gewoonlik van die melodielyn af geharmoniseer, maar het wel ’n eie Koraalboek uitgegee waarin hy harmonisasies van die psalms opgeneem het. Hy het ook heelwat liedere, koorwerke, klavier- en orrelwerke ge- skryf. Hieronder is daar twee troumarse, ses preludes en ’n Fantasia pour l’orgue. Laasgenoemde is geskryf vir die inwyding van die orrel van die NG Kerk Noorder-Paarl.

Bronne
Cillié: 479-480; ADB; Hymnary.org; Malan I: 343-344.