Lied 257

Sections

Lirieke

1. O Heer, maak oop my hart se poort;
maak my ontvanklik vir u Woord
wat my u raad en wil verklaar.
Laat my diÈ Woord altyd bewaar.

2. U Woord, o Heer, deurboor en wond,
maar dit genees ook, maak gesond;
u Woord toon al ons sondes aan
en wys die weg wat ons moet gaan.

3. O Vader, Seun en Gees tesaam,
hoe heerlik is u Wondernaam!
O heilige Drie-enigheid,
ons loof U tot in ewigheid.

Geskiedenis

Teks
Die oorspronklike Duitse teks “Herr, öffne mir die Herzenstür” is geskryf deur Johann Olearius en dit is in sy boek Geistliche Singekunst (1671) gepubliseer. Dit het bestaan uit twee strofes, maar ’n tradisionele doksologie is later as derde strofe bygevoeg. J Baumbach (#153) het die teks in sy Cantate-bundel (1934) in Afrikaans vertaal. Dit is gewysig deur Izak de Villiers (#153) in die 1978-bundel en die teks is so oorgeneem in die Liedboek (2001).

Johann Olearius (*17 September 1611, Halle; †14 April 1684, Weissenfels) was die seun van ’n Lutherse superintendent wat as die stamvader van sy beroemde teologiese familie bekend staan. Op 11 jaar verloor hy albei sy ouers en word groot in die huis van die juris, Andreas Sartorius en later by laasgenoemde se swaer in Merseburg. Na sy skoolopleiding aan die Lateinschule, studeer hy aan die Universiteit van Wittenberg vanaf 1623 waar hy in 1627 ’n magistergraad ontvang. Hy verwerf in 1637 ’n lisensiaat in teologie en word superintendent in Querfurt. In 1643 word hy aangestel as hofprediker en biegvader vir die hertog August von Sachsen-Weissenfels in Halle. In dieselfde jaar promoveer hy in Wittenberg met ’n doktorsgraad in die teologie. Olearius was ’n ortodokse Lutheraan soos sy tydgenoot, Paul Gerhardt (#156). Hy was baie begaafd en skryf talle teologiese geskrifte. Geleidelik het sy gawe vir die dig van kerkliedere ook na vore gekom en skryf hy 240 liedtekste. Dit is deels in die gesangboek Geistliche Singekunst, und ordentlich verfassettes vollständiges Ge­ sangbuch (1671) wat hy saamgestel het, gepubliseer. Hierdie bundel bevat 1 218 geestelike liedere.

Melodie
Vir meer inligting oor die melodie HERR JESU CHRIST, DICH ZU UNS WEND, sien Lied 155.

Bronne
Cillié: 482; HCLBW: 327; KLEG: 234-235.