Lied 256

Sections

Lirieke

1. Laat klink die boodskap nog 'n keer
van heil en troos en vrede.
Vir eeue reeds is dit geleer -
laat hoor dit in die hede.
Die blye boodskap is gewis:
dat Jesus Heer en Heiland is.

2. Kom ons getuig dit nog 'n keer:
Die skuld is ons vergewe!
Laat ons met dankbaarheid Hom eer,
want Hy herskep ons lewe.
Die evangelie is gewis,
dat Jesus ons verlosser is.

Geskiedenis

Teks
Die teks is van onbekende Duitse oorsprong. ’n Afrikaanse vertaling, “O boodskap wat die siel bekoor”, is deur J Baumbach (#153) gemaak vir sy gesangboek Cantate (1934). Gerjo van der Merwe (#151) het Baumbach se teks gewysig in die 1978-bundel: “Ons wil die boodskap nog eens hoor”. Dit is weer gewysig in die Liedboek (2001) waar die aanvang nou lui: “Laat klink die boodskap nog ’n keer”.

Melodie
Die melodie MACH’S MIT MIR, GOTT, NACH DEINER GÜT (ook bekend as EISENACH, SCHEIN, LEIPZIG en STUTTGART) is geskryf deur Bartholomäus Gesius en het vir die eerste keer verskyn in sy liedboek Das ander Theil des andern newen Operis Geistlicher

Deutscher Lieder (Frankfurt an der Oder, 1605) waar dit die setting was vir die teks“Ein wahrer Glaub’ Gottes Zorn stillt”. ’n Aangepaste vorm van die melodie is voorberei deur Johann Hermann Schein vir sy lied “Mach’s mit mir, Gott” wat as trooslied by die begrafnis van Margarita Werner, vrou van die digter Caspar Werner, in 1628 geskryf is. Hy gebruik die melodie van Gesius as bron. Dit is gedruk op ’n blaadjie in 1628 (Leipzig) en is ingesluit in die tweede uitgawe van Schein se Cantional Oder Gesang­Buch Augspurgischer Confession (Leipzig, 1645). Dit is ritmies aangepas in die Liedboek (2001).

Bartholomäus (Barthel) Gesius (Gese, Göse, Göss) (*c 1562, Müncheberg, Frank- furt an der Oder; †1613, Frankfurt an der Oder) was die seun van raadslid Jacob Jese (Gese) van die graafskap Brandenburg. Gesius se naam verskyn reeds in 1575 in die register van die Universiteit van Frankfurt an der Oder. Van 1578 tot 1585 studeer hy, met onderbrekings, teologie aan hierdie universiteit. Hy was moontlik in 1580 vir ’n kort tydjie ook in Wittenberg. In die jaar 1582 word hy as kantor aangestel in Müncheberg en wy hom toe aan kerkmusiek en produseer geestelike komposisies. Hy was ook ’n beduidende digter en toonset van sy gedigte in 1587, maar hierdie werk het nie behoue gebly nie. In 1588 is hy weer in Wittenberg, waarskynlik om toesig te hou oor die druk van sy invloedryke Johannespassie. In 1593 word hy aangestel as kantor van die Marienkirche in Frankfurt – ’n pos wat hy beklee tot met sy dood.

Gesius se komposisies staan in die tradisie van die Lutherse humanisme en hy is ook beïnvloed deur die verspreiding van die Geneefse psalms. Naas sy passie en geestelike koorwerke (misse, motette) verskyn in 1601-1607 ook die vier- en vyfstemmige Geistliche Deutche Lieder. D. Mart. Lutheri: Vnd anderer frommen Christen in drie bande.

Johann Hermann Schein (*20 Januarie 1586, Grünhayn, Sakse; †19 November 1630, Leipzig) was ’n gerekende Duitse musikus en ’n tydgenoot van Samuel Scheidt (#434) en Heinrich Schütz (#569). Hy was die seun van ’n Lutherse pastor. Na sy vader se dood verhuis hy saam met sy moeder na Dresden waar hy vanaf 1599 tot 1603 in die koor van die hofkapel van die keurvors van Sakse gesing het. In 1603 word hy ’n leerling aan die Schulpforta-skool. Vanaf 1607 tot 1611 studeer hy teologie en filosofie aan die Universiteit van Leipzig en werk vir ’n rukkie hierna as privaat onderwyser en musiekdirekteur in Weissenfelz. In 1613 word hy die musiekdirekteur aan die hof van die hertog Johann Ernst van Sakse-Weimar en twee jaar later kantor aan die St Thomaskerk in Leipzig. Schein wy die res van sy lewe aan die verbetering en opheffing van kerkmusiek in die stad.

Sy bekendste publikasie was die Cantional oder Gesangbuch Augspurgischer Confession (1627) waarin 286 kerkliedere en 206 ander melodieë verskyn het – 57 hiervan was sy eie melodieë. Sy doel met hierdie publikasie was om alle moontlike melodieë wat in Sakse en besonder in die belangrikste kerke in Leipzig in gebruik was, te versamel. Die aantal en aard van sy komposisies getuig van sy veelsydigheid.

Dit sluit in koorliedere, Latynse motette, sekulêre en geestelike madrigale en die werk waarvoor hy veral bekend is Banchetto Musicale (1617) – ’n versameling van instrumentale suites. In sy laaste publikasie, die tweede uitgawe van die Cantional, voorsien hy aan orreliste en instrumentaliste wat die liedere moes begelei, ’n besyferde bas. Die werke is hoofsaaklik vier- en vyfstemmig. Heelwat van sy vyfstemmige verwerkings ontstaan as geleentheidswerke. Hieronder tel “Mach’s mir, Gott, nach deiner Güt” wat vandag nog wyd gesing word.

Bronne
Cillié: 436; CWH: 471; HC: 671-673; HCLBW: 483-484; www.bach-cantatas.com; KLEG: 272-273.